fbpx

Hoe Om Speldekussings Te Kweek

Read in English

Moenie van speldekussings afsien net omdat jy dink jy bly op die verkeerde plek nie!

Langblywende blomkoppe in gele, oranjes en rooie bestaan uit ʼn klomp klein blommetjies met stywe uitstaande style – fassinerend en amper onnatuurlik om aan te raak.

Hibriede en kultivars van ons inheemse speldekussings word oral ter wêreld vir die snyblombedryf gekweek, en is waarskynlik een van die kenmerkendste en herkenbaarste blomme op aarde. In Suid-Afrika, waar speldekussings vandaan kom, sal jy van Julie tot November hulle aan die blom kry.

Spesies soos Leucospermum cordifolium, L. tottum, L. reflexum, L. lineare en L. glabrum is in ruim mate met mekaar gekruis en ʼn groot verskeidenheid moderne hibriede en kultivars wat van gesonde steggies gekweek word, is vir die huistuinier beskikbaar om te plant.

Omdat speldekussings deel van die Kaapse fynbosflora is, is daar dalk die opvatting dat hulle temperamenteel en moeilik is om in ander provinsies te kweek. Dit is nie waar nie omdat hulle elders baie goed vaar, waaronder in klimaatstreke met ʼn ander reënval, en as hulle eers gevestig is, kan hulle selfs ʼn bietjie ryp verdra. Die geheim lê in hoe hulle geplant en versorg word.

Algemene groeivereistes van Speldekussings

Hierdie lede van die familie Proteaceae groei in hul natuurlike habitat in sanderige voedingstofarm grond met ʼn lae pH van tussen 5 en 6. Hulle het ʼn algemene voorkeur vir droë, warm somers en koue, nat winters. Moet egter nie toelaat dat dit jou ontmoedig nie omdat hulle redelik suksesvol gekweek kan word as jy net ʼn paar aanpassings maak:

Plek

Volson (minstens ses uur sonlig) is vir goeie blomproduksie nodig. Selfs ligte skadu sal langbenige groei sonder blomme veroorsaak.

Die Grond

Hoewel sommige variëteite kleigrond kan verdra, is dit die beste om spesiale aandag aan goeie dreinering te gee:

  • Berei die plantgate ongeveer 40 cm diep voor.
  • Meng suurkompos met min fosfaat (soos gekomposteerde bas of ʼn gespesialiseerde fynbosgrondmengsel) met die uitgegraafde grond voor die gat opgevul word.
  • Moenie bloot die plantgat met baie kompos opvul nie omdat jy ʼn opgaarplek skep waarin water sal staan. Dit kan wortelvrot veroorsaak.
  • Effens geligte beddings help met goeie dreinering, maar onthou om fynbos altyd op dieselfde vlak te plant as waarop hulle in hul kwekeryhouers gegroei het.
  • Wees versigtig om nie die wortels te versteur wanneer die plante uit hul kwekeryhouers gehaal word nie.

Onkruid

Die plek om die plante moet onkruidvry wees, maar moet nooit onkruid uitgrawe of uitskoffel nie. Verwyder onkruid met die hand en probeer jou bes om nie die grond te versteur nie. Sny liewer die onkruid op die grond af as jy bang is jy trek die plant uit terwyl jy dit verwyder.

LEES MEER: Leer hoe om Koningsproteas te kweek.

Water

Speldekussings is heeltemal droogtebestand, maar eers as hulle na sowat twee jaar se groei goed gevestig is. Maak onmiddellik na plant nat en gereeld daarna om die grond klam te hou. In tuinleemgrond behoort natmaak twee tot drie keer per week in warm weer genoeg te wees. Jong plante wat in sandgrond of in potte groei, moet elke dag water kry.

Drupbesproeiing met water op grondvlak is baie beter as oorhoofse besproeiing – nat blare is net ʼn uitnodiging vir siekte.

Bemesting van Speldekussings

Speldekussings en ander fynbosplante is daarin gekonfyt om in skraal grond te groei met wortelstelsels wat sonder enige hulp die voedingstowwe sal vind wat hulle nodig het. Die plante is baie gevoelig vir misstowwe met ʼn hoë fosfaat- of stikstofinhoud.

  • Moenie beenmeel tydens plant gebruik nie.
  • Moenie fosfaat in enige vorm gebruik nie.
  • Moenie sampioenkompos, chemiese misstowwe of enige kraalmis gebruik nie.

Fynboskwekers beveel aan dat ʼn mens plante voed met organiese misstowwe teen halfsterkte wat van visemulsie of seewier gemaak is om hulle voort te help.

Snoei

ʼn Speldekussing kan ʼn redelike groot struik (1,5 m hoog en 2 m wyd na gelang van die spesie of hibried) word en maak baie spreidende sytakke wat die blomme aan hul punte dra.

Om lank ʼn gesonde en netjiese plant te geniet, sal jy ʼn bietjie basiese snoeiwerk moet verrig:

  • Pluk gereeld die blomme vir die vaas of sny dooie blomme af sodat die stuk stingel met gesonde blare wat aan die plant oorbly ongeveer 10 tot 15 cm lank is.
  • Verwyder swak of onproduktiewe stingels in die middel van die plant om lugvloei en meer lig in te laat. Dit sal help om plaagen siektebesmetting te voorkom.
  • Verwyder sygroei wat ondertoe groei of op die grond lê.
  • Snoei in die laat lente direk na blom.
  • Moet nooit insny in ou hout waarvan die blare siek of sleg lyk nie.

Probleemoplossing

Raad met ryp: Goed gevestigde plante kan ligte ryp verdra, hoewel die blomme beskadig kan raak. Bedek hulle liewer met rypdoek. Dit is altyd die beste plan om speldekussings in koue klimaatstreke in die lente te plant om vir hulle die geleentheid te gee om gedurende die somer gevestig te raak.

Die volgende kan maak dat speldekussings swak blom:

  • Lae ligvlakke.
  • Te laat snoei in die somer.
  • Geil vegetatiewe groei wat deur hoë stikstofvlakke veroorsaak word.
  • Te veel water.
  • Daglengte – lang, warm dae wat deur korter dae met lae temperature gevolg word, gee die teken vir blominisiëring.

Kan speldekussings in potte geplant word?

Daar is geen rede waarom jy nie hierdie pragtige blomme kan geniet net omdat jy nie ʼn tuin het nie! Gebruik ʼn gespesialiseerde fynbospotgrond of kommersiële potgrond met ʼn bas-en-sand-basis. Kies ook groot, ruim houers wat die grootste deel van die dag in volson sal wees. Maak speldekussings in potte daagliks nat, bedek hulle met dennebas en voed gereeld met ʼn wateroplosbare produk soos Seagro teen halfsterkte.

-->
The Gardener