Kynoch se Tuinjoernaal- Oktober
Hallo Tanya…
Jy verwys na Supertunias in uitgawes. Kan jy ons help met inligting oor waar ons van die saad kan bekom asseblief? Nie een van die bekende saadverskaffers soos Kirchoffs of Mayford hou dit aan nie.Hoor graag van jou. Phillip
Hallo Phillip,
Dit is inderdaad ʼn baie goeie vraag. Supertunias is eintlik letterlik petunias op steroïede. Die Supertunia is deur die kruising van goeie ouerplante geskep. Die rede waarom hulle so lonend vir die tuin is, is vanweë verskeie faktore waarvan die belangrikste waarskynlik is dat hulle “selfskoonmakend” is – die dooie blomme val bloot af en hoef nieafgesny te word nie. Soos die meeste petunias is die plant se lewenstaak om te blom en dit met saadskiet op te volg om die volgende geslag te verseker. En dis die antwoord op jou vraag – Supertunias maak nie saad nie, hulle is steriel.
Dit beteken dat hulle al hul energie vir blomme gebruik en nie om saad te maak nie. Hulle word gevolglik vegetatief gekweek en deur die maak van steggies voortgeplant. Om die eerste een in jou tuin te kry, moet jy dus na jou plaaslike tuinsentrum toe gaan en jou gunstelingkleur Supertunia kry. Ek verseker jou egter jy sal nie teleurgesteld wees nie.
Soos die meeste petunias hou hulle van die volgende: baie son, die natmaak van die grond maar nie van hul blare nie, en gereelde voeding om daardie gesonde aptyt te bevredig. Ek beveel aan dat vierweekliks met Kyno Shrub, Flower and Fruit gevoed word. Dit sal vir die plant al die vernaamste voedingselemente gee wat dit nodig het asook die spoorelemente om dit gesond, lewenskragtig en natuurlik aan die blom te hou.
Ek is woonagtig in die hart van die koue Vrystaat (Paul Roux). Ek wil graag by jou weet wanneer is die regte tyd om my Strelitzia reginae te verplant? Ek sug om te dink ek moet hulle verloor weens slegte uitplantgewoontes wat ons almal het. Het jy vir my raad? Vriendelike Groete, Rickus Labuschagne
Hallo Rickus,
Die belangrikste omtrent strelitzias wat vir alle soorte geld, is dat hulle nie daarvan hou om oorgeplant te word nie. Ná oorplanting lyk hulle meestal ʼn hele paar maande lank ongelukkig. Dit kan egter verminder word as jy die volgende doen: Plant slegs oor na die moontlikheid van laat ryp verby is. Sodoende sal die hoeveelheid stres op die plant so min moontlik wees en vanweë die effens warmer temperatuur sal die plant vinniger herstel. Wat ook tydens oorplanting belangrik is, is om die wortelbal mooi solied en ongeskonde te hou met geen wortels wat afgesny word nie – hoe beter die wortelstelsel is, hoe vinniger sal die plant in sy nuwe omgewing wortels maak. Dan is grondvoorbereiding deurslaggewend. Grawe vooraf ʼn groot gat, en as jy dink dis groot genoeg, grawe nog ʼn bietjie – hulle het ʼn gróót wortelstelsel! Voeg ʼn ruim hoeveelheid goeie gehaltekompos en een hand vol KynoGarden asook ʼn hand vol superfosfaat of beenmeel by. Meng dit goed in by die kompos en by van die grond wat jy uitgehaal het. Wanneer jy die plant in die nuwe gat sit, onthou om dit nie dieper te begrawe as wat dit oorspronklik in die grond was nie – te diep kan maak dat die stele verrot. Maak dit ná plant baie goed nat en dan slegs weer omtrent tien dae later. Hulle is fiemiesrig en te veel water kan ook vir die plant nadelig wees. Afgesien daarvan, gesels mooi met die strelitzia voor die oorplanting begin en noem dat die nuwe huis ʼn veel beter plek sal wees met ʼn beter uitsig. Sommige sê dis malligheid, maar haai, wat kan jy verloor?
My fantastiese skoonseun het vir my ’n pragtige plantbak gemaak en Moedersdag afgelewer. Wat ’n vreugde! En hoe gelukkigtoevallig dat my jongste uitgawe van The Gardener ’n mooi artikel in het oor die kweek van groente en kruie op klein plekkies. My nuwe plantbak is van metaal gemaak en met ’n roeswerende laag geverf. Is dit ’n probleem? Moet ek die binnekant met iets uitvoer om te verhoed dat die plante gifstowwe opneem? Wat moet ek onderin sit? Dis ongeveer 30 cm diep. Ek KAN NIE wag om my slaaibestanddele in my kombuisbinnehof op en aan die groei te kry nie. By voorbaat dankie, Wendy Young (Jhb.)
Lees Meer: Kynoch Se Tuinjoernaal September
Hallo Wendy,
Dit hang grootliks af van die soort verf wat gebruik is. Party soorte is vriendeliker as ander. Met dit gesê, sal ek egter die volgende doen net om seker te maak dat die plante gelukkig is en geen chemikalieë van die verf opneem nie: Ek sou die binnekant van die plantbak met minstens drie lae Eco Rubber verf. Eco Rubber het talle gebruike vir dakbedekking, watertenks, die verseëling van hout, beton en selfs sink en metaal. Dis maklik om hierdie rubberseëlmiddel met ʼn verfkwas aan te wend. Dit is nie net niegiftig nie, maar sal ook die lewensduur van jou plantbak verleng deur dit teen roes en korrosie te beskerm. Onthou tydens die voorbereiding van jou plantbak van dreineergate onderin. As jy nie dreineergate wil boor nie, beveel ons ʼn 5 cm-gruislaag aan. Dit sal as reservoir vir water dien. Ek moet jou waarsku dat as jy oorbenat, die watervlak tot bo die gruis en tot in die wortelsone van die plant kan styg wat die wortels sal laat vrot. Gebruik ʼn goeie gehaltepotgrond in die plantbak, voeg ʼn hand vol KynoVeg by die potgrond en meng goed. Dit sal jou plante uitstekend laat wegspring deur vir hulle ʼn goeie grondstruktuur sowel as voeding te gee. Hou aan om jou plante vierweekliks met KynoVeg te voed en vul weer op met vars potgrond wanneer jy nuwe saailinge of plante insit. Die belangrikste is om dit te geniet. Daar is eenvoudig niks lonender as om jou eie groente te kweek en te pluk nie!
Send your questions to info@thegardener.co.za using the subject line Kynoch’s Dirt Diaries. www.kynoch.co.za