fbpx

Kynoch se Tuinjoernaal- September

Hallo Tanya…

Goeie dag, ek wil graag ’n blaar plant wat ek by ’n vriend gekry het. Ek woon in die Noord-Kaap waar dit nou koud is. Kan ek die blaar sommer net plant? Indien nie, hoe raai jy my aan om dit te doen?

Baie dankie, Carlene Fisher

Hallo Carlene, hierdie is ʼn raaiskoot, maar ek dink jou blaar word Kalanchoe tomentosa genoem. Ja, dit kan eintlik met groot sukses van blare gekweek word. As die blaar bloot van die moederplant afgeval het of versigtig van die stingel verwyder is, is die sukseskoers gewoonlik werklik goed. Sit die blaar op ʼn laai vol fyn gruis op ʼn goed verligte plek – nie in direkte son nie. Sodra die blaarpuntwond – waar dit oorspronklik aan die moederplant vas was – wondweefsel gevorm het, kan jy die blaar ongeveer weekliks, net liggies, met water sproei. Die blaar sal eers wortelskiet om dit in die gruis te anker en dan ʼn klein nuwe groeipuntjie maak. Sodra die groep blare groot genoeg is om te hanteer, kan dit in ʼn pot of die tuin geplant word. Die plante is pragtig met treffende variëteite soos ‘Chocolate Soldier’ wat ʼn diepbruin fluwelige kleuring het – ʼn moet-hê!

Alles van die beste, Tanya

Hallo Tanya, ek is bitter moedeloos met die struik Chamaelaucium (wasblom). Ek het reeds agt van hierdie pragtige struike deur die jare geplant waarvan almal ná die eerste blomseisoen óf dood is óf op die randjie van die graf huiwer. Ek lees jou beskrywing van “emmersvol blomme” en wil sommer huil! Ons bly in Noordhoek sowat 5 km van die see af en het effens sanderige grond. Ek het hulle in die grond en ook in potte geplant. Ons gebruik boorgatwater wat ’n sigbare hoeveelheid yster bevat. My ander plante gedy egter onder dieselfde omstandighede. Kan jy asseblief raadgee oor voeding – hoe dikwels en hoeveel, son, grond en water? Iets doen ek verkeerd en ek is vasberade om agter die kap van die byl te kom!

Vriendelike groete, Rykie

LEES MEER: Kynoch Se Tuinjoernaal Augustus

Hallo Rykie, kom ons kry jou op die spoor! Ek is nie daarvan oortuig dat boorgatwater jou probleem is nie. Dit is meer waarskynlik oor- of onderbenatting – veral in die eerste drie maande van die plant se lewe. Hoewel hulle droogtegehard is as hulle gevestig is, moet hulle goed benat bly as hulle pas geplant is en gemiddeld twee tot drie keer per week water kry. Op grond van waar jy woon, behoort jou grond baie goed te dreineer, wat dus ʼn groot voordeel vir jou plant is. Wanneer geplant word, voeg net kompos by die grond, of nog beter, as jy ʼn paar sakke proteapotmengsel in die hande kan kry, sal dit wonderlik wees. Moenie nog iets in die plantgat byvoeg nie. Maak ʼn dammetjie om elke plant sodat die water tydens natmaak net daar bly en direk na die wortels toe gaan. Dié besondere plante word in ʼn uiters goed dreinerende grondmengsel geplant wat vinnig uitdroog, daarom kry hulle in die vroeë maande heel dikwels nie genoeg water nie. Na drie maande behoort hulle genoeg nuwe wortels te gemaak het vir jou om minder water te kan gee. Dis dan ʼn kwessie van terugsit en dit geniet!

Alles van die beste, Tanya

Ons het onlangs na ’n nuwe plek in Crestholme, Durban, getrek met ’n pragtige tuingebied. Die tuin is gedeeltelik gevestig maar het rooi (kleierige?) sand. Ek is nie seker watter plantsoorte goed sal vaar in dié soort sand nie. Moet ek iets aan die grond doen voor ek nuwe plante plant? Ook, watter soort plante of blomme is vir hierdie soort grond geskik? Ek sien daarna uit om van jou te hoor, Sandy

Hallo Sandy, eerstens, wat ʼn klein stukkie paradys het jy nie daar nie! Ek hou van die klipmure en die feit dat hulle in terrasse omskep is, is fantasties. Rooigrond is gewoonlik baie voedsaam; die struktuur is egter nie alte waffers nie. Wat ek daarmee bedoel, is dat rooigrond sanderig of kleierig kan wees. Vir my lyk dit of jou grond aan die sanderige kant is. My raad is soos volg: Begin gister al met ʼn komposhoop – dis wat jou grond kortkom, en hoe meer organiese inhoud jy aan dié grond toedien, hoe beter sal dit raak. Deur organiese inhoud in die vorm van tuisgemaakte kompos of winkelgekoopte kompos by te voeg, sal die grondstruktuur verbeter, wat op sy beurt baie bykomende voordele inhou. Die grond sal langer water hou en “vasgevangde” voedsel vrystel. Ek stel ook voor dat jy wanneer jy plant KynoGarden in elke plantgat bysit. Hierdie dinamiese misstof bevat nie net die basiese goed wat die meeste misstowwe bevat nie – stikstof, fosfor en kalium – maar het ook bygevoegde spoorelemente. Dis ʼn wenner en sal goeie mikrobiese inhoud verhoog en ʼn merkbare verskil aan jou plante maak namate hulle aan die gang kom en gevestig raak. Vir jou ander gevestigde plante beveel ek Kyno Shrub Flower & Fruit aan. Dit gaan weer vir jou plante die voeding en daardie bygevoegde spoorelemente gee wat hullenodig het. Laastens, bedek goed om al die plante en probeer om geen kaal grond te hê nie. Plantvoorstelle vir tuimel op die bank sluit in ruschia, erigeron, evolvulus, delosperma en crassula-spesies. Plantvoorstelle vir struike in die middel sluit in Crassula ovata, Plectranthus ecklonii en Helichrysum petiolare.

Geniet dit om jou eie stukkie paradys te skep,Tanya

Stuur jou vrae na info@thegardener.co.za met die onderwerpreël Kynoch’s Dirt Diaries.

-->
The Gardener