Geurige Somerblomme



‘n Tuin gaan nie net oor wat ons alles sien nie, maar ook oor wat ons ruik. Die beste geurige plante verrig hul towerkrag in die somer.
Die vars geur van kruie, die delikate geur van rose, die eksotiese aroma van frangipani en die bedwelmende reuk van jasmyn is maar net ‘n paar van die geure wat plante vir ons inhou.
Ironies genoeg, is plantgeure nie daar tot voordeel van die tuinier nie (hoewel ons nogal emosioneel daaroor kan raak aangesien ‘n plant se geur soms ‘n herinnering aan iemand of iets in ons wakker maak), maar eerder ‘n noodsaaklike vorm van kommunikasie tussen plante in ‘n chemiese taal wat bestaan uit vlugtige stowwe wat verdamp en deur die lug dryf om bestuiwers te lok. Dit is ‘n slim meganisme om oorlewing en die produksie van vrugte of sade te verseker.
Geen plantsoort produseer dieselfde geur nie. Daar is dié plante wat blomme het wat in die dag, wanneer dit warm en sonnig is, met ʼn uitgesproke geur vorendag kom om sodoende bestuiwers soos bye en skoenlappers te lok. Dan is daar dié met ‘n sterker, verleideliker geur wat teen skemer of saans geruik kan word, om die bestuiwers soos motte en vlermuise, wat in die donker werk, te lok.
Blomsoet en vrugtig
Dit is nie verbasend dat die woord ‘blommegeur’ dadelik die roos in ons gedagtes optower nie. Enigiemand met ‘n romantiese hart, sal wanneer hulle ‘n bos rose ontvang, instinktief hul neuse diep in die hart van die blomme steek om hulle reuk te kry. Maar deesdae, met die hibridisering van moderne rose, konsentreer telers nie meer op die geur as die hoofkenmerk van die roos nie, maar eerder op siekteweerstand, herhaalde bloei en ‘n langer vaaslewe vir roosstingels.
David Austin® se Engelse rose
Deur geurige, maar eenmalige-blom ou rose met herhaaldeblom, moderne rose te kruis, het die Engelse roosteler, David Austin, begin om ‘n heeltemal ander reeks tuinrose te ontwikkel wat ‘n tipiese roosgeur het, maar ook oor die bekoorlike vierdelige blomme van die outydse tipe rose beskik. Hy het hulle Engelse rose genoem.
Ons Topkeuse van Engelse rose
‘Roald Dahl’ – Sagte oranje-rooi knoppies, met ʼn medium-grootte roset wanneer oop, in perfekte appelkoos. ‘n Robuuste roos met ‘n heerlike vrugtige tee-geur. Dit sal ‘n wonderlike roosheining maak en is perfek vir ‘n groot houer.
‘Jude The Obscure’ – Sagte geel blomme met ‘n sterk, vrugtige geur. Baie vrygroeiende struik met groot, regop, kelkblomme.
‘Queen of Sweden’ – Pragtige knoppies wat verander in half-geslote koppies as hulle oopgaan, en uiteindelik breë en vlak koppies oplewer wat opwaarts wys met ‘n mirre geur. Die kleur begin as ʼn sagte appelkoospienk, en verander geleidelik na sagte pienk.



Frangipani
Die geur van die baie gewilde Plumeria rubra wat algemeen bekend is as die frangipani, is op sy mees betowerendste teen skemertyd. Dit is ‘n klein tuinboompie, geskik vir tropiese en subtropiese streke, maar wat ook redelik suksesvol groei in gematigde klimate en die winterreënvalstreek van die Wes-Kaap. Dit is bladwisselend met ‘n spreidende groeiwyse en stewige, sappige stingels wat van die lente tot herfstyd met langwerpige blare oortrek is.
Hierdie boom blom maande aaneen in die somer. Die romerige wit blomme met hul geel kele het ‘n warm, soet, tropiese geur wat ‘n mengsel van jasmyn, katjiepiering, sitrus en speserye bevat. Die blom dra die simboliese betekenis van verwelkoming, so plant hierdie pragtige boom by jou tuinhekkie.
Meer om te weet oor Frangipani
- Lid van die noem-noemfamilie, (Apocynaceae).
- Hibride in ‘n reeks blomkleure, (wat plaaslik skaars kan wees, maar dis die soektog werd!)
- Nie kieskeurig oor grond nie, solank dit goeie dreinering insluit.
- Redelik droogtebestand.
- Groei maklik uit stamstegge wat in die winter geneem word. Laat hulle uitdroog voordat hulle in ‘n goeddreinerende medium wortelskiet.
- Die blomme kan in ‘n vlak waterbak dryf en jou huis vul met hul wonderlike geur.
LEES MEER: Leer oor meerjarige plante vir fokus en tekstuurkontras
Katjiepiering
‘n Katjiepiering (Gardenia) is bekend as die blom van die liefde en gee betekenis aan enige soort liefde, hetsy of daar romantiese bedoelings is of nie. Die spierwit enkelvoudige- of dubbelblomme, wat deur blink, donkergroen blare ondersteun word, is dag en nag gegeur met ‘n swaar, soet geur met klapperondertone. Dit is baie geliefd onder motte in die nag. Katjiepierings het ‘n lang blomseisoen, van laat lente tot herfs met hul hoofblomseisoen rondom Kerstyd.
Daar is tans baie spesies en varïeteite van katjiepierings regoor die wêreld in verbouing. Hulle leen hulle goed daartoe uit om in ‘n mooi pot op ‘n gesellige patio geplant te word waar lang en bedompige someraande deurgebring word.
Kies hierdie Katjiepierings
Gardenia augusta ‘Aimee Yoshiba First Love’ – Uitsonderlike groot, wit dubbelblomme wat sterk gegeur is. Die plant is ‘n goedafgeronde en regop, welige struik.
Gardenia augusta ‘Impulse’ – Enkel-blommende katjiepiering met ‘n dwerggroeivorm wat ligte snoei verg om dit welig te hou.
Gardenia thunbergia (witkatjiepiering) – Inheemse katjiepierings is ewe geurig. Hulle is groot struike of klein boompies met ‘n strukturele en karaktervolle voorkoms wat ook dekoratiewe vrugte bevat. Die witkatjiepiering kom langs die Oostelike kus van Suid-Afrika naby Grahamstad tot by Kosibaai in KwaZuluNatal voor.
Meer om te weet oor Katjiepierings
- Katjiepierings hou van warm, vogtige tuine in subtropiese streke, maar sal ook in koeler klimate in potte groei as hulle teen koue winde en ryp beskerm word.
- Oggendson en middagskadu in die somer is ideaal vir katjiepierings.
- Wanneer die struike blom, kan katjiepierings vir kort tydperke in potte binnenshuis geskuif word en in vertrekke met baie natuurlike lig geplaas word.
- Die grond moet ‘n suur, ligte en goed dreinerende palmveen-gebaseerde medium hê wat verryk is met ‘n handvol beenmeel en stadigvrystellende kunsmis.
- Maak gereeld nat, maar nie oormatig langs die basis nie. Moenie houers in water laat staan nie aangesien dit sal veroorsaak dat die plante sterf.
- Geel blare kan ‘n teken wees van ‘n magnesium-tekort. Korrigeer dit deur ‘n dosis wateroplosbare Trelmix (‘n mikro-element tonikum) in die lente toe te dien.
- Voed katjiepierings gereeld met ‘n kunsmis vir suurliefhebbende plante.
- Verwyder dooie en verlepte blomme gereeld.



Madagaskar-jasmyn
Marsdenia floribunda is ‘n lid van die Apocynaceae-familie en word geklassifiseer as ‘n kragtige klimmer met baie sterk stingels wat ‘n stewige traliewerk nodig het om aan vas te hou. Dit is nie ‘n klimplant wat normaalweg in die tuin geplant word nie, maar wat eerder as ‘n baie eksotiese potspesimen in ‘n beskermde binnehof, kweekhuis of onderdakpatio gekweek kan word. Die blare is groot, ovaal en blink en die klein trompetvormige, wasagtige blommetjies is spierwit met ‘n swaar en ryk jasmyngeur. Volwasse plante sal ook groot vrugte produseer. Jare gelede is die blomme dikwels in bruidsruikers gebruik, vandaar nog ‘n algemene naam, bruidsblom. Die ou botaniese naam vir Madagaskar-jasmyn is Stephanotis floribunda.
Hierdie plant kan uitdagend wees, aangesien dit baie spesifieke behoeftes het. Die belangrikste een is dat hitte met hoë humiditeitsvlakke in die somer gekombineer moet word.
Meer om te weet oor Madagaskar-jasmyn
- Die beste ligging is in ligte skadu of baie helder lig naby ‘n sonnige venster.
- Die potmedium moet suur wees en baie goed dreineer. Gebruik ‘n palmveen-gebaseerde mengsel en voeg perliet of growwe riviersand by, of gebruik ‘n gespesialiseerde potmedium wat vir fynbos soos proteas gebruik word.
- Hierdie jasmyn hou daarvan om wortelgebonde te wees.
- Bedek met ‘n suur deklaag van gemaalde bas en vervang dit gereeld.
- Voed maandeliks in die lente en somer met ‘n kunsmis vir suurliefhebbende plante.
- Gee net water wanneer die grond in die somer droog voel en hou droër in die winter.
- Wanneer die humiditeit laag is, moenie in die versoeking kom om meer water te gee nie. Missproei die plant eerder of plant dit naby ʼn waterelement, plaas dit op ʼn piering met water in waarop los klippies geplaas is; of maak die beton van die vloer waarop dit staan, nat. Dit sal in die winter in ‘n droë atmosfeer en met baie min water oorleef.
- Wanneer dit te welig word, snoei dit laat in die winter om die grootte te beheer. Wees versigtig en beskerm jou hande aangesien dit ‘n melkerige plantsap het wat jou vel kan irriteer as jy daarmee in aanraking kom.
Verbleikblom
Brunfelsia pauciflora ‘Floribunda’ kom van Brasilië, en omvat al die goeie eienskappe van ‘n geurige struik met sagte skakerings van immer veranderende blomme, romantiese geure en welige, groen loof. Hierdie lid van die Solanaceae-familie (met die Engelse volksnaam Yesterday, Today and Tomorrow), het ‘n RHS-toekenning van Award of Garden Merit verwerf.
Dit word oortrek met verskillende kleure van dieppers, lila en wit blomme, wat almal gelyktydig op die langbloeiende struik gedra word. Alhoewel brunsfelsia met die lente geassosieer word, kan dit enige tyd in die somer blom as dit van sy ligging hou. Dit sal ‘n wolk van aroma verskaf wanneer die geur snags vrygestel word, en dié geur wissel van ‘n warm muskus tot ‘n skerperige naeltjie geur.
Meer om te weet oor Brunfelsia
- Brunfelsia groei baie goed in koeler plekke aan die suidelike kant van die huis, waar hortensias, asaleas en kamelias ook floreer.
- Grond moet klam, ryk en effens suur wees met ruim hoeveelhede kompos bygevoeg – verskaf ook ʼn deklaag van verrotte dennenaalde of gemaalde bas.
- Maak gereeld nat in die somer en gee minder water in die winter.
- Gee ‘n lentedosis mikro-element kunsmis soos Trelmix om vergeling van blare te voorkom en voed dwarsdeur die somer met Starke Ayres se Acid Loving Plant Food.
Treurbruidsbos
Pavetta lanceolata is ‘n groot immergroen struik of klein boompie (2 m x 3 m hoog) wat wyd verspreid voorkom in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga. Dit is ‘n lid van die koffiefamilie, Rubiaceae. Die sytakke het ‘n treurende voorkoms en is dig gepak met blink en leeragtige, donkergroen blare wat ‘n skerp aartappelreuk het wanneer dit fyngedruk word.
Massas vier-blaar, buisvormige blomme wat aan die punte van takke gedra word, oortrek die plant van September tot Januarie, en bereik ‘n hoogtepunt gedurende Kerstyd. Hulle het ʼn soet geur wat bedags skoenlappers lok en heuningbye met nektar voer. Snags word motte, wat die bestuiwingsproses verder aanvoer, gelok. Die blomfase word opgevolg deur die verskyning van talle ertjie-agtige bessies, wat ‘n gunsteling is vir vrugte-etende voëls.
Hulle help dikwels om die klein sferiese sade naby die moederplant te versprei. Dit is nie ongewoon om ‘n oes van jong saailinge onder die beskerming van die boom te vind nie. Dit kan as ‘n heining of skermplant gebruik word en vertoon pragtig in houers.
Meer om te weet oor Treurbruidsbos
- Die beste posisie is volson tot ligte skadu.
- Grondtipe is alkalies tot neutraal.
- Gee baie water tot gevestig.
- As jy ‘n jong plant wil oplei as ‘n spesimenboom vir ‘n klein tuin, snoei die onderste takke af en sny die punte van die oorblywendes terug tot ongeveer 3 of 4 knope.



Vars en kruieagtig
Sommige kruidagtige struike en kruie soos roosmaryn, laventel, kruisement en pelargoniums bevat essensiële olies wat deur klierhaartjies op die oppervlak van hul blare afgeskei word. Soos die olies opbou, word ‘n heerlike geur vrygestel wanneer die blare met die hand of deur die wind fyngedruk word. Alhoewel dit vir ‘n tuinier aangenaam is, word hul geur nie noodwendig deur baie plae waardeer nie en stoot dit hulle dus af.
Pelargoniums
Sommige van ons inheemse pelargonium-spesies is veral bekend vir hul geur. Hulle is maklik om te kweek en mooi genoeg om langs paadjies te plant waar verbygangers teen hulle skuur. Hulle kan ook gepot word om te vertoon naby sithoekies soos ‘n patio of naby ‘n braai. Die loofgeure herinner ons aan rose, suurlemoene, speserye en kruisement. Die blare is perfek vir die brou van kruietee en die blomme kan in slaaie en as garnering vir koeke en poedings gebruik word.
Kies hierdie Pelargoniums
- Pelargonium graveolens – talle klierhaartjies op sagte blare wat ‘n sterk roosgeur het.
- Pelargonium x fragrans – neutmuskaatgeur met grysgroen blare.
- Pelargonium tomentosum – baie aantreklike, fluweelagtige blare met ‘n pepermentgeur. Perfek vir skadu-areas.
- Pelargonium citronellum – stervormige, kraakvars groen blare met ‘n sterk suurlemoengeur. Goeie muskietafweerder.







