fbpx

Vetplante: Waterstryderhelde

Read in English

Die natuur het plante van ʼn aantal aanpassings voorsien om water te bespaar. As jy hierdie kenmerke raaksien, weet jy jy het ʼn waterstryderwenner gevind.

Vetplante

Wat plante betref, is ʼn vetplant ʼn plant met vlesige blare of stingels wat dit benut om water op te gaar. Elke blaar is ʼn klein JoJo-tenkie wat altesaam genoeg water opgaar om die plant van een reënval tot die volgende te laat oorleef. Omdat ons in ʼn ariede land woon, is daar honderde vetplantspesies wat by ʼn mens opkom. Hier is egter drie vetplante om voor op die uitkyk te wees.

Aloe: Van die piepklein tarentaalaalwyn (Aristaloe aristata) tot die enorme boomaalwyn (Aloidendron barberae) is daar ʼn aalwyn vir omtrent elke rol in die tuin, hoewel die meeste tuiniers iets tussen hierdie twee verkies. Die skouspelagtige hibriede soos Aloe ‘Porcupine’ en A. ‘African Sunset’ is uiters gewild.

Crassula: Daar is meer as 200 Crassula-spesies, hoewel die gewildste tuincrassulas in Suid-Afrika die kerkei (C. ovata) en die skaduplakkie (C. multicava) is. Eersgenoemde is ʼn mooi struik, terwyl laasgenoemde ʼn pragtige klein grondbedekkertjie is.

Portulacaria: Die spekboom (Portulacaria afra) is ʼn uiters gewilde struik tot klein boompie met delikate dofgroen blare aan rooi stingels wat tot grys verouder. Die blare is ook eetbaar! Dis in ʼn paar vorms, van regop tot spreidend te kry, en sommige variëteite het dof amper goudkleurige blare.

Grys of silwer loof

Grys of silwer loof word dikwels by droogtebestande plante gesien omdat die ligter kleur as ʼn natuurlike sonblokkeerder optree wat help om die sonlig te weerkaats, wat sodoende blaartemperatuur verlaag en waterverlies verminder. Dit word dikwels saam met ander waterbesparende kenmerke soos sukkulente blare gevind. Hier is drie grys of silwerkleurige plante wat jou nie tydens die warm somer in die steek sal laat nie.

Coleus neochilus: Die rotstuinspoorsalie, wat tevore as Plectranthus neochilus bekend was, moet een van die taaiste plante daar buite wees. Die pragplant is ʼn lieflike grondbedekker in halfskadu of volson.

Dymondia margaretae: Die silwertapyt is, ja, silwer en ja, dit vorm ʼn mooi tapyt. Die loof is besonder mooi, hoewel heldergeel madeliefies ook in die lente en somer verskyn.

Salvia aurea: Hierdie inheemse salie is algemeen as die strandsalie bekend en het ook die wetenskaplike pseudoniem Salvia africana-lutea. Dit word vinnig ʼn struik van ongeveer 2 m hoog met lieflike bronsoranje blomme.

Ander kenmerke

As jy by net vetplante en silwer of grys plante wil bly, sal jy steeds nog genoeg keuses hê om talle tuine vol te maak, hoewel daar ook ander interessante waterbesparende kenmerke is om voor op die uitkyk te wees:

Wasagtige blare: Wasagtige blare verminder waterverlies in die son en wind. Kalanchoes is een plantgroep wat dit doen, en dis ook die rede waarom die uiters gewilde huisplant, Kalanchoe blossfeldiana, soveel nalatigheid oorleef.

Hare op blare: Hare op blaaroppervlakke is nog ʼn kenmerk wat ontwikkel het om waterverlies te beperk – hulle doen dit deur lugbeweging oor die blaaroppervlak te vertraag. ʼn Voorbeeld van so ʼn plant is die silwerboom (Leucadendron argenteum).

Knolle of bolle: Hierdie een word dalk nie so maklik raakgesien nie, hoewel plante dikwels hul water onder die aardoppervlak weg van die son se hitte af bêre. Die immer gewilde Agapanthus is een plant wat dit doen, terwyl Dietes nog een is wat op groot skaal in moderne landskapuitleg gebruik word.

Vir meer inligting besoek www.lifeisagarden.co.za

-->
The Gardener