
Hoe Om Sagtehoutsteggies Te Maak

Maak sagtehoutsteggies
Herfs is die perfekte tyd om sagtehoutsteggies te maak. Wanneer ʼn mens plante van steggies maak, is die nuwe plante identies aan die moederplant. Tuinmaakvreugde kan baie vorms aanneem, maar die suiwerste vreugde is om nuwe wortels aan steggies te sien of vars groei wat by verdeelde meerjariges uitspruit.
Maak ook steggies van ander somer-blommende plante soos fuchsias, pelargoniums, laventels, visvangerfelicias en magrietbosse.
LEES MEER: Leer hoe om hardehoutsteggies te maak.
Oor Penstemons
Penstemons is gesellige somermeerjariges wat goed saamgaan met ander blomplante en grasagtiges in ʼn gemengde randakker. Hierdie regop plante maak onophoudelik ʼn oorvloed blomstingels met sterk trompetvormige blomme in gelid van vroegsomer tot laat in die herfs wanneer hulle met die helfte teruggesnoei moet word. Dit gee vir jou goeie steggiemateriaal om meer plante te kweek. Snoei dit dan in die vroeë lente op die grond af om die moederplante aan te moedig om weer uit te groei.
Jy Het Nodig
- Bewortelingsmedium – die kommersiële “Seedling Mix” is uitstekend, of meng potgrond met gewaste, growwe riviersand, of voeg vermikuliet of perliet by vir ʼn ligte medium wat vog sal behou sonder om versuip te raak.
- ʼn Houer met dreineergate onder.
- Hormoonpoeier – te kry by kwekerye.
- ʼn Ou potlood of stok.
- ʼn Skerp, skoon snoeiskêr.






Stappe Vir Sagtehoutsteggies
1. Kies sterk en gesonde sagte puntlote van sowat 12 cm lank. Knip die onderpunt van elke steggie net onder ʼn knoop af, verwyder al die knoppe en onderste pare blare en laat bly net ʼn paar bo.
2. Doop die snypunt van die penstemon in water en dan in bewortelingshormoon vir sagtehoutsteggies. Gooi altyd die hormoonpoeier in ʼn klein flessie en gooi die oorblywende poeier weg. Dit voorkom die verspreiding van siektes.
3. Steek die steggies in ʼn skoongemaakte plastiekpot wat met een deel perliet en een deel palmveen of saailingmengsel gevul is en maak goed nat.
4. Maak seker daar is genoeg plek tussen die steggies sodat die blare nie aan mekaar raak nie. Maak goed nat.
5. Bedek die pot met ʼn deursigtige plastieksak wat met stokke van die steggies weggehou word.
6. Sit op ʼn warm skaduplek. As die steggies wortelgeskiet het (as weerstand ondervind word as baie liggies daaraan getrek word), haal hulle versigtig uit en plant in afsonderlike klein potjies om sterk te word.
Wenke vir sukses met sagtehoutsteggies
- Moenie plantmateriaal gebruik wat siek lyk of vol insekte is nie.
- Werk so skoon as moontlik. Al die houers en jou snoeiskêr moet silwerskoon wees.
- Moenie tuingrond as bewortelingsmedium gebruik nie.
- Moenie die steggies bloot net in die grond indruk nie omdat dit hulle sal beskadig. Steek eers ʼn gat in die grond.
- Hou die grondmedium egalig klam maar nooit deurnat nie anders vrot die steggies. Jou tuisgemaakte plastiekkweekhuis sal baie help om vrot te voorkom deur verdamping te keer.
- Hou die steggies beskut teen direkte sonlig.
- Moenie aan die steggies trek om te kyk of dit al wortelgeskiet het nie. Beworteling duur ʼn paar weke (minstens drie tot ses weke). As hulle gesond lyk en jy voel ʼn effense weerstand wanneer jy hulle liggies probeer uittrek, kan jy hul beskermende bedekking afhaal sodat hulle kan afhard en meer wortels maak.
- As jy nuwe groei sien vorm, deurweek hulle tweeweekliks met ʼn groeistimulerende seewierkonsentraat soos Kelpak.