fbpx
colour planting red

5 Doelgerigte Grondbedekkers

Read in English

Inheemse grondbedekkers is goedkoop, funksioneel en rateltaai. Plant hulle op jou mooi plekkies en in probleemgebiede.

Die stadsbewoner

Mesembryanthemum cordifolium (voorheen Aptenia cordifolia) word dikwels gesien waar dit tussen krake in stedelike ruimtes en in versteurde gebiede groei. Dit is ook algemeen bekend as die brakvygie.

Die heldergroen sukkulente blare is hartvormig, en die klein rooi of dieppers blommetjies verskyn van die lente tot die herfs. Twee redes om hierdie grondbedekker te plant is sy gewilligheid om in ligte skadu onder bome te groei en goed te blom, en sy bestandheid teen brakwater.

Grondbedekkers met lang blomme

Vygies, waarvan ons soveel spesies het, is skitterend as dit vroeglente blom, maar die vreugde is ongelukkig van korte duur en dan bly net die redelik toiingrige, langbenige plante agter.

Delosperma cooperi (klipvygies) is ʼn somerreënvalspesie wat van vroeglente tot laatsomer blom. Blomme wat doodgaan, word gevolg deur uiters opvallende vrugdose waarvoor die insekte lief is. Hulle versprei sterk en vorm ʼn digte mat van sowat 10 tot 15 cm hoog, en die stingels kan tot 60 cm wyd rank.

Kweek hulle in goed dreinerende grond. Is dié vygies eers gevestig, is hulle teen lang droogtetye bestand. As dit baie droog is, maak hulle voor hul blomtyd goed nat en jy sal met ʼn goeie blomvertoning beloon word. Die fuchsiapers blomme het talle skraal kroonblare wat in alle rigtings van die middel uitloop en is skouspelagtige kleuruitbarstings in die tuin. Delospermas is rypbestand.

Aanbevole klipvygies: Die reeks ‘Wheels of Wonder’ is ʼn groot verbetering op vygies en slaan in klein tuintjies en houers die asems weg met enorme blomme in psigedeliese kleurkombinasies.

Liewer silwertapyt as gras

Dymondia margaretae (silwertapyt) is die perfekte grondbedekkende plaasvervanger vir die gewone grasperk omdat dit gou ʼn mat vorm waarop jy kan loop. Dit is ʼn baie geharde immergroen grondbedekker met krullerige silwergroen bont blare en klein heldergeel madeliefieblommetjies in die lente en somer waarvoor die bestuiwers lief is.

Dit is ook ʼn baie gewilde keuse om tussen plaveistene te plant. Hierdie grondbedekker hou van volson, kan brak toestande verdra en is ook uitstekend vir kustuine. Hou dit welig en gelukkig deur dit in goed dreinerende grond met kompos in te plant en gereeld nat te maak.

Spekvet en plat grondbedekkers

Portulacaria afra prostrata is die grondbedekkende niggie van die bekende koolstofspons, die spekboom. Hierdie geronde grondbedekker dra lang, buigende sjokoladebruin stingels wat met eetbare blink, ronde sukkulente blare bedek is.

Hoewel die plante heeltemal vir volson geskik is, lyk hulle weliger as hulle in ligte skadu gekweek word. Dit is ʼn minsorgkeuse om in keermuurblokke, as getekstureerde kolle op die rotstuin en in houers te gebruik. As jy van hangmandjies hou, maar opsien teen die voortdurende versorging wat vir ʼn gewone blommende mandjie nodig is, gebruik liewer die platliggende spekboom.

Dit sal jou ook van Oktober tot Januarie met roospienk blomme beloon. Met gereelde water en ʼn gereelde dosis wateroplosbare misstof kan jy fantastiese sukkulente balle in die lug kry.

Plant jou eie kooigoed

Helichrysum petiolare (kooigoed) is ʼn klouterende grondbedekker (0,5 m by 1 m) wat baie geliefd is om sy mooi fluwelige silwer loof. Plant dit op die sonnigste plekke omdat die silwer blare hitte weerkaats terwyl hul fyn hare help om waterverlies te voorkom. Midsomer kondig die verskyning van ʼn massa piepklein geel blommetjies aan wat deur papieragtige roomkleurige skutblare aan lang stingels omring word. Die heuninggeurige blomme ruik soet en lok ʼn menigte insekbestuiwers. Sowel die blomme as die blare word deur kampeerders as kooigoed gebruik omdat dit skynbaar ʼn goeie nagrus verseker. Die plant word ook medisinaal en in sekere kultuurrituele gebruik.

Tuingebruike is wyd omdat die silwer loof goed met grasse en tussen aalwyne saamgaan, en met ander waardevolle inheemse struike soos syselbosse kan saamspan. Dit kan in verskillende vorms in ʼn formele vormraam opgelei of as lae heining gebruik word omdat dit goed op snoei reageer (wat gereeld gedoen moet word).

Plant dit in volson in goed dreinerende grond met kompos in en moenie oorbenat nie.

LEES MEER: Leer oor vyf meer grondbedekkers wat onkruid smoor.

-->
The Gardener