Vrede in die huis
Die vredeslelie (Spathiphyllum) is ʼn ikoniese huisplant wat aandag verdien vir sy amper onvernietigbare aard, pragtige donkergroen blare en spierwit bloeiskedes wat amper soos seile bo die loof dryf.
Dit word die vredeslelie genoem vanweë sy wit blomme wat gesien word as wit vlae – ʼn vredesimbool. Hoewel dit ʼn lelie genoem word, behoort dit eintlik tot die aronskelkfamilie en is afkomstig uit Suid-Amerika. Met hul baie min vereistes groei hulle goed in die huis. Kry ʼn helder verligte kol uit direkte sonlig, maak gereeld nat om die grond klam maar nie deurweek te hou nie en voed tweeweekliks in die lente en somer met ʼn vloeibare plantvoedsel. Verwyder dooie blomme en hou die blare stofvry deur dit van tyd tot tyd af te vee. Hulle hou van vogtigheid daarom kan jy dit tydens droër toestande aanvul deur gereeld te misspuit.
Probleemoplossing
Hoewel dit maklik is om dié meestal probleemvrye plante te kweek, hou beslis dop vir die volgende om hulle op hul beste te laat presteer.
Futlose groei
Vredeslelies is swaar voeders daarom is dit belangrik om hulle gereeld twee maal per maand te voed om hulle in ʼn goeie toestand te hou.
Geen blomme
Jy sal vind dat hulle goed in badkamers vaar, maar dalk nie so goed blom nie omdat die plek gewoonlik te donker vir hulle is. Hulle het lig nodig om behoorlik te blom daarom is dit te blom daarom is dit die beste om hulle te verskruif na ʼn plek met beter lig, met minstens twee uur helder daglig.
Potgeknel
Pot vredeslelies elke paar jaar oor in ʼn pot wat een grootte groter is of verdeel dit selfs en plant elke stuk in ʼn pot om nuwe plante te maak.
Plae en siektes
Witluise is een van die plae wat gereeld dié plante besmet. Hierdie suiginsekte maak dat die plant se blare geel word en doodgaan. Hulle word gewoonlik onder die blare aangetref waar hulle hul eiers lê en ʼn wit katoenagtige uitskeiding laat. Behandel dit deur dit met alkohol af te vee of ʼn geskikte insekdoder vir dié plaag te gebruik. Volg elke maand op totdat die probleem uitgeroei is.
Verwelkende loof
As die plant te veel water kry of dreinering swak is, kan die blare verwelk. Verminder natmaak tot slegs een maal per week en maak seker die water loop vrylik by die pot uit voor dit op sy plek in ʼn houer of op ʼn piering teruggesit word. As die grond nie goed dreineer nie, pot hulle oor in vars potgrond met bygevoegde klapperveen, perliet of vermikuliet om dreinering te verbeter.
Vredeslelies is deur LVG Plants gekweek en by kleinhandelafsetpunte en kwekerye verkrygbaar.