fbpx

Kweek Bessies

Read in English

Voer groentetuinmaak tot ʼn nuwe hoogte deur bessies te kweek wat verskeidenheid en kleur aan die tuin en spyskaart verleen en propvol voedingstowwe is.

Afgesien van die algemeen gekweekte appelliefie en aarbeie sluit die verskeidenheid uitheemse bessies wat ons nou kan kweek in bloubessies wat in drie seisoene vrugte dra (vroeg, middel- en laatseisoen), swart en rooi frambose, Taybessies (ʼn kruis tussen ʼn swartbessie en ʼn framboos), doringlose swartbessies, swartaal-, bos- en gojibessies, wat as superkos bekend is.

Volgens Linda Wainman van Just Berry Plants wil die meeste bessies koue winters hê, en was dit baie lank moeilik vir tuiniers om hulle te kweek buiten in die Kaap

Nuwe variëteite word egter vir subtropiese gebiede bekendgestel, en sommige bessieprodusente akklimatiseer jong plante deur hulle die eerste 18 maande in tonnels te kweek sodat hulle sterk wortels kan ontwikkel voor hulle aan tuiniers beskikbaar gestel word.

Linda sê dat die spesifieke grondvereistes van bessies, veral suurliewende blou en bosbessies, nog ʼn probleem was. Die pH van die meeste tuingrond wissel van 6,5 tot 7, wat nie geskik is nie, nie eers met bygevoegde suur kompos nie.

Daar is ook ʼn manier om dit te oorkom. Just Berry Plants verskaf ʼn beginstel wat bestaan uit ʼn mengsel van Litause veenmos, vulkaniese rotsstof uit Mauritius, ʼn bessiegrondmengsel, dennebasdeklaag en ʼn jaar se voorraad misstof.

Met tuine wat al kleiner raak, is bessies ideaal waar ruimte ʼn probleem is. Frambose, en swart- en Taybessies is almal rankplante wat teen heinings, pergolas of ʼn latwerk teen die muur opgelei kan word.

Blou- en gojibessies is middelslag tot groot struike met bloubessies wat in ʼn groot houer gekweek kan word. Die groeikragtiger gojibessies is geskik om opgelei te word. Selfs bosbessies, ʼn stadiggroeiende grondranker met ranke wat tot 2 m lank word, kan in ʼn groot houer gekweek en die ranke opgelei word om om die pot te draai.

Bessiegrondbeginsels

  • Blou- en bosbessies wil grond met ʼn pH van 4,2 hê, maar die meeste ander bessies het net effense suur grond nodig, en gewone tuingrond kan opgeknap word deur suurkompos, dennebas en groen dennenaalde (nie bruin nie, wat hul suurheid verloor het) by te voeg.
  • Bessies hou van vyf tot sewe uur son per dag, óf volson óf oggendson.
  • Berei ʼn gat van 50 cm diep voor om die spreidende wortels te huisves en vir goeie dreinering. Verryk die grond met kompos.
  • Bessies hou van baie water, maar ook van grond wat goed dreineer. Maak in uiters warm weer al om die ander dag nat en verminder dit in die winter tot een of twee maal per week.
  • Bedek met groen dennenaalde of dennebas.

Die gewildste bessie?

Bloubessies, natuurlik, weens hul soetheid, lang raklewe en ryk voorraad antioksidante wat help om kankervormende selle te neutraliseer. Variëteite wat vroeg, middel en laat dra, kan in Hoëveldse tuine gekweek word vir ʼn voorraad bessies van September tot April of Mei.

Daar is meer as 100 bloubessievariëteite en die boere kies die beste geharde kultivars wat die maksimum oes vir die klimaat oplewer. Bloubessievariëteite wat vir subtropiese gebiede aanbeveel word, is Gulf Coast, Sharpblue en Star.

Gulf Coast verlang slegs 100 uur koel tyd (sowat 6 °C) terwyl die meeste ander minstens 200 uur nodig het.

Slegs variëteite wat vroeg dra, kan in subtropiese gebiede gekweek word. Ryp bessies is donkerpers en moet ferm wees, maar ʼn bietjie meegee as hulle gedruk word. Beskerm die bessies met skadudoek teen voëls.

Die maklikste bessie om te kweek?

Gojibessies groei in gewone tuingrond en oorleef warm en koue temperatuuruiterstes. (Hulle verdra ʼn temperatuur) van tot 40 °C en -40 °C. Hulle is droogtebestand en uiters gehard.)

Plante gee nie om vir regknip nie en die sterk groei (2,5 m hoog en 1,5 m wyd) kan opgelei word om dit onder beheer te hou.

Gojibessies is een van die toptiensuperkosse wat ʼn verbasende hoë persentasie proteïen en ʼn rykdom aan antioksidante en meer as 20 vitamiene en minerale bevat. Dit het ʼn effense soet en bitter smaak. Die klein blaartjies is eetbaar en kan by slaaie gevoeg word. Vrugte word in November en Desember gedra. Die klein vruggies verkleur rooi as dit ryp is en moet slegs gepluk word as dit goed ryp is, anders is dit bitter. Droog dit in die son om dit te bewaar en moenie bekommerd wees as die vrugte krimp en piepklein raak nie.

Opleibare bessies

Rooi en swart frambose, swart- en Taybessies kan vertikaal teen stutte of horisontaal teen heinings en laer stutte gekweek word. Moenie dit teen ʼn warm westermuur kweek nie. Die enigste braambos wat nie in uiters koue weer gedy nie, is die Taybessie. Andersins sal frambose, swartbessies, youngbessies en swart frambose in alle gebiede van Suid-Afrika oorleef mits hulle in die regte grond geplant is en na gelang van die seisoen gereeld natgemaak word. Snoei hulle lig deur die hele vrugvormingseisoen en straf aan die einde van die winter om oorvloedige oeste te verseker.

Rooi en swart frambose het soet sagte vrugte wat maklik van die bos afgetrek kan word as dit ryp is. Die vrugte kneus maklik en die beste is om dit vars te eet. Die hoofoestyd vir rooi frambose is in die somer met nog ʼn kleiner oes in Maart en April. Swart frambose dra heeljaar af en toe, selfs in die winter, na gelang van die weerstoestande. Voed jaarliks met ʼn klein hoeveelheid goed verrotte mis en bedek. Maak gereeld nat, en moenie dat die grond uitdroog nie. Sny in die winter die lote wat gedra het tot op die grond terug. Vrugte vorm net aan nuwe lote.

Die swartbessie is ʼn doringlose bessie met pragtige gekleurde vrugte wat ʼn skerp nasmaak eerder as soet geur het. Bessies raak van November tot Februarie ryp. Pluk die bessies as dit sagterig is. Maak gereeld nat, veral as blomme vorm. Verwyder droë lote in die winter en dien ʼn klein bietjie ou mis aan die begin van die lente toe.

Die Taybessie is ʼn kruising tussen ʼn rooi framboos en swartbessie en is vernoem na die Tayrivier in Skotland. Plante dra bessies na twee jaar. Die bessies wat swart is en rooi word as hulle ryp is, is soet met ʼn effense surigheid. Maak die eerste jaar goed nat, bedek met dennebas en bemes om goeie groei aan te moedig.

Die beste bessie vir bak

Swartaalbessies word ʼn struik en produseer klein swart vruggies met ʼn suur smaak wat lekkerder is as hulle gedroog is, en vars vir bak gebruik of met ander vrugte gemeng word. Die blare het kiemwerende en teenswameienskappe. Anders as ander bessies sal dit ʼn bietjie skadu verdra. Snoei dit in die winter as dit rustend is en verwyder ouer stingels om vir nuwe groei plek te maak.

Die beste bessies vir preservering

Bosbessievrugte het ʼn suurderige soet smaak, droog goed en kan gepreserveer word deur dit te bevries, of konfyt en jellie te maak. Bessies word aan jong stingels gedra en in Desember en Januarie geoes. Die klein stingeltjies word tot 40 cm lank en die vrugte word aan hulle ryp. Bosbessies is ʼn goeie bron van vitamiene en antioksidante. Hulle word sterk aanbeveel vir urienweg en prostaatgesondheid.

Bosbessies het nes bloubessies baie suur grond nodig. Dit het ʼn vlak wortelstelsel en die grond moet klam gehou word en nie uitdroog nie.

Het jy ondersteuning nodig? Sluit aan by die Just Berry Plants Facebook-groep of besoek www.justberryplants.co.za

-->
The Gardener