fbpx
Kynoch’s Dirt Diaries - July

Kynoch se Tuinjoernaal – Julie

Hallo Tanya…

Baie dankie dat jy so ’n aangename gasvrou was en ons toegelaat het om jou pragtuin te besigtig. Die dag was eenvoudig perfek, soos altyd, en jou personeel het agteroorgebuig om ons te help om my pa oral in die tuin rond te neem, selfs na die plekke wat ontoeganklik was vir sy rolstoel – hulle het ’n plan vir hom gemaak en hy was vreeslik dankbaar dat hy alles kon sien. Hy het my gevra om asseblief vir jou ’n e-pos te stuur om te vra wat die klein randplantjie is wat jy in die tuin naby jou stoep gehad het. Hy sê dit was ’n helderblou blommetjie wat nogal klein was. Hy wil graag die naam hê sodat hy daarvan kan koop.

As jy daarmee kan help, sal dit baie nuttig wees. Ek het vir hom foto’s van verskeie plante gewys, wat nie juis suksesvol was nie. Ons sien uit na jou volgende oop tuin. Vriendelike groete, Charmaine Ballard

Liewe Charmaine,

Ek is so bly dat jy en jou pa die tuin geniet het. Ek het ʼn paar foto’s aangeheg van watter plant ek dink dit kan wees. As dit steeds nie die regte een is nie, sal ons aanhou probeer:

• Angelonia is in baie skakerings te kry – dis klein en kompak, ongeveer 30 cm hoog en blom af en toe deur die jaar.

• Dié kleintjie, die vergeet-my-nietjie (Myosotis), het sommer oor die hele tuin geselfsaai. Pakkies daarvan is by die meeste tuinsentrums te koop.

• Blouster (Isotoma) is nie geredelik te kry in KwaZulu-Natal nie. Trouens, ek het dit in ʼn saailinglaai gekoop en dit as handbagasie aan boord van ʼn vliegtuig van Johannesburg af gedra. Ek hoop dit help, Tanya

Watter gogga is dit dié wat oral in my groentelappie is en hoe kan ek daarvan ontslae raak? Shaakirah Denton

Liewe Shaakirah,

Jou gogga is ʼn besie – trouens, dit word die groenstinkbesie genoem! Dis ook bekend as die skildstinkbesie vanweë sy kenmerkende skildvorm. Die naam “stinkbesie” is daaraan gegee omdat dit as verdedigingsmeganisme ʼn chemikalie afskei wat natuurlik stink!

Daar is meer as 102 verskillende spesies in die stinkbesiefamilie wat in Suider- en Sentraal-Afrika aangetref word en baie van hulle is ʼn eetbare lekkerny in lande soos Malawi en Zimbabwe! Om hulle te eet, maak my nie opgewonde nie, hoewel ek liewer belangstel in wat hulle eet, nes jy.

Die eiers van dié besies is hard en word aan die plant vasgelym. Hulle broei na ongeveer 18 dae uit en word nimfe genoem. Hierdie vlerklose outjies vervel en is na vier siklusse dit wat jy op jou tamatie sien.

Hulle het sterk monddele wat hulle gebruik om gate in die plante te steek en die sap op te suig – dit veroorsaak vanselfsprekend skade aan die vrugte en plant wat tot die verrotting van die vrugte kan lei. Dié outjies hou van skorsies, groen soetrissies, bone, spanspek, en, reg geraai, tamaties.

Nou, hoe om van hulle ontslae te raak. Ek verkies dit om hulle met die hand te verwyder eerder as om te spuit omdat hulle ook ʼn voedselbron vir ander natuurlewe is – veral vir voëls. Soggens vroeg is ʼn goeie tyd om hulle te gaan vang wanneer hulle op hul stadigste is. Hou ʼn konfytfles onder die vrugte of die blaar en as jy aan die gogga raak, val dit meestal in die fles af.

Hulle is uiters slim omdat hulle as hulle van gevaar bewus raak, van die vrugte afval, op die grond beland van gevaar bewus raak, van die vrugte afval, op die grond beland en wegskarrel. Ek is bevrees dit is nie een van daardie kere dat jy hulle kan vang en elders gaan vrylaat nie – hulle sal bloot net weer terugkom. Jy sal hulle tussen jou vingers moet dooddruk. Gooi die dooie goggas op die grond onderom die plante as waarskuwing vir ander stinkbesies om weg te bly. Ek beveel ook aan dat jy laventel, gousblomme en komkommerkruid om jou plante plant omdat hulle ander roofdiere sal lok en ook as valplante optree. Laastens, as jy jou toevlug tot spuit moet neem, beveel ek ʼn spuitstof met nimbaolie as basis aan soos BioGrow Bioneem, Ludwig’s Insect Spray of Makhro Organicide.

Lekker vang, Tanya

My Salvia ‘Mystic Spires’ het krulblaar gekry en ek weet nie hoe om dit te behandel nie. Wat is die oorsaak en hoe moet ek dit behandel, asseblief? Mike Clancy  

Liewe Mike,

Die krulblaar kan as gevolg van een van twee goed wees:

1. Het jy onlangs met ʼn plant- of insekdoder gespuit? Die skade kon dalk deur ʼn plantdoder (my vermoede) veroorsaak gewees het.

2. Witvlieg hou van salies wat sukkel. Kyk aan die onderkant van die blare vir enige tekens van dié klein peste. As daar niks is nie, is hulle dalk al weg. Ondersoek die plant soggens vroeg omdat hulle dan nog redelik mak is. Wikkel die blare ʼn bietjie en as daar witvlieg is, sal jy sien hulle begin beweeg en wegvlieg.

As jy witvlieg kry, beveel ek die volgende aan: Snoei die plant met die helfte van sy huidige groei terug, verminder natmaak tot een maal per week en spuit met Makhro Organicide, en maak seker jy spuit ook die blare aan die onderkant. Oplaas het ʼn plant met stres, soos jou salie, altyd ʼn hupstootjie nodig – baie soos ons as ons siek is. Ek beveel aan dat jy dit ʼn paar teelepels Kyno Shrub, Flower & Fruit onderom die plant gee. Dit sal die plant nie net stikstof, fosfate en kalium gee nie, maar ook ʼn goeie hupstoot van noodsaaklike spoorelemente.

Lekker tuinmaak, Tanya

LEES MEER: Gaan kyk na Kynoch Garden Range se Tuinjoernaal waarin Tanya Visser ʼn paar gereeld gestelde tuinmaakvrae van julle, ons lesers, beantwoord.

My Evolvulus ‘Blue my Mind’ was die hele somer treffend mooi. Nou lyk hulle treurig en oes namate die weer verander het. Kan ek hulle terugsny om nuwe groei aan te moedig of moet ek hulle vervang? Ek het ses plante in groterige potte wat aan die begin van verlede somer geplant is en in volson was. Nog ’n pot met evolvulus naby lyk steeds mooi. Ons is op Hermanus in die Wes-Kaap. Ek hoop jy het ’n bietjie nuttige raad vir my.

Groete, Alyson Kessel

Hallo Alyson,

Na my mening kon jy nie ʼn beter plant gekies het nie! Evolvulus ‘Blue my Mind’ is ongelooflik.

Deur selektiewe teling het die slim plantghoeroes dit reggekry om ʼn plant te “skep” wat beter as die oorspronklike evolvulus vaar met Olimpiese gouemedaljestatus. Ons het verskeie in die tuin en in potte en hulle is regte wenners. Hulle is taai, hou nooit op met blom nie, en al wat hulle nodig het, is om af en toe goed gesnoei te word.

Terug egter by jou “siekes”. Kyk by potplante eerste na dreinering – het die dreineergat nie dalk verstop geraak nie? Ondersoek dit as jy dit natmaak. As jy opmerk dat die water opdam, kantel die pot effens (jy moet dalk ʼn vriend hiervoor roep) en gebruik ʼn tappen of kort metaalstaaf om in die dreineergat in te druk en dit oop te maak.

Neem ook kennis dat plante in potte altyd meer kos nodig het. Die plante word ingeperk en kan nie hul wortels verder uitstuur op soek na voeding nie. Probeer jou potte as algemene reël vierweekliks voed. Ek sou Kyno Shrub, Flower & Fruit gebruik en die maklike aanwysings agterop die sak volg om te bepaal hoeveel. Dit sal hulle beslis opkikker en broodnodige voeding gee wat hulle nodig het om hulle te laat aanhou blom en op hul mooiste te laat lyk.

Kyk ook na die grondvlak in die potte – na ʼn rukkie sal die potgrond verdig en “afsak”. Ek raai jou aan om die grond om die plante met ʼn handvurkie liggies los te maak en die pot met kompos op te vul. En ja, knip hulle gerus liggies reg. Moenie meer as die helfte van die blaargroei verwyder nie anders sal dit hulle nou met die koeler temperature onder stres plaas.

Alles van die beste en lekker tuinmaak, Tanya

Stuur jou vrae na info@thegardener.co.za met die onderwerpreël Kynoch’s Dirt Diaries.

Advertisements
-->
The Gardener