fbpx

Waterlelies

Read in English

Liggies drywende waterlelieblare op die water en die delikate voorkoms van die koppieagtige blomme wat skielik uit die modderige dieptes verskyn om bo hulle te sweef, kan die indruk wek dat dit dalk moeilik is om romantiese waterlelies te kweek. Dit is egter glad nie die geval nie!

Hoewel die familie Nymphaeaceae vyf genera en ongeveer 70 spesies geharde, tropiese waterlelies bevat, is dié wat ons plaaslik geredelik kan kry meestal die sterkgroeiende blouwaterleliespesie wat inheems in Suid-Afrika is en die pragtige Noord-Amerikaanse variëteite in ʼn versameling pragkleure, wat redelik gehard in gematigde en tropiese klimaatstreke is. Dié meerjarige waterplante raak rustend in gebiede met koue winters, terwyl hulle in warmer gebiede immergroen bly.

Hulle is vinnige groeiers wat vroeglente begin blom en tot die einde van die somer aanhou. Hulle het geronde, effens gekeepte, wasbedekte blare aan lang stingels wat uit kruipende, vlesige onderwaterstingels (risome) oprys. Elke geurige enkelblom het ʼn spiraalrangskikking van talle kroonblare en opvallende meeldrade.

Basiese groeivereistes

Waterlelies verkies om in stil water van tussen 30 cm en 90 cm diep te groei. Hulle hou nie van spuitfonteine naby of wind nie, en verlang minstens vyf uur direkte son per dag anders blom hulle nie.

Het jy geweet?

Jy het nie eers ʼn dammetjie of tuin nodig as jy van waterlelies hou nie. ʼn Draagbare waterfokuspunt soos ʼn groot keramiekpot sonder dreineergate of ʼn waterdigte houtvaatjie op ʼn sonnige balkon of patio sal ewe goed werk.

Opmerking: As jou waterlelie in ʼn houertipe waterelement bly, moet jy die plant af en toe uithaal en die waterfokuspunt skoonmaak om die water vars en suurstofhoudend te hou.

Wenke vir welige groei

As jy ʼn gepotte jong waterlelie by ʼn kwekery gekoop het, kan jy die volgende doen om dit tuis te laat voel in jou dammetjie.

  • As jy ʼn nuwe plant in ʼn dammetjie insit, kantel die houer effens om ʼn bietjie water te laat inloop en laat dit dan stadig in die dammetjie sak terwyl dit steeds teen ʼn hoek gehou word.
  • Sit die pot met die nuwe plant op bakstene of op ʼn onderstebo leë pot sodat dit aanvanklik net ongeveer 10 tot 15 cm onderwater is – dit sal vinniger groei verseker. Sodra nuwe groei verskyn, kan die “gestoelte” verwyder word sodat die pot op die bodem van die dammetjie of houer rus. Onthou, die plant moet uiteindelik met minstens 30 cm tot 40 cm water bedek word, of dit nou in ʼn dammetjie of houerwaterfokuspunt is.
  • As jou dammetjie ʼn grondbasis het en jy ongepotte lelies gekoop het, kan die plante in ʼn bioafbreekbare materiaal soos ʼn goiingsak gesit en met ʼn paar klippe geanker word om hulle onderwater te hou. Die sakke sal gou in die modder vrot en die lelies vrystel om na die oppervlak te groei.

Verdeling van waterlelies

Waterlelies vermeerder vinnig en kan elke twee tot drie jaar in die lente verdeel word. Hier is ʼn paar wenke oor hoe om hulle te verdeel en oor te plant.

  • Trek die plant uit of haal uit die houer waarin dit geplant is. Spuit die verstrengelde wortels af sodat jy duidelik kan sien waar ʼn nuwe uitloopsel aan die wortelstok (ondergrondse wortel) gevorm het.
  • Gebruik ʼn broodmes om die houterige risoom in stukke te verdeel met ʼn uitloopsel aan elk. Onthou, die verdelings moet elk ʼn stewige stuk van die oorspronklike risoom bevat en ʼn paar onbeskadigde wortels hê sodat hulle gou weer vinnig kan groei.
  • Sny al die ou blare van die risome af.

Oorpot van waterlelies

Berei eers ʼn grondmengsel voor voordat verdeelde waterlelies geplant kan word (hierdie resep is geskik vir alle waterplante). Meng saam 70% leemgrond, 15% kompos en 15% swaar kleigrond. Jy kan ou plastiekpotte met ʼn deursnee van ongeveer 15 cm tot 20 cm gebruik of spesiale planthouers by ʼn kwekery koop wat waterplante verkoop. Stewige sakke wat van lae skadunet of goiing gemaak is, werk ook goed.

  • Maak die pot halfvol grondmengsel en voeg ʼn stadig vrystellende misstoftablet of ʼn hand vol stadig vrystellende korrels by.
  • Plant die risoom teen ʼn hoek van 45°. Maak die pot vol grondmengsel, sodat die nuwe uitloopsel of groeipunt aan die risoom bo die grond is.
  • Bedek die grondoppervlak met ʼn laag gruis, maar wees versigtig om nie die groeipunt te bedek of te beskadig nie. Jy kan ook ʼn laag growwe riviersand gebruik. Albei sal voorkom dat die grondmengsel weggewas word of die water modderig maak.

Waterlelies om te kies

Hier is ʼn paar dagblommende gunstelinge wat swier sal verleen aan enige stuk water:

‘Almost Black’ – maroen tot rooipers dubbelblomme met goudgeel stingels.

‘Arc-en-Ciel’ – bont loof met pienk, wit en maroen vlekke.

‘Clyde Ikins’ – gelerige blomme met ʼn appelkoostint.

‘Fabiola’ – kougompienk blomme.

‘Joey Tomocik’ – ʼn blomryke lelie met diepgeel blomme.

‘Marliacea Carnea’ – amper wit tot dofpienk met opvallende meeldrade.

‘Mayla’ – uiters geurig met intense fuchsiapienk blomme en af en toe boergonjerooi blare.

‘Missouri’ – ʼn nagblommer met groot wit blomme.

Kontak Aqua Flora SA by info@aquaflora.co.za om meer oor waterlelies en leweransiers.

-->
The Gardener