
Retroplante Waarvan Ons Steeds Hou



Is hulle weg en deur ander plante vervang, of sal ons hulle weer plant as ons kan? Dit lyk of modes en neigings ʼn kringloop volg, wat plantgewildheid insluit. Wat eens baie “in” was, kan skielik “uit” wees. Net soos rokerige oë, die minirok en die sjoebroekie nie blywend aan die vergetelheid toevertrou word nie, kan sommige outydse ‘retroplante’ na ons tuine terugkeer. Ons neem jou op ʼn nostalgiese reis om jou aan hierdie retroplante te herinner, maar kyk ook na die redes waarom hulle uit die mode geraak het, as daar werklik redes is.
Abelia x grandiflora (blink-abelia)
In veral kouer tuine, en selfs in “moeilike” klimaatstreke soos kustuine, kon jy reken op die blink-abelia, gewoonlik die eerste plant wat in tuinboeke of katalogusse gelys word. Hoewel die genus sowat 30 spesies van Mexiko en Asië insluit, is die blink-abelia ʼn immergroen tuinhibried wat ongeveer 2 m x 1,5 m word met lang sytakke. Sy klein ovaal blaartjies is donkergroen en blink met ʼn brons tint aan sowel ouer as nuwe blare. Dit dra trosse subtiel gegeurde wit klokvormige blomme met ʼn sagpienk tint en rosige tot pers blomkelke.
Al was daar in volle blom geen tekort aan blomme, is dit nooit in die eerste plek as buitengewoon aantreklike blomstruik geplant nie, maar eerder as ʼn betroubare groeier wat in son en ligte skadu hom as agtergrondstruik of informele heining kon handhaaf.
In ʼn neutedop
- Maklik om te kweek – geen spesiale grondvoorkeur nie.
- Aanloklik vir bye en skoenlappers.
- Sal waarskynlik nie van plae en siekte doodgaan nie.
- Goeie winterloof.
- Matige watergebruiker.
Aan die ander kant
Die gewildheid van hierdie betroubare retroplante het waarskynlik getaan vanweë talle latere hibriede met kleiner volwasse groottes en kleurryke bont loof.
Grevillea lanigera ‘Mount Tamboritha’
Die uiters bekoorlike, laaggroeiende struik wat ook as die spinnekopblom bekend staan, is goed opgewasse teen ʼn groot verskeidenheid klimaatstoestande. Hierdie Australiese plant is selfs bestand teen elke taai klap wat Moeder Natuur daaraan in Afrika uitdeel, van stormagtige kuswinde, warm en droë somers tot uiterste winterkoue. Dit is immergroen met digte, sagte naaldagtige loof, ʼn netjiese groeiwyse van tot 50 cm hoog, asook ʼn verrassend wye verspreiding van amper 2 m wat dit ideaal maak om oor keermure of op warm banke te plant. Pienkrooi-room blomme met ʼn ongewone voorkoms met meeldrade wat uitsteek, verskyn van die winter tot die somer.
In ʼn neutedop
- ʼn Digte platgroeiende struik wat vir alle klimaatstreke geskik is.
- ʼn Maklike groeier.
- Min waterverbruik as dit gevestig is.
Aan die ander kant
Aangesien grevilleas tot die Proteaceae-familie behoort, het hulle basies dieselfde kenmerke as ons fynbos. ‘Mount Tamboritha’ kan soms doodgaan weens wortelversteuring, wortelsiekte of oorbemesting, wat daaraan ʼn slegte reputasie gegee het.
Hebe diosmifolia (veronica)
Lank gelede toe ons nog lief was om eenkleurige tuine te plant (veral dié met slegs wit blomme) was die outydse en retroplante Hebe diosmifolia ʼn nogal gewilde randplant met klein, glansende donkergroen blaartjies en fyn blomkoppies vol wit blommetjies. Dis ʼn geharde klein struikie wat skaars groter as 25 cm x 30 cm word. Die genus Hebe, wat vernoem is na die Griekse godin van die ewige jeug, bestaan uit meer as 90 spesies en is die grootste plantgenus in Nieu-Seeland.
In ʼn neutedop
- ʼn Oulike vullerplant vir blywende somerkleur.
- Matige waterverbruik.
- Ideaal vir kleiner tuine.
Nadelige aspekte van retroplante
Die hebes van die verlede was nie die maklikste plante om te kweek nie. Hulle kon een seisoen pragtige blomme en loof maak om net die volgende vrot van die roes en takkiesrige groei te wees met feitlik geen blomme nie vanweë die nogal wisselvallige gedrag van die ouer variëteite. Daar is hernude belangstelling in hebes met nuwe hibriede wat veel taaier is. Hulle is siektebestand, het kompakte groeiwyses en dra pragtige veelkleurige blomme.



Ixora coccinea (vlam-van-die-woud)
Die vlam-van-die-woud is die spoggerige naverwant van die koffieplant omdat albei lede van die Rubiaceae-familie is. Dié pragstuk met sy lieflike somer- en herfsvertoning van groot blomkoppe wat uit diggepakte rooi buisblomme bestaan, is meer kouebestand as die ander uitheemse ixoras en daarom geskik vir subtropiese klimaatstreke. Die groeivorm is immergroen en dig vertak van 1,2 m tot 1,8 m hoog met blink donkergroen leeragtige blare. Dit hou van volson of skadu en klam goed dreinerende grond.
In ʼn neutedop
- Word dikwels as sierheining gebruik.
- Uitstekend as patioplant of binnenshuise blomplant.
- Geskik om in ruim houers langs die swembad te plant.
Aan die ander kant
Ek sien nie regtig ʼn nadeel nie omdat dit ook vir blommerangskikking geskik is. In Indië en ander streke van Asië word dit alom as medisinale plant gebruik om onder meer kwale soos velinfeksies en hik te genees en skilfers te bekamp. Dalk het dit sy gewildheid verloor weens die beskikbaarheid van talryke kleiner kultivars in ʼn groot verskeidenheid kleure. Ons kan beslis kweekhuisgekweekte ixoras verwelkom om as blommende huisplante te gebruik.
Philadelphus coronarius (boerejasmyn)
Dié kouebestande bladwisselende struik vir droë agtergrondrandakkers met sy outydse bekoring is groot (2,5 m x 1,5 m) en het buigende takke met donkergroen somerloof. In die lente is dit toe onder vierkroonblarige, koppievormige wit blomme met ʼn heerlike lemoenbloeiselgeur.
In ʼn neutedop
- Bestand teen ryp.
- Matige watervereistes.
- Is tevore dikwels as informele blomheining in groot tuine gebruik.
Nadelige aspekte van retroplante
Hoewel dit fantasties is as dit blom, kan dit die res van die jaar agteruitgaan as dit nie onmiddellik na blom gesnoei word nie. Soms is ʼn drastiese terugsny tot op die grond nodig om afgeleefde plante te vernuwe. Dit is ook geneig om sylote te maak met nuwe plante wat oral in die tuin opkom.
Hibiscus rosa-sinensis ‘Canary Island’
ʼn Vriend van my het hierdie struik, wat jou elke somer- en herfsdag ʼn blom gee, “ordinêr” genoem. Wel, wys my enige ander struik wat so vreugdevol blom in subtropiese, gematigde en warm kustuine. Dit het talle gebruike in die tuin, as skerm, heining, klein boompie as dit in ʼn enkelstammige plant opgelei word, en as hoofstamvormeksemplaar.
In ʼn neutedop
- Vinnig groeiend.
- Windbestand.
- Min waterverbruik en min sorg as dit gevestig is.
Aan die ander kant
‘Canary Island’ en baie ander retroplante variëteite het hul plek in ons harte verloor vanweë die vrystelling van moderne variëteite met uiters spoggerige blomme en kleiner groottes, wat hulle geskik maak vir klein tuine en om in patiopotte te kweek, wat wonderlik is. Ek is egter steeds lief vir my groot ou plant waarvan die onderste takke altyd kaal gestroop van die pragtige en veilige blomme is wat die kinders so geniet om mee te speel.



Mahonia lomariifolia (bergdruif)
Dit is nie ʼn plant wat jou uitnooi om daaraan te vat nie omdat die krone van nogal sierlike donkergroen veeragtige en leeragtige blare wat amper 50 cm lank kan word, uiters doringrige rande het. Daar is ook baie van hulle omdat hierdie vreemde regop plant (tot 3 m hoog en 2 m wyd) veelstammig is. Wat die bergdruif tevore so gewild gemaak het, is sy gewilligheid om in baie diep skadu te groei, ook sy bestandheid teen wind, lang droogtetye, uiterste koue en swaar ryp. Nog ʼn bonus is groot en regop pluime klein geel blommetjies wat van laatherfs tot die winter gedra word, selfs al groei die plant in die moeilikste toestande. Hulle word deur klein donkerblou tot amper swart vrugte gevolg.
In ʼn neutedop
- Uiters gehard.
- ʼn Liefhebber van die donkerte.
- ʼn Goeie sekuriteitsplant.
- Aantreklik vir vrugtevretende voëls.
Nadelige aspekte van retroplante
Selfs al kan Mahonia ʼn dramatiese eksemplaarplant word, het dit die slegte gewoonte om baie van sy harde, stekelrige blare te verloor as dit volwassenheid bereik, wat dit met kaal stingels laat. Langbenige plante kan in die lente straf teruggesnoei word om kompakte en bosagtige groei aan te moedig, maar dit verydel die doel van die oefening en veroorsaak ongemaklike snoeiwerk.
LEES MEER: Leer oor swart binnenhuise plante
Chaenomeles speciosa (Sierkweper)
As hierdie Asiatiese plant sy blare in die koel maande verloor, hou dit enigiemand met ʼn sin vir orde vir die gek – die deurmekaar en digte takkiesrige groei met stekelrige takke is nie juis netjies nie, maar na ʼn koue en lang winter bars dit skielik uit in die pragtigste waatlemoenkleurige bloeisels wat niemand kan weerstaan nie.
In ʼn neutedop
- ʼn Taai sekuriteitsheining.
- Laatwinterkleur met spoggerige bloeisels voor die blare uitkom.
- Eetbare en geurige vrugte, maar geskikter vir konfyte en jellies as om net van die plant af te eet.
Nadelige aspekte van retroplante
Wat die volhoubare voedselskapperingskant betref, sal dit waarskynlik vir jou voordeliger wees as jy ʼn regte kweper plant. Aan die sierlike kant, kan ek vir jou sê dat die bloeisels aan hierdie plant alle ander bloeisels maklik oortref, en dat jy dit in die doringrige dieptes in sal waag om ʼn paar takke oortrek met blomme te pluk om in die huis in te bring ten spyte daarvan dat jy daarna ʼn bietjie bloei . . .
Thryptomene ‘Paynes hybrid’
In die dae voor ons ons eie heide of Erica-spesies kon plant (omdat hulle toe nog nie kommersieel gekweek is nie), het ons eerder op ‘Paynes hybrid’ staatgemaak. Die Australiese plant wat soos ʼn heideplant of erika lyk, is gedurende die winter of lente oortrek met ʼn massa fyn pienk blommetjies met piepklein heideagtige blaartjies wat aromaties is as dit gekneus word. Hierdie plant het ‘n spreidende groeiwyse en word ongeveer 1 m hoog en versprei 1,5 m. Die oorsprong van die heideagtige ‘Paynes hybrid’ is onbekend, hoewel die spesie T. Saxicola dalk daartoe bydra het . . .
In ʼn neutedop
- ʼn Betroubare winter- en vroeglenteblommende struik wat voluit blom.
- Geskik vir ʼn klimaat wat nie te warm of te koud is nie.
- Plaag- en siektevry
Aan die ander kant
Hierdie plant moes plek maak vir die fleurigheid en verskeidenheid van ons eie inheemse erikaspesies. Hoewel ons nooit bekommerd was om ʼn thryptomene se spreidende takke bedek met piepklein blommetjies af te knip nie om dit in blompotte binnenshuis te vertoon, kan geeneen van ons dit oor ons hart kry om dit met ʼn inheemse erika te doen wat ons suksesvol gekweek het nie, al pleit die plant eintlik met jou om dit te doen. Beskou dit as ligte snoei om nuwe groei aan te moedig en as blomvergoeding nadat dit ʼn geleentheid in jou tuin gegee is.