fbpx

Kynoch se Tuinjoernaal – Augustus


Hallo Tanya…

Goeiemôre! Ek moet bieg. EK IS ‘N MOORDENAAR! Hoeveel renosterkewerlarwes het ek nie vemoor nie? Om julle die grusame besonderhede nie te spaar nie: ek het hulle in my potplantgrond gesoek, in ‘n bak water gegooi en laat versuip. Daarna het ek hulle teruggewerk in die grond sodat my plante dít wat húlle verorber het, kan terugkry. Ek voel so skuldig en skaam. Dankie, Die Tuinier, vir die leerskool wat julle bied. Ek het ‘n nuwe blaadjie omgeslaan! Lucille Kriegler, Hermanus.

Liewe Lucille, Dankie vir jou e-pos! Jou eerlikheid en die beskrywing het my hard laat lag! Ag, vergewe jouself, gelukkig weet jy nou en kan antwoorde oor die groot, lelike wurms met selfvertroue verskaf as ander tuiniers jou raad vra. Jy het dit! Tanya.

Goeiedag, ek wil graag weet hoe moet ek my amaryllis-bolle bêre vir die winter. Myne het nou al die blare verloor en is steeds in die pot waarin dit geblom het. Moet ek dit in die pot los, of moet ek dit uithaal en in ‘n bruinpapiersak bêre. Dankie by voorbaat, Susan Steenekamp

Hallo Susan, in die koeler dele van Suid-Afrika sal die bolle nou heeltemal dormant wees, maar in die meer gematigde klimate behoort hulle nog blare te hê. Ek dink nie jy moet die bolle uithaal nie, tensy jy regtig moet. Omdat amaryllis so skouspelagtig is in blom, word hulle meestal in potte geplant – soveel makliker om rond te skuif en uit te stal as jy wil spog! Hierdie bolle hou nie daarvan om sommer uitgehaal te word nie en sal dalk ‘n paar seisoene neem om weer te blom, of glad nie. So, los hulle liewer net daar. Vir hernude blomkrag en vars blare, onthou om hulle vanaf die somer tot ‘n volgende dormante fase met Kyno Shrub, Flower & Fruit te bemes wat verseker meer blomme sal aanmoedig en dus meer spogregte! Lekker tuinmaak, Tanya.

Goeiedag, ek woon in Mosambiekse, Gaza-Provinsie, in die dorp Praia do Bilene. Dit is ‘n kusarea met uiterste weerpatrone. Ek is tans besig om ‘n kostuin aan te lê met kruie, speserye en groente. Alhoewel die internet ‘n bron van informasie is, is daar teenstrydige inligting en strategieë en ek vind dit moeilik om ‘n plan van aksie aanmekaar te sit. My grond is deels sand met goeie dreinering (in semiskadu) en swart en goed belugte leem (in meestal skadu). Ek het nie toegang tot tegnologie soos misstowwe nie, en maak maar staat op wat hier beskikbaar is soos koei-, hoender- en varkmis. Wees asseblief so vriendelik om tabelle en inligting oor die volgende te verskaf: Metgeselaanplanting, son- of skadubehoeftes, waterbehoeftes, natuurlike plaagbeheer en soutsproeibestandheid. As jy my hiermee kan help sal ek dit baie waardeer. Baie dankie by voorbaat, Rui Da Silva.

Beste Rui, jou brief het my omtrent aan die dink gesit. Die goeie nuus is dat jy kan ophou stres, want ons kan help! Tuinmaak in sandgrond met ‘n hoë soutinhoud is moeilik, maar gelukkig het jy ook in sekere areas beter grond. Die geheim met sanderige grond gaan alles oor die voeding en kondisionering daarvan. Dit het altyd net oor die voeding van plante gegaan, maar die nuwe taal van boere en tuiniers is grondvoeding. Met gesonde grond is jy al driekwart op pad om wonderlike groente en kruie te kweek. Om jou aan die gang te kry, kyk na die volgende artikels in ons sustertydskrif, Grow to Eat – hierdie tydskrif is seisoenaal beskikbaar en die The Autumn /Winter-uitgawe is nou te koop. As jy sukkel om dit in die hande te kry (want ek vermoed jy sal aangesien jou naaste afsetpunt in Swaziland is), oorweeg dit om in te teken…

Ek belowe dat jy nie teleurgesteld sal wees nie! Om in te teken volg hierdie skakel en die stappe: www.growtoeat.co.za

Maar intussen, kan jy solank Grow to Eat se webwerf besoek – daar is tonne inligting oor die vrae wat jy het:

The Beauty of soil

Permaculture Methods for regenerating soil

 • It all starts with the soil

7 Tips for healthy soil

Probeer om ‘n sak KynoVeg in die hande te kry – ‘n misstof spesiaal geformuleer vir groentekweek – dit kan gebruik word vir grondvoorbereiding sowel as om groeiende plante te bemes. KynoVeg is propvol makro-elemente om te voed, plus al die mikro-elemente wat groente nodig het! So, spring weg en verbeter jou tuinmaakkennis, en laat ons weet waarmee ons nog kan help. Ek wens jou tonne gesonde groente en gesonde grond toe! Tanya

Lees meer: Dirt Diaries Julie

Goeiedag Tanya, in Die Tuiner word aangedui dat die mooie Scaevola ‘Bondi White’ ‘n taai plant is wat min onderhoud verlang. Dit is nie wat ek ondervind nie. Ons woon in Springbok en myne staan heeldag in die skadu, maar hang elke oggend verlep. Is dit dors? As ek dit natmaak herstel dit weer. Is dit nadelig vir die plant om elke oggend water te kry? Dit word met reënwater natgemaak. Die Tuinier is die enigste tydskrif wat ek koop en lees. Gek daarna. Baie dankie, Elana

Liewe Elana, dit is inderdaad snaaks, omdat scaevolas regtig taai is en behoort te groei soos ons dit beskryf het. Die enigste ding waarop ek my vinger kan sit, is dat die plant in sy kwekerypot dalk in ‘n grondmedium wat baie veen bevat gekweek is. Veen is goed vir plante, veral palmveen omdat dit liggewig is, goed dreineer, en lugtig is vir goeie wortelvorming, maar in ‘n kwekeryhuis word na hierdie plante omgesien asof hulle babas is – as hulle in ‘n veenbasis gekweek is, sou hulle elke dag of tweede dag besproei gewees het. Miskien is dit die baie droë hitte van Springbok gekombineer met die grondmedium waarin jou plant groei. As dit veen is, sal dit elke dag water moet kry vir ‘n paar weke totdat die wortels uitgegroei het na ‘n ander omliggende grondmedium soos byvoorbeeld gewone potgrond of tuingrond. Raad is dus; berei die plantplek goed voor met kompos en ‘n klein hoeveelheid KynoGarden misstof wat vol heilsame mikro-elemente is wat alle plante nodig het. Gee direk na plant diep water. Die kompos en die KynoGarden sal sorg vir algemene gesondheid en sal die stres van oorplant verminder. Laastens is ek bekommerd oor die hoeveelheid skaduwee waarin die plant groei omdat scaevolas beter vaar in volson of ten minste in ‘n paar ure se son elke dag. As die stamme yl en langbeen raak, is dit ‘n teken dat daar te min son is. Moenie moed opgee nie, hierdie plant is dit werd om te red, en as dit eers groei, ‘n tawwe tienie. Liefde aan Springbok en lekker tuinmaak, Tanya.

Stuur jou vrae na info@thegardener.co.za met die onderwerpreël Kynoch’s Dirt Diaries.

Advertisements
-->
The Gardener