fbpx

Volhoubare oplossings: Hergebruik water

Read in English

Wanneer jy ook al water gebruik, maak seker jy gebruik dit nie net een keer nie. Hier is ʼn paar maniere waarop jy elke druppel kosbare H2O kan rek.

Die hoeveelheid water op die aarde is beperk wat beteken dat elke druppel wat ons gebruik al tallose kere tevore gebruik is en weer tallose kere gebruik sal word. Dis waarom dit belangrik is om dit onbesoedel te hou en dit so verstandig moontlik te gebruik. Hier is ons topdrieherbenuttingswenke:

Groentewater

Kombuiswater word nie vir gebruik in tuine aanbeveel nie – buiten die water wat jy gebruik om groente te kook of te stoom. Dis uitstekend vir die tuin omdat dit inderdaad voedingstowwe bevat wat uit die groente uitgeloog het.

As jy dus volgende keer die kinders op gekookte broccoli trakteer, hou die water, laat dit afkoel en maak dan jou plante daarmee nat.

Gryswater

“Gryswater” verwys na die betreklike skoon afvalwater wat van wasbakke, storte en wasmasjiene kom. Dis nie die water wat kom van toilette en skottelgoedwassers, of kombuiswater wat goed soos olies en vette bevat nie – wat swartwater genoem word.

Gryswater is perfek vir gebruik in die tuin, maar die eerste stap is om dit te oes. Die eenvoudigste manier is om dit uit die bad te skep of jou stortwater in ʼn diep houer op te vang, anders kan jy die afvalwater van baddens, wasbakke, wasmasjiene, ensovoorts, in ʼn tenk of direk met ʼn tuinslang in die tuin uitkeer.

Gryswaterwenke

Kies toepaslike skoonmaakprodukte: Gebruik omgewingsvriendelike en bioafbreekbare sepe, sjampoes en skoonmaakmiddels.

Lei gryswater na plantwortels toe: Gryswater moet na die grond om die wortelsone van plante eerder as na die blare gelei word.

Gebruik gryswater op nie-eetbare plante: Daar word gewoonlik aanbeveel dat gryswater op sierplante, bome en struike eerder as op eetbare gewasse gebruik word.

Wissel natmaakgebiede af: Wissel die gebruik van gryswater vir besproeiing met vars water af om die moontlike opbou van sout in die grond te voorkom.

Vermy oorbenatting: Maak seker die gryswater gaan nie elke keer na presies dieselfde plek toe nie.

Hou Dit In ‘n Houer

Die beste manier om water te bespaar, is om seker te maak dit gaan na die plek toe waar dit nodig is, en die maklikste manier om dit te doen, is met houertuine. Houertuine het oor die algemeen uitstekende grond, word dig beplant met plante met soortgelyke waterbehoeftes en is daarom waterslim.

Sommige houers het slim reservoirs onder wat water versamel vir die plantwortels om te benut wanneer hulle dit nodig het. Ander houers het deksels wat verdamping verminder, ʼn kweekhuiseffek skep waar die water voortdurend in die geslote omgewing “herwin” word.

Gebruik ʼn gehaltepotgrondmengsel tydens grondvoorbereiding vir ʼn houer en oorweeg dit om produkte soos waterabsorberende kristalle, vermikuliet en goeie ou kompos by te voeg.

Vir meer inligting besoek www.lifeisagarden.co.za

Advertisements
-->
The Gardener