
Tref Sterk met Gesiggies



Met hul fluwelige kroonblare is die glimlaggende gesiggies perfek vir ʼn spatsel kitskleur, of plant hulle in potte vir langblywende plesier met min sorg.
Gesiggies lyk dalk tenger, maar is regtig maklik om te kweek as by ʼn paar standaardreëls gehou word. Hulle is ook te kry in ʼn ongeloo ike verskeidenheid kleure en kleurkombinasies. Wees vanjaar op die uitkyk na die ‘Punch’- en ‘Prima Punch’-reeks by jou plaaslike kwekery vir groot blomme, uitstekende prestasie en hitteverdraagsaamheid.
Plant in potte:
Gepotte gesiggies is eenvoudig ʼn bekoorlike toevoeging tot die patio of in die tuin. Hulle sorg op hul eie vir ʼn goeie spatsel kleur, maar is ewe nuttig in gemengde houers. Kies houers met volop groeiplek vir wortels, baie dreineergate en vul met ʼn goed dreinerende potmengsel wat met kompos en bykomende dreineermateriaal soos palmveen verbeter is. Haal die plante baie versigtig uit die kwekerybakkie uit deur hulle van onder af uit te druk sonder om die wortels te versteur. Plant hulle, druk hulle stewig in die grond vas en maak dan goed nat sodat hulle kan vestig. Gesiggies verkies ʼn koeler temperatuur met minstens vier tot ses uur sonlig per dag en moet deurlopend klam wees maar nie deurdrenk nie. Ondersoek houers daagliks en veral in warmer weer om seker te maak hulle het genoeg water. Voed tweeweekliks met ʼn vloeibare misstof volgens die aanwysings op die pak.



In die tuin:
Gesiggies is die ideale spatsels kleur in tuinbeddings, maar moet ook nie van die groentetuin vergeet waar hulle kleur kan gee en ʼn rol in die kombuis kan speel om koeke en skemerkelkies te versier as dit lente word nie.
Berei die grond vir gesiggies voor deur alle onkruid, klippe en afval te verwyder en kompos en ʼn bietjie stadig vrystellende misstof in te werk. Die plek moet sonnig wees met goed dreinerende grond. Grawe plantgate wat e ens wyer as die gesiggies in die bakkies is en spasieer hulle sowat 10 cm tot 15 cm uitmekaar om vir groei toe te laat en maak goed nat. Sit ʼn deklaag soos houtspaanders by om water te bewaar en die onkruid te beperk terwyl die gesiggies by die omgewing aanpas en groter word.
Onderhou die plante deur gereeld dooie blomme en blare te verwyder om nuwe groei te bevorder en die plante netjies te hou. Maak weekliks nat en meer in warm, droë toestande en dien elke twee tot drie weke ʼn vloeibare misstof toe. Al is gesiggies betreklik plaag- en siektebestand, hou dop vir slakke, naakslakke, ruspes en plantluise. Hulle kan af en toe ook poeieragtige meeldou en blaarvlek kry. Gesiggies is koelseisoenjaarplante en sommige variëteite is teen ligte ryp bestand, hoewel hulle in gebiede met swaar ryp in potte geplant moet word wat in skielike koue maklik verskuif of met rypdoek of strooi beskut kan word.
Gesiggiepatrone:
Gesiggies is in drie basiese patrone te kry:
- Dié sonder patrone in effe kleure, gewoonlik geel, blou of wit.
- Dié met swart strepies wat van die middel van die blom af uitstraal.
- Dié met twee- of driekleurige vlekke wat van die middel af uitstraal om ʼn gesiggiepatroon te vorm.
READ MORE: Dompel jouself in ‘n wêreld van kleur en leer meer oor Freddie se gunstelinge – skakel na –
Wees op die uitkyk na:
Petunia ‘Bee’s Knees’ Wees vir ʼn intense geel petunia wat sterk tref by jou plaaslike kwekery op die uitkyk na hierdie uitmuntende variëteit om vroeglente te plant. Dit het donkergroen loof, vertak goed en die geel blomme behou hul kleur. Hulle het min aandag nodig en verdra ʼn bietjie skadu in houers en in die tuin.
Aan jou gebring deur die Beddingplant – kwekersvereniging (BPGA)
Sien ‘n tuinsentrum naby jou:
