Kleurryke Winterstruike



In die beperkte ruimtes van voorstedelike tuine is daar nie plek vir permanente winterstruike met negatiewe eienskappe nie. Ons soek nie plante wat baie blare afgooi en vir maande aaneen dormant bly nie, of snoep is met blomme en gou afblom, of gehawend en siek lyk as gevolg van plae en siektes nie. Dié wat ‘n neiging het om skielik hul beddingmaats met ongedissiplineerde groei te oorheers is ook nie welkom nie.
As jy moet stem, trek jou kruisie by hierdie topkandidate – betroubare winterstruike met uitstekende prestasie in die winter, maar ook in ander seisoene.
Leucadendron ‘Safari Sunset’
‘Safari Sunset’ is ‘n skouspelagtige hibried geteel uit twee keëlbosse endemies aan Suid-Afrika se fynboskoninkryk – L. salignum x L. laureolum.
Hierdie winterstruik het helder, wynrooi skutblare op die punte van stingels wat dig gepak is met gesonde groen leeragtige blare wat deur die somer en herfs met rande van maroen geskakeer is. In die winter word die groot bloeiwyses elk met ‘n klein romerige wit keëlblom, omring deur skutblare wat eensklaps na ‘n heldergeel en rooi kombinasie verander.
Hierdie lieflike keëlbos het die toekenning Award of Garden Merit van die RHS verdien en is wȇreldwyd ‘n gewilde plant.
Groeiwyse en klimaat
- Regop, immergroen en meerstammig met ‘n volwasse grootte van ongeveer 2,5 x 2 m.
- Geskik vir alle klimate (ook aan die kus), behalwe dié met baie swaar winterryp.
Kweekwenke
- Volson.
- Baie goed dreinerende sandgrond.
- Gebruik ‘n suur natuurlike deklaag om die vlak wortelstelsel te beskerm. Dit moet nooit versteur word nie.
- Gereelde water vir die eerste twee jaar na plant om dit te vestig. Lae waterbehoeftes daarna.
Snoei
Verwyder die stingels vir die vaas of na blom deur dit terug te sny en sorg dat daar ten minste 10-15 cm van elke stingel wat gesonde blare bevat, oorbly.
Bemesting
Dit is nie nodig om jong plante te voed nie, maar gevestigde plante kan in die lente, midsomer en herfs met Atlantic Bio Ocean gevoed word.
Gebruike
Hierdie winterstruik kan ingespan word as ‘n kleurryke fokusplant, as ‘n skermplant, en in ‘n snyblomtuin aangesien die stingels baie reguit en lank is en uiters goed in die vaas hou.
Loropetalum chinense ‘Plum Gorgeous’
‘Plum Gorgeous’ is ‘n dwerghibried geteel uit spesies wat aan die Hamamelidaceae-familie behoort en inheems is aan Asië. Die botaniese naam is afgelei van die Griekse woord ‘loron’ wat band beteken en ‘petalon’ wat blomblaar beteken en verwys na die unieke tosselagtige blomme.
Alle plantkwekers prys hierdie plant vir die lang seisoen wat dit het, met pragtige wynrooi hartvormige blare wat mekaar oorvleuel, en die oorvloedige produksie van geurige, fraaiingagtige fraiingagtige blomme wat ‘n piek bereik in die lente en herfs, maar ook op ander tye verskyn.
Groeiwyse en klimaat
- Dit is immergroen en gerond, met effens hangende horisontale sytakke en het ‘n volwasse grootte van ongeveer 1,5 x 1,5 m.
- Baie koud- en rypbestand, maar moet teen sterk wind beskut word.
Kweekwenke
- Volson en ligte skaduwee.
- Gekomposteerde, goed dreinerende grond.
- Genoeg water totdat dit gevestig is en dan medium tot lae waterbehoeftes. Dié in potte moet gereeld natgemaak word.
Snoei
Slegs ‘n ligte snoei na blom is nodig om die plant netjies te hou.
Bemesting
Voed met ‘n stadigvrystellende kunsmis na blom in die somer en weer in die herfs.
Gebruike
Geskik vir oosterse en kothuisstyl tuine, as ‘n lae informele heining gekombineer met lemmetjiegroen en grysblarige plante, en manjifiek in ruim potte.
Leptospermum scoparium ‘Cherry Brandy’
Daar word gesê dat teebosse wat aan die mirtefamilie behoort, wat bloekoms en bottelborsels insluit, gedurende die afgelope 20 miljoen jaar van Australië na NieuSeeland geëmigreer het weens sikloon- en windaktiwiteit. Kaptein Cook het blykbaar die blare van L. scoparium gebruik om sy tee te brou en dit nogal geurig gevind.
Uit die vele hibriede van die teebos, is dit ‘Cherry Brandy’, ‘n dwergkultivar, wat steeds gewild is, en met sy massa kersierooi blomme wonderlike kleur aan ‘n winter- en lentetuin gee. Dit verdien sy tuinlosies in ander seisoene met ‘n kompakte vorm en digte, aromatiese, donkergroen blare wat wynrooi getint is.
Groeiwyse en klimaat
- ‘n Kompakte immergroen plant met ‘n hoogte van tot 1 m.
- Nie geskik vir subtropiese streke nie, maar baie aanpasbaar vir gematigde klimate en is koud- en rypgehard. Dit vaar goed aan die kus in die Wes-Kaap.
Kweekwenke
- Volson.
- Grond wat baie goed dreineer is belangrik. Aangesien dit fosfaat-onverdraagsaam is, voeg net goed verrotte kompos by plantgate.
- Gee gereeld water. As die grond vir te lank uitdroog, sal dit vrek.
- Dien ‘n laag kompos as ‘n deklaag om die wortelstelsel toe. Die wortelstelsel is baie vlak en dit moet nooit versteur word nie.
Snoei
Snoei liggies na blom om ‘n mooi gevormde, digte bos te skep. Wees versigtig om nie in ou hout in te sny nie, want dit sal nie weer uitloop nie.
Bemesting
Hou net aan om gereeld die komposdeklaag rondom die wortelstelsel te hernu.
Gebruike
Altyd ‘n perfekte keuse as jy dalk wonder wat om in die winter te plant vir pragtige kleurrykheid in randakkers.
LEES MEER: Leer oor inheemse plante vir jou herfs- en wintertuin



Nandina domestica ‘Pygmaea’
Hierdie dwergie is ‘n kultivar van die ikoniese Nandina domestica (heilige bamboes).
Die pragtige blare verander voortdurend van kleur as gevolg van sy groeiplek of die klimaat se invloed, wat hierdie taai plantjie so begeerlik maak. In volson in warm klimate, sal dit in die somer tinte van oranje en rooi tussen heldergroen blare hê. Koue winters sal die blare helderrooi maak, en lenteweer sal geel en lemmetjiegroen na vore bring.
Groeiwyse en klimaat
- Digte, geronde groeiwyse en ‘n volwasse grootte van ongeveer 60 x 50 cm. Dit is immergroen, maar kan ‘n paar blare laat val as dit baie koud is in die winter.
- Ideaal vir winderige kustuine, verdraagsaam teen warm en vogtige toestande, en redelik gehard teen koue en ryp.
Kweekwenke
- Volson of ligte skaduwee.
- Enige grondsoort sal deug, maar voeg baie kompos en ‘n misstof vir sterk wortelgroei by.
- Gee gereeld water om dit welig te hou.
Snoei
Verwyder dooie en beskadigde stingels in die laatwinter of vroeë lente.
Bemesting
Voed in die lente en herfs met ‘n stadig vrystellende algemene kunsmis. Voed plante in potte meer gereeld.
Gebruike
Dit is die perfekte ruimtevuller in gemengde beddings of gebruik dit in groepe as ‘n grondbedekker om plante met ‘n tropiese voorkoms. Dit is uitstekend om in potte te plant.
Coprosma repens ‘Pacific Sunset’
In die koffieplantfamilie is daar die genus Coprosma, en spesifiek C. repens (spieëlbos), afkomstig van Nieu-Seeland, wat ’n trotse plek in toeka se tuine gehad het – ’n onvernietigbare reus met blink blare. Later kon ‘n mens hibriede met groen-en-room getinte blare ook plant. Europese telers het nou die spesie gebruik om ‘n reeks dwerghibriede te kweek met blare wat in uiters spoggerige kleure getint is.
‘Pacific Sunset’ het blink gegolfde blare met helderrooi middelpunte en sjokoladebruin rande waarvan die kleure baie intenser word in die winter.
Groeiwyse en klimaat
- Natuurlik bosagtig en vinnig groeiend met ‘n volwasse grootte van 1 x 1 m.
- Geskik vir alle klimate, maar moet teen swaar ryp beskerm word. ‘n Seën vir winderige kustuine!
Kweekwenke
- Volson is die beste, maar dit sal ook gedy met oggendson en middagskadu.
- Enige grondsoort wat met kompos verryk is en wat goed dreineer, sal deug.
- Gee gereeld water om die blare glansend en weelderig te hou. Te veel water kan egter die afspeen van blare veroorsaak.
Snoei
‘Pacific Sunset’ reageer baie goed op snoei vir vorm en grootte wanneer nodig. Jy kan ook moderne siersnoeivorms soos sfere en kubusse skep.
Bemesting
Voed in die lente met ‘n gebalanseerde stadig vrystellende misstof om die blare gesond te hou. Voed houerplante gereeld met wateroplosbare blaarbemesting.
Gebruike
Wees dapper genoeg om dit in ‘n massa aan te plant in simplistiese styl in kontemporêre ontwerpe en gebruik dit gerus in swembadtuine. Dit is perfek as ‘n lae heining en uitstekend vir potte.









