Onderhou Kikoejoe Waterslim
Die grasperk en ander perkgrasse word dikwels in veral die lente en somer voor die aanvang van die reënseisoen as hoë waterverbruikers beskou. Kan ʼn grasperk egter waterslim benut word? Water Wise verduidelik slim waterverbruik met kikoejoe.
Kikoejoe
Pennisetum clandestinum, wat algemeen as kikoejoe bekend is, is die perkgras wat meestal in Suid-Afrika gebruik word. Dis inheems in Oos-Afrika en het ʼn aggressiewe groeiwyse, wat beteken dit kan indringend raak en inheemse grasse verdring. Kikoejoe is droogteverdraagsaam, goedkoop en maklik om te onderhou omdat dit op plekke groei waar die meeste grasse nie kan nie. Soms word dit egter as die hoogste waterverbruiker vergeleke met ander algemeen gebruikte perkgrasse beskou. Kikoejoe word meestal as kitsgras vir sportvelde, gholfbaankonstruksie en rehabilitasie aangewend. Dit het ʼn matwortel- en kruidagtige groeiwyse, en groei nie goed in skadugebiede nie.
Rustoestand by grasperk
Rustoestand verwys na ʼn tydperk waartydens grasgroei tydelik afneem en die gras ʼn seisoen lank in ʼn rustoestand ingaan. Kikoejoe gaan altyd tydens die winter in ʼn rustoestand in wanneer die gras bruin word. Bruin kikoejoegras beteken egter nie dis dood nie, dit verkeer bloot net in ʼn rustoestand.
Rustende kikoejoe hoef nie natgemaak te word nie. ʼn Grasperk in ʼn rustoestand “rus” net en bewaar energie vir die nuwe groeiseisoen. ʼn Rustoestand is vir ʼn grasperk ʼn natuurlike manier om vog en voedingstowwe in koue en droë seisoene te bewaar.
Waterslim natmaak van kikoejoe
- Moenie kikoejoe natmaak as dit rustend is nie.
- Wag tot dit begin reën voor jy jou kikoejoe in ʼn rustoestand wakker maak.
- Nuut aangeplante kikoejoe wil net meer water hê as dit vestig. Gee geleidelik minder water na hierdie fase.
- Maak in die somer soggens vroeg of smiddae laat nat omdat minder water dan weens verdamping verlore gaan.
- Gebruik ʼn pistoolspuit as kikoejoe met ʼn tuinslang natgemaak word.
Voordele van kikoejoe
- Vinnig groeiend.
- Groei in volson en in die meeste grondsoorte.
- Bestand teen swaar voeteverkeer en met ʼn blywende groeivorm.
- Oorleef lang droë tye en is droogtebestand.
- Beter bestand teen ryp as sommige van die warmseisoengrasse.
- Uiters effektief vir erosiebeheer in sierlandskappe.
- Vinnige somergroeitempo met hoë leweringspotensiaal.
- Uiters mededingend, onderdruk onkruid.
Nadele van kikoejoe
- Moet gereeld gesny word.
- Hoë verdampingskoers.
- Kan indringend en moeilik beheerbaar raak.
Daar is baie ander maklike maniere om water te bespaar. Besoek die Water Wise-webwerf deur na die Rand Water-webwerf te gaan en vir meer inligting op die Water Wise-logo te klik.
Wees altyd #Waterslim!