
Hoe om Dahlias te oorwinter



As jy volgende jaar weer dahliablomme so groot soos sopborde of die vet pom-poms in jou tuin wil sien, moet jy gedurende die winter in die dahliaknolle se rustyd vir hulle sorg. Hier is twee maniere om dahlias te oorwinter.
Laat bly hulle in die grond oorwinter
Dit is in gematigde klimaatstreke met geen of ligte ryp in orde om hulle te laat rus waar hulle groei mits die grond nie voortdurend klam of koud is of swaar klei is nie.
Maak so:
- Sny die stingels tot op die grond terug.
- Merk die plekke waar die knolle geplant is met bamboesstokke en etikette om jou te herinner aan waar hulle is.
- Bedek die grond met ʼn dik laag blaarmolm, bas of kompos.




Haal uit en bêre
In baie koue klimaatstreke met strawwe ryp word aanbeveel dat knolle uitgehaal en gebêre word. Selfs al is die knolle onder die grond, sal grondtemperature van onder vriespunt hulle doodmaak.
Maak so:
- Wag tot na die eerste ryp wat die laaste stukkies bogroei sal beskadig voor die stingels teruggesnoei word tot net ʼn paar sentimeter bo die grond.
- Maak die grond om die plante liggies los met ʼn vurk, wees versigtig om nie die knolle raak te steek nie en haal hulle uit.
- Skud soveel grond af as wat jy kan en spuit die oorblywende grond liggies met jou tuinslang af.
- Doop die knolle in ʼn swamdoder om hulle teen verrotting te beskerm – gebruik Efekto se Virikop of Kumulus WG.
- Keer die knolle om op dik lae koerantpapier sodat die oorblywende stingels na onder wys, wat al die vog en oorblywende sap sal toelaat om uit te loop. Dit kan vir die knolle tot so lank as twee weke op ʼn koel, droë skaduplek duur om heeltemal uit te droog.
- Bêre die knolle in plat bokse, bruinpapiersakke of houtkratte op ʼn droë, goed geventileerde plek soos in ʼn tuinskuur of motorhuis.
- Gebruik verpakkingsmateriaal soos droë potgrond, troeteldierbeddegoed, perliet of vermikuliet in lae tussen die knolle.
- As die verpakkingsmateriaal baie droog is, klam dit baie liggies aan.
- Ondersoek jou knolle maandeliks vir verrotting en as jy enige tekens sien, gooi hulle weg, anders versprei dit na die ander. As hulle baie verrimpeld en droog lyk, kan jy hulle weer baie liggies aanklam.
- Plant die knolle weer in die laat lente as alle gevaar van ryp verby is.
Waarskuwing!
Steriliseer die hele tyd deeglik gereedskap soos die snoeiskêr wat jy gebruik om die ou stingels terug te sny. Doop dit sodoende in ʼn mengsel van 1 deel bleikmiddel op 10 dele water.
LEES MEER: Leer oor inheemse plante vir jou herfs- en wintertuin.