fbpx

Snoei Elke Maand

Read in English

Daar word gesnoei vir netheid en vorm, om natuurlike skade en besmetting deur plae te beperk, om te beheer, meer lig in te laat en om estetiese redes, maar veral om digte groei en ʼn beter blaar-, blom- en vrugteoes aan te moedig.

Die snoeiproses behels om met die hand dele van ʼn plant op ʼn spesifieke tyd van die jaar te verwyder om dit te dwing om positief te reageer in die daaropvolgende maande of seisoene.

Geen skade word aangerig as jy dalk ʼn maand of twee te laat snoei nie mits jy die plant se biologiese klok in gedagte hou. Strawwe snoei voor dit vir blom gereed maak, laat jou dalk net iets belangriks misloop – vra maar vir enigiemand wat al ʼn Kaapse mei (Spiraea) in die winter erg bygedam het!

Snoei sluit in die afpluk van dooie blomknoppe en die uitknyp, knip, terugsny of verwydering van takkies of takke. Dié kort snoeigids sal jou help onthou wanneer om dit te doen.

Januarie

  • Verwyder lae takke van bome wat te veel skadu oor grasperke en blombeddings gooi.
  • Somersnoei rose liggies om ʼn herfsdrag aan te moedig.
  • Pluk dooie krismisrose af en sny die stingels laer af by die paar gesondste knoppe wat te sien is.
  • Kort in oorgroeide rankers soos sierdruiwe, bloureën en Bostonse klimop en bind weer aan hul stutte vas.
  • Snoei vygies tot by hul basis terug om steggies te maak.
  • Sny terug shastamadeliefies, engelvlerkies, salies en oorgroeide petunias sodat hulle weer in die herfs sal blom.

Februarie

  • Sny dooie lelieblomme af en laat bly die grootste deel van die stingels om die bolle vir die volgende seisoen te voed.
  • Snoei immergroen heinings soos viburnums, photinias, buxus en syzigiums.
  • Knip die vorm van siersnoeiplante reg.
  • Sny terug fuchsias vir digter groei en steggiemateriaal.

Maart

  • Snoei lang, skraal pelargoniums om te vernuwe en vir steggies.
  • Sny terug kannas en heliconias.
  • Verwyder groen groei wat by bontblaarplante soos coprosma-hibriede uitspruit.
  • Begin sny oorgroeide somerkruie terug om vir wintergebruik te verwerk.

April

  • Sny terug uitgeblomde meerjariges soos salies, euphorbias, keëlblomme, meerjarige floksies, laventels en engelvlerkies, waarvan die herfsdrag verby is.
  • Snoei liggies tibouchinas in subtropiese klimaatstreke en verwyder ou hout om hulle in toom te hou.
  • Snoei bougainvilleas en bougainvilleaheinings in gematigde klimaatstreke.

Mei

  • Snoei plectranthus spesies en -variëteite sodra hulle uitgeblom is in die herfs.
  • Sny dahlias op die grond af en haal die wortelstokke uit vir bêre.
  • Snoei krisante af om bosagtige groei aan te moedig.
  • Sny terug Japanse anemone, michaelmasmadeliefies en magrietbosse.

LEES MEER: Leer oor beskutting van plante teen ryp.

Junie

  • Begin snoei bladwisselende struike en bome aan die einde van die maand om hulle netjies te maak en te vorm. Moenie die lenteblommendes soos Kaapse mei (Spiraea), boerejasmyn, prunus en gewone drolpeer (Dombeya rotundifolia) snoei nie.
  • Knyp winterjaarplante soos gesiggies, viooltjies en leeubekkies gereeld terug vir bosagtige groei en meer blomme.
  • Verwyder die ou blare van oorgroeide vlasse, cordylines en palmbome.
  • Konifere groei aktief in die winter en kan liggies geknip word om digter loof aan te moedig.
  • Sny terug sierveldgrasse soos pennisetumhibriede, Muhlenbergia capillaris, Aristida juncea en sebragrasse.

Julie

  • Begin snoei rose teen die einde van die maand en maak klaar in Augustus.
  • Snoei ook nou Chinese lanterns, hibiskusse, syselbosse, blomgranate, santolinas, solanums, Kaapse kanferfoelies, bosviooltjies, berberis, durantas, lintbosse en kanarieklimoppe.
  • Begin snoei wingerdstokke en bladwisselende vrugtebome soos pruim, appelkoos-, peer- en appelbome aan die einde van Junie – perskebome word later uitgedun as hulle blom.
  • Snoei framboostakke wat gedra het op die grond af.
  • Snoei appelliefies deur bloot alles in die helfte of selfs laer af te sny.
  • Knip grenadellas naby die grond af.

Augustus

  • Snoei struike soos poinsettias, buddlejas, heliotrope, gouereën, wildedagga en krismisrose.
  • Snoei en vorm kamelias eers as hulle klaar geblom het.

September

  • Snoei rypbeskadigde plante eers as die gevaar van laat ryp verby is.
  • Snoei bloureën sodra dit uitgeblom is.
  • Maak acalyphas en krotons netjies.
  • Begin om die nuwe groei aan vormplante reg te knip.

Oktober

  • Verwyder die dooie blomme en dooie blomstingels van aalwyne.
  • Snoei blombome en struike soos blomperskes, amandels, blomkwepers, magnolias, houtappels en Kaapse mei in dien nodig.
  • Snoei immergroen heinings.

November

  • Maak netjies lenteblommende plante soos die jasmyne, osteospermums, geraniums en magrietbosse.
  • Snoei fynbos soos boegoes, leucospermums, erikas, proteas en konfettibosse.
  • Snoei laventels, teebosse en escallonias.
  • Verwyder die afgeblomde sentrale are van delphiniums en vingerhoedjies net onder die laaste blomme aan die stingel. Nuwe korter are sal uitspruit.
  • Snoei verbleikblomme en petreas liggies.

Desember

  • Snoei oorgroeide heinings.
  • Hou aan om vormplante te vorm.
  • Snoei banksiarose.
-->
The Gardener