fbpx

Hergebruik Gryswater Vir Waterbewaring

Waterskaarste raak wêreldwyd ʼn kwessie eerder as ʼn veraf saak. Dit word vererger deur deurlopende druk op die beperkte watervoorraad vanweë verstedeliking, bevolkingsgroei en die toenemende uitwerking van klimaatsverandering.

Volgens die International Water Management Institution word voorspel dat stedelike waterverbruik van 1995 tot 2025 met 62% sal toeneem. Met die bykomende bevolkingstoename en klimaatsverandering is dit moontlik dat daar in 2050 beslis ʼn tekort aan water sal wees. Om hierdie redes het dit gebiedend noodsaaklik geraak dat ons aanpasbare oplossings vind waarin ons die bestaande waterhulpbron in stand kan hou terwyl ons metodes soek wat die vraag na drinkbare water kan verminder.

Die hergebruik van gryswater raak ʼn gewilder oplossing vir stedelike waterbestuur omdat dit ʼn eenvoudige oplossing op die plek self bied en tog ʼn doeltreffende oplossing is om ons waterverbruikspatrone te verander. Die hergebruik van gryswater is belangrik omdat dit gelyktydig twee dringende kwessies kan aanpak: omgewingsvolhoubaarheid en waterskaarste.

Wat is Gryswater?

Gryswater is afvalwater wat vir ander doeleindes hergebruik kan word. Gryswater maak tot 70% van alle residensiële geboue se waterverbruik uit. Hoewel gryswater en swartwater tipies vermeng word, kan die skeiding van die twee vir gryswater op sy eie verskeie geleenthede vir hergebruik bied soos die spoel van toilette en tuinbesproeiing. Dit kan boonop die gebruik van drinkbare water in ariede gebiede met tot 30% vir huishoudings help verminder. Voorts kan die besparing van geld op tuinbesproeiing deur hergebruik huishoudelike spaargeld met 40% verhoog.

Gryswater kan van die bron versamel word deur ʼn pypstelsel te installeer van ʼn afvoerpyp van die badkamer/kombuis na die tuin of vir die spoel van die toilet. Hieraan kan ʼn gryswaterbehandelingstelsel soos ʼn vleiland en ʼn groen muur aangebring word om groter deeltjies, voedingstowwe en pompbehandelde water deur besproeiingspype te help filtreer.

Swartwater, daarenteen, is toiletwater wat ontlastingstowwe en urien bevat. Ontlastingstowwe is ʼn broeiplek vir skadelike bakterieë en patogene wat siektes kan veroorsaak.

Voordele van die gebruik van Gryswater in jou tuin

Waterbewaring: Die gebruik van gryswater bied ons die geleentheid om gemiddeld ongeveer 35 tot 234 liter gryswater (per persoon per dag, na gelang van die leefstyl) te gebruik wat vir tuinbesproeiing of toiletspoeling doelaangepas kan word waar mense nie daarmee in aanraking kom nie.

Koste-effektief: Die gebruik van gryswater is goedkoop en om hierdie rede kan dit waterrekeninge drasties verlaag terwyl in ʼn groener toekoms belê word.

Welige Landskappe: Kyk hoe jou tuin gedy! Gryswater verskaf noodsaaklike voedingstowwe soos onderskeidelik totale stikstof (2,75 mg/L tot 21,00 mg/L) en totale fosfor (0,062 mg/L tot 57 mg/L) wat hoofsaaklik van die kombuis (kombuisreste/-afval) en handwasbakke (seep) kom. Hierdie voedingstowwe voed ons grond en plante, wat gesonder groei en sterk blomme bevorder.

Droogteveerkragtigheid: Doeltreffende watermaatreëls (die hergebruik van gryswater) maak jou tuin veerkragtiger teen waterskaarste en droogtetoestande, en verseker volgehoue gebruik tydens uitdagende tye.

Veilige en Volhoubare gebruik van Gryswater

  • Daar is bewys dat gryswater ʼn moontlike gevaar vir mensegesondheid inhou. Hanteer dit versigtig om die gevaar van besmetting te verminder. Gebruik handskoene wanneer gryswater hanteer word.
  • Gryswater wat moontlik besmetlike patogene bevat, moet nie vir oorhoofse besproeiing gebruik word nie. Dit sluit water in wat gebruik is om babadoeke of vuil lakens te was.
  • Gebruik gryswater binne 24 uur na versameling om reuk en bakterieë te verminder.
  • Ondergrondse besproeiing is die beste natmaakmetode omdat dit teen moontlike mikrobiologiese gesondheidsgevare beskerm.
  • Om versuipte grond en wortelskade te voorkom, is dit belangrik om gryswater egalig in jou landskap te versprei (en nie net op een kol nie).
  • Die gebruik van sproeibespuiting word nie aanbeveel wanneer met gryswater besproei word nie. Dis hoofsaaklik vanweë die groter gevaar van om mense aan gryswater bloot te stel.
  • Gebruik gryswater, waar moontlik, nie vir ʼn onbepaalde tyd op dieselfde plek nie. Dit kan tot die versameling van verskillende komponente lei wat in gryswater aangetref word en kan ʼn nadelige uitwerking op plantgesondheid hê.

Water Wise het ʼn eenvoudige en koste-effektiewe oplossing ontwikkel om huishoudelike gryswater vir gebruik in die landskap/tuin te behandel. Hierdie ondergrondse horisontaal geboude laekostevleilandstelsel is ontwerp om in die tuin en stedelike landskappe aangebring te word en kan aangepas word om te pas by die gryswatervolume wat gelewer word. Die ontwerp van hierdie stelsel verseker dat daar geen gryswaterpoele op die oppervlak vorm en geen reuk of watergedrae plae soos muskiete is nie.

Toegang tot die gids en die aflaai daarvan is gratis deur na die Rand Water-webwerf te gaan, op die Waterslim-logo te klik en onder die Green Industry-oortjie te kyk. Klik op die skakel vir meer inligting: https://waterwise.co.za/site/industry/Water-Wise-Guide-to-DIY-Constructed-Wetlands/

#WeesWaterslim

wetland
-->
The Gardener