Plant nou, en jy’s reg vir lente!
Begin beplan nou vir die lente om seker te maak dis propvol seisoensprag.
1. Aquilegia (akelei)
Dié mooi een- en/of meerjariges met kenmerkende blomme, dikwels tweekleurig in teenstellende kleure, is ideaal vir spikkelskadu in kouer klimaatstreke waar hulle in ryk leemgrond gedy. Hulle groei maklik van saad wat in die herfs gesaai word en blom van die lente tot die vroeë somer.
2. Delphinium
Dié hoë en statige een- en meerjariges moet teen einde Mei uitgeplant wees ten einde uit te groei om in die lente te blom. Gebruik dit vir agtergrondaanplanting in son en ligte skadu. Hulle is koue- en rypgehard.
3. Dianthus (baardangelier)
Nuwe interspesifiekehibried-dianthusse tref geweldig in die lenteblomtuin. Afgesien van dié groot groeiende dianthusse is daar talle reekse wat kleiner bly om van te kies vir vertonings op die voorgrond.
4. Digitalis (vingerhoedjie)
Goed gekweekte vingerhoedjies beïndruk altyd. Hulle hou van koel klimaatstoestande en ryk grond, en groei die beste in son of spikkelskadu. Maak seker dat die saailinge teen Mei uitgeplant is.
5. Papaver (papawer)
Papawers in al hul verskillende gedaantes en vorms is belangrik in blomrandakkers, veral in die kouer klimaatstreke. Hulle sorg vir ʼn skouspelagtige vertoning met kenmerkende blomme deur die laatwinter tot in die lente. Yslandse papawers moet al teen middel Junie uitgeplant wees om ʼn goeie blommedrag te verseker. Oppas om saailinge te vroeg te wil uitplant wanneer herfshitte die jong plante kan beskadig. Volson en goed gedreineerde soet of alkaliese grond is die beste vir papawers.
6. Primula (sleutelblom)
Primula malacoides of feetjieprimula is die staatmaker van skadublomme vir die winteren lentetuin. Hulle hou van koel toestande en effense suur grond. Hoewel hulle hoofsaaklik wit of laventel van kleur is, raak nuwer pienk en pers skakerings al hoe gewilder. Plant saailinge gedurende Mei uit vir ʼn spesiale lentevertoning.
Vir verdere inligting oor die plante en nog meer, koop die Maart uitgawe van Die Tuinier of The Gardener!