Bestuur jou Tuin Waterslim
Hoewel ons land die 30ste droogste ter wêreld is, is die meeste van ons tuine nie met waterbewaring in gedagte beplan nie. In Suid-Afrika gebruik die landboubedryf, wat plantproduksie insluit, meer as 50% van die land se waterhulpbronne met waterverliese wat van 30% tot 40% wissel.
Waterbestuur is daarom uiters belangrik in die land, en tuiniers wat hul plante dikwels natmaak, dra nie hul deel tot die omgewing by nie. Dis nou tyd dat tuiniers strategieë onderneem om water die doeltreffendste te benut en waterbesparingspraktyke aanvaar om watervermorsing in hul tuine te verminder.
Besparingswenke vir Waterbestuur in jou tuin
1. ʼn Begrip van jou grondsoort
Deur te verstaan wat die grondsoort in jou tuin is, sal afloop minimaliseer en waterhouding maksimaliseer. Verdigte grond verminder poreusheid en waterhouvermoë en kom die meeste op kleigrond voor.
Sandgrond neem gou water op, daarom het water ʼn sterk vloeitempo. Maak ook meer dikwels nat omdat water vinnig deur sandgrond beweeg. Verhoog grondwaterretensie deur baie organiese materiaal soos kompos in te werk. Leemgrond is die beste omdat dit water om die plantwortels hou. Maak met ʼn matige vloeitempo nat, maar nie so gereeld as sandgrond nie.
2. Die aanbring van deurlaatbare plaveisel
Vergroot waterhouvermoë deur deurlaatbare plaveisel aan te bring sodat reënwater onder paadjies en ander harde oppervlakke in die ondergrond kan wegsyfer. Die gebruik van kompos as deklaag kan natmaak met tot 70% verminder.
Deurlaatbare plaveisel is ʼn onderhoudvrye tuinmaakkeuse wat geen jaarlikse aanplanting, natmaak en bemesting nodig het nie! As hierdie tuinmaakstyl vir jou geskik is, oorweeg dit om meer geplaveide gebiede in jou tuin aan te bring, byvoorbeeld ʼn inrypad, ontspanningsgebied rondom die swembad, ʼn toevoeging tot die patio of die vervanging van grasperk op plekke met swaar voeteverkeer soos deurlope.
3. Oorweging van die tuinhelling
Tuine wat teen steil hellings geleë is, is kwesbaarder vir oorstroming al met die helling af. Namate die reënseisoen naderkom, kan die natuurlike topografie van die tuin ook gebruik word om reënwater op te vang en in opgaartenks in te keer vir gebruik tydens droë tye.
4. Plantgroeperings (hidrosonering)
Dis noodsaaklik om plante met soortgelyke waterbehoeftes vir doeltreffende sonering saam te groepeer. Nie net nuwe tuine word tydens die ontwerp gesoneer nie, maar dit kan ook met plante in bestaande tuine gedoen word wat tydens hul rustyd na ʼn geskikter sone verskuif word.
Enige grootte tuin, van ʼn balkon tot ʼn meenthuistuin of ʼn tuin van ʼn paar acres, kan gesoneer word. Wat verander, is die skaal en grootte van die afsonderlike sones (drie potte op ʼn balkon kan elk plante van ʼn ander sone hê net soos ʼn groot tuin wat drie verskillende sones het).
ʼn Waterslim tuin is ʼn slim belegging wat tot verminderde onderhoud, volhoubaarheid op die duur en ʼn kleiner begroting lei.
5. Doeltreffende natmaakstelsels
Daar word verwag dat Suid-Afrikaanse somers warmer en droër sal raak met uiterste weergebeurtenisse soos fratsstorms en kitsvloede wat gereelder sal plaasvind as gevolg van klimaatsverandering. Diep natmaak moedig wortels aan om ondertoe te groei en die vog diep in die grond te benut.
Die plante is dan meer droogtebestand. Maak seker die water bereik die verwagte worteldiepte – 20 cm vir grasperke, groente en kruie; 60 cm tot 90 cm vir bome en struike (wat deur kapillêre werking na onder afgevoer word).
Laat die boonste 8 cm tot 10 cm grond uitdroog voor weer natgemaak word. Wanneer ʼn boom geplant word, sit ʼn waterpyp van onder die wortels tot net bo die grond in. Deur in die pyp nat te maak, sal die water direk na die boomwortels toe gaan en diep beworteling aanmoedig.
6. Deklaagtoediening
Die toediening van ʼn deklaag hou talle voordele vir waterbewaring en plantgesondheid in. Benewens minder verdamping, stabiliseer dit ook die grondtemperatuur, wat vir wortelontwikkeling en grondorganismes goed is en die ontkieming van onkruid voorkom deur die indringing van lig op grondvlak te beperk. Die voedingstowwe in die organiese deklaag word geleidelik aan die grond vrygestel.