
Meerjarige Tawwe Tienies
Daar is meerjarige plante wat mooi is, maar voortdurend gepamperlang en natgemaak moet word, en dan is daar die wat ewe mooi is, indien nie mooier nie, maar veel minder verlang . . .
Ten spyte van die skaarsheid van hulpbronne, waaronder geld, tyd en veral water, hou alle tuiniers daarvan om pragtige, meerjarige blomplante te kweek. Moet egter nie dink dat jy met die tweede beste tevrede moet wees net omdat jy een of meer van hulle kortkom nie!
Die volgende meerjarige plante word nie deur duur pryskaartjies, hoë onderhoudsvereistes of oormatige waterverbruik beperk nie. Hulle is gewone plante wat oral aangetref word, en as hulle skeppend saamgeplant word, sal hulle vir jou die perfekte droë tuin gee wat met pragtige blomme oortrek is. En in die meeste gevalle bied hulle ook interessante loof wat hoofsaaklik silweragtig of dofgroen is – altyd ʼn aanduiding dat hulle teen droë klimaatstreke met ʼn Mediterreense of selfs ʼn koue klimaat bestand is. Seetoestande soos wind of skraal en alkaliese grond pla geeneen van hulle nie.



Die treffende sallies
Die algemene kenmerke van ons meerjarige gunstelingsalies is hul gewilligheid om in amper elke klimaatstreek te groei, hul bekoorlike bloeiwyses en hul vermoë om herhaaldelik te blom. Hulle is ook gewild onder die tuinnatuurlewe.
Salvia leucantha (Mexikaanse salie)
- Die groot, spreidende halfbladwisselende struik het ʼn amper windverwaaide voorkoms.
- Ligkleurige sytakkies is vol gepunte wilgeragtige blare wat bo dofgroen en onder wollerig en silwerwit is.
- Fluwelige helder pers of laventel blomkelke hou lang stringe wit blomme wat eerste in die lente en somer verskyn en weer sterk in die herfs blom.
- Grootte ongeveer 1,3 m x 2 m.
Salvia canariensis (Kanariese salie)
- Digte wit hare bedek die dik stingels en die pylvormige blare is viltagtig.
- Stingelpunte is van die lente tot laatherfs bedek met pluime persviolet blomme in magenta blomkelke.
- Grootte ongeveer 2 m x 2 m
Phlomis fruticosa (Jerusalemsalie)
- Die immergroen tot halfbladwisselende struik het wollerige grysgroen lansvormige blare.
- In die somer verskyn kranse geronde goudgeel blomkoppe die een bo die ander om die boonste dele van regop stingels. As dit direk na blom teruggesnoei word, kan nog ʼn blommedrag verwag word.
- Grootte ongeveer 1,2 m x 1,5 m.
LEES MEER: 5 grondbedekkers wat onkruid smoor
Die geharde meerjarige heinings
Onder die taaies is daar plante wat daarvan hou om in formele vorms soos lae heinings of balle gesnoei te word. As jy nie van formele snoei hou nie, laat groei hulle in hul natuurlike vorm en geniet hul blomme.
Santolina chamaecyparissus (sipreskruid)
- Dié immergroen plant vorm digte, breë rondings met fyn aromatiese silwer of grysgroen loof.
- ʼn Oorvloed heldergeel blomme wat soos knope lyk, verskyn in die somer aan dun stingels.
- Grootte ongeveer 60 cm x 90 cm.
Teucrium fruticans (manderkruid)
- Hierdie een kan feitlik alles verduur waaraan Moeder Natuur of ʼn tuinier dit onderwerp en is ʼn ware bymagneet!
- Die takkiesrige immergroen struik het buigende fluwelige wit lote.
- Die aromatiese klein blaartjies is bo grysgroen en onder silwerkleurig.
- Kranse dofblou blomme met ʼn soet suurlemoengeur kom in die somer uit.
- Grootte ongeveer 1 m x 4 m.



Meerjarige plante vir fokus en tekstuurkontras
Elke tuin (selfs die droogste) het treffende plante nodig met ʼn sterk hoofvoorkoms en kontrasterende loof.
Melianthus major (kruidjie-roer-my-nie)
- Dié treffende inheemse plant raak bloot rustend as dit nie water kry nie, hoewel die wortelstok maklik weer uitloop na reën. Plante wat heeljaar ʼn bietjie water kry, bly immergroen. Hierdie plant is giftig as dit ingeneem word, maar beslis die moeite werd om vir voëls en bye te plant.
- Dit het ʼn wortellootmakende groeiwyse met groot, sierlike blougroen blare wat ʼn onaangename neutagtige reuk afgee as daaraan geraak word.
- In Augustus en September verskyn groot roesrooi blomtrosse wat bestaan uit talle donkermaroen blomme wat ʼn oorvloed swart nektar produseer.
- Die groot plant is volwasse ongeveer 2,5 m by 3,5 m groot, hoewel dit ingekort kan word deur party stingels gereeld terug te sny.
Pennisetum setaceum ‘Rubrum’ (pers fonteingras)
- Die sterk siergras dra krommende smal blare in ʼn diep boergonje kleur.
- Rietagtige blomkoppe met slank, donsige perspienk pluime verskyn in die somer en bly tot die einde van die winter aan die plant.
- Grootte ongeveer 1 m x 90 cm.
LEES MEER: Leer oor sedums en hoekom jy dit in jou tuin moet plant



4 wonderlike meerjarige vullerplante
Die volgende pragstukke kan as vullerplante, grondbedekkers of vir massa-aanplanting gebruik word:
Artemisia vulgaris (muggiewortel)
- Die immergroen plant dra syagtige en fyn gevormde gryserige blare wat uiters aromaties is as dit gekneus word.
- Geel blomme verskyn in die lente.
- Grootte ongeveer 60 cm x 90 cm.
Convolvulus cneorum (silwerbos)
- Die kompakte, laaggroeiende struik dra smal, satynsagte silwer blare wat iridiserend gloei.
- Sagpienk knoppies ontvou in spierwit trompetvormige blomme in die lente en somer.
- Grootte ongeveer 60 cm x 90 cm.
Armeria maritima (seepienk)
- Lae geronde polle bestaan uit donkergroen lynvormige blare.
- Piepklein pienk of wit blommetjies verskyn laatlente in bolvormige trosse aan draadagtige stingels.
- Van die talle variëteite is ‘Dusseldorf Pride’ die helderste en vrolikste.
Perovskia atriplicifolia (Russiese salie)
- Die bladwisselende plant met veelstammige nuwe lentegroei is grys tot wit met sterk gegeurde grysgroen getande blare.
- Die lente en somer bring ʼn massa klein persblou blommetjies in welige pluime.
- Grootte ongeveer 1 m x 1 m.