![](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2019/10/microgreens-1.jpg)
Van groenbemesting tot Mikrogroente
![](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2019/10/microgreens-1-226x300.jpg)
Die wintersaaityd is nou omtrent verby behalwe in subtropiese gebiede waar die seisoen eintlik nou eers begin! Dis tyd om gereed te maak vir die winter en die uitdagings wat dit meebring
Goed om te weet
Deur groenbemesting tydens planttyd met kompos te meng word organiese materiaal langdurige opgebou wat al die nodige voedingstowwe vir die komende seisoen behoort te verskaf.
Groeiwenke
- Saai dig in goed voorbereide grond en hou die grond klam totdat die plante ontkiem het.
- Dit is onnodig om uit te dun, want hoe digter die bedekking is, hoe beter is dit. l Werk die plante in die grond in voor hulle begin blom.
- Sommige tuiniers voed die grond met kompostee voor hulle die plante inwerk omdat die tee dit help om vinniger af te breek.
- Laat die grond drie weke rus om die bemesting te laat afbreek sodat stikstof vir die plante beskikbaar is.
![](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2019/10/microgreens-2-300x258.jpg)
Die voordele hiervan
- Groen dekgewasse vervang die stikstof in die grond wat gedurende die seisoen uitloog.
- Mosterd en ander koolgewasse dien as bioberoker wat gebruik word om grondgedraagde plae en siektes te onderdruk. Die plante maak inhiberende chemikalieë, wat ook as sekondêre metaboliete bekend staan, wat vrygestel word wanneer die plante in die grond ingewerk word.
- Die inwerk van organiese materiaal soos groenbemesting in die grond stimuleer mikroörganismes om dit te verteer vir plante om te gebruik en hou die grond gesond.
- Hulle verbeter grondgehalte deur te help om die grond te stabiliseer en afloop te voorkom. l Plante bied in die winter skuiling vir voordelige insekte.
Die beste saaityd is van Maart tot April, maar dit kan tot vroeg Mei verleng word vir veral gewasse soos lusern, mosterd en bokwiet. Ander plante wat as groenbemesting gekweek kan word, is rooi- en witklawer, wilde-ertjies, swarthawer, serradella, komkommerkruid, smeerwortel, boerbone en ertjies.
Ontwerperblaargroente
Nog ʼn manier om jou grond te laat rus, is om mikrogroente te kweek. Dit is groente wat geoes word wanneer dit twee tot drie ware blare het en as garnering gebruik of bygevoeg word by omelette, slaaie, toebroodjies, voupakkies of enigiets anders wat die verbeelding aangryp. Kweek dit dig, soos ʼn dekgewas, wat natuurlik vinniger oesbaar is en die grond minder uitput as ʼn gewas met ‘n lang groeityd soos kool, broccoli of blomkool. Kweek dit in ʼn sonnige bedding of saailaaie. Saailaaie is ʼn uitstekende keuse vir tuine wat in die winter skaduryk word omdat ʼn sonnige, beskutte plek net vir hulle gevind hoef te word.
Wat is mikrogroente?
Enige winterblaargroente kan as mikrogroente gekweek word. Oes dit wanneer die eerste ware blare verskyn of laat dit drie of vier blare maak. Hoe kleiner die blaartjies is, hoe geuriger is hulle. Behandel mikrogroente as ʼn gewas wat afgesny word en weer uitgroei, of oes alles op ʼn keer en saai nog ʼn saaisel.
Hoe om dit te kweek
Dit groei soos gewone groente in volson, ook dié in saailaaie. Saai mikrogroente opvolgend vanaf Mei deur die winter vir ʼn deurlopende voorraad. Daar is verskillende maniere om dit te benader:
- Saai ʼn saadmengsel breedwerpig in ʼn bedding. Begin oes na ongeveer 10 tot 14 dae. Sny daagliks af na gelang van jou behoeftes. As te veel oesbaar is, laat sommige plante tot die kleinblaarstadium groei en ʼn paar bekwaam word.
- Saai volgens variëteit in beddings, en hou ʼn bepaalde variëteit in ʼn ry sodat dit nie ʼn probleem is as vinnige gewasse vinniger as die stadiges groei nie. Sodra ʼn mikrogroentegewas afgeoes is, werk die grond om, sit meer kompos by en saai die volgende saaisel.
- Saai in groot saailaaie. Gebruik ʼn saailingmengsel en bemes vooraf deur met Nitrosol of Margaret Roberts Organic Supercharger nat te maak sodat die grond klam is. Saai saad in rye, bedek liggies met grondmengsel, druk vas, maak versigtig nat en bedek die hele laai met kleefplastiek.
![](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2019/10/microgreens-3-300x229.jpg)
Mikrogroentemengsels
Wat lekker van mikrogroente is, is dat amper enigiets gebruik kan word. Kruie en groente kan ook gekies word wat ʼn mengsel van verskillende kleure, teksture en geure bied.
Beproef enige van die volgende: Marog, roket, basilie, basilie ‘Dark Opal’, radyse, beet, koolraap, broccoli, kool, krulkool, snybeet, spinasie, kerwil, koljander, bronkors, dille, blaarslaaimengsels (veral eikeblaarslaai), andyvie, vinkel, mizuna, reuserooimosterd en groenertjies.
Goed om te weet
Dis veel makliker om volgens dié metode opvolgend te saai en jy kan weekliks saai vir ʼn deurlopende voorraad.