
Bied Weerstand Teen Die Ryp



Wanneer die temperatuur tot 0 °C of laer daal, sit ons graag binne warm aangetrek met ʼn kombers of om die vuur om ons warm te hou. Ongelukkig het die plante in ons tuin nie daardie luukse nie. Hulle moet die elemente trotseer en staan in die proses voor moontlike ernstige skade.
Hoe ryp plante beïnvloed
ʼn Laag wit yskristalle wat jou tuin bedek, is ʼn kommerwekkende teken, veral as dit lank aanhou. Ryp skaad egter nie net die buitevoorkoms van jou plante nie. Yskristalle kan ook op selvlak skade aanrig en maak dele van die plant of moontlik die hele plant dood as dit nie beskut word nie.
Yskristalle wat buite die plantselle vorm, kan dehidrering en skade aan die selwande veroorsaak. Dié skade maak dat selmembrane skeur en beïnvloed belangrike selprosesse wat die plant aan die lewe hou. Ryp vorm ook in die plantselle. As ys in die sel vorm, kan die sel uitsit en bars, wat tot die dood daarvan lei. Die vorming van yskristalle in die sel verminder ook vlakke van belangrike verbindings soos aminosure en suikers wat noodsaaklik is vir plantoorlewing.
Sommige plante is, na gelang van die toestande in hul natuurlike omgewings, begryplikerwys gevoeliger vir ryp as ander. Jonger plante is ook kwesbaarder vir skade as volwasse, gevestigde plante, veral as die ryp lank aanhou.
Hoewel ryp tydens temperatuurdalings op jou plante opmerklik is, kan die aangerigte skade eers dae later sigbaar begin raak. Blare en stingels kan as gevolg van die selskade verkleur en sag raak met ʼn paar vormveranderings. Plante sal waarskynlik ophou groei of hul blare verloor as die skade erg is.
Swartryp
Swartryp is ʼn selfs meer verontrustende soort ryp wat plaasvind as die temperatuur in droë toestande vinnig daal. Die skade wat deur swartryp aangerig word, kan subtieler en bedriegliker wees omdat die vriestemperatuur maak dat water in die plantselle vries en uitsit, wat tot die skeur en dood van selle lei sonder enige sigbare rypbedekking hoegenaamd op die plante. ʼn Mens merk waarskynlik eers die probleem op as jou plante begin swart word en doodgaan – vandaar die naam “swartryp”.
Beskutting van plante teen ryp
As jy in ʼn streek woon wat aan ryp onderhewig is, moet die beskutting van jou plante tydens die koeler maande voorop in jou gedagtes wees. Die eerste stap is om rypgeharde plante te kies. As jy egter enkele kwesbaarder plante kweek, is daar ʼn paar maniere om hulle warm te hou.
LEES MEER: Leer oor inheemse plante vir jou herfs- en wintertuin



Rypkomberse
Rypdoek soos Frost Gard is die eerste ding waarna baie tuiniers gryp. Hierdie doek word bloot oor die beddings of afsonderlike plante gedrapeer wanneer ryp verwag word, wat hulle veilig hou teen skade. As bykomende bonus kan hierdie bedekkings ook voëls en sekere goggas keer om by jou plante te kom, en is veral nuttig in eetbare tuine.
1. Maak seker die rypkomberse is stewig om die kante geanker om te keer dat die wind dit wegwaai. Gebruik klippe, bakstene of ander swaar voorwerpe om die kombers op sy plek te hou.
2. Maak seker dat die rypkombers die hele plant tot op die grond bedek en maak dit dubbeld as die temperatuur aansienlik daal. As daar openinge is, kan die koue lug inkom en die plant beskadig.
3. Gebruik stutte of ander steune om ʼn tentstruktuur te maak wat die kombers van die plante af weghou. Vou die kombers gedurende die dag oop om sonlig in te laat en verwyder eers as die gevaar van ryp verby is.
Bedekking
Bedekking hou ʼn indrukwekkende reeks voordele van vogbehoud tot onkruidonderdrukking in. Tydens temperatuurdalings is ʼn deklaag egter ook ʼn manier om jou plantwortels teen rypskade te beskut. ʼn Deklaag dien as ʼn isolerende laag wat hitte help binnehou en die grond om die plantwortels warm hou. Dit help ook vog in die grond behou wat kan help voorkom dat die grond vries en die plantwortels beskadig word. As jy ná ryp kan verhoed dat die wortelstelsel ernstige skade opdoen, behoort jou tuin weer te kan groei, selfs al het jy ʼn klompie blare verloor.
Terugsny
ʼn Deel van jou gereelde snoeiskedule moet, vóór dit ryp, die terugsny van sommige plante insluit om hulle teen skade te beskerm. Sagte meerjariges soos begonias en impatiëns trek voordeel uit regknip om moontlike skade aan kwesbare loof te beperk. Bedek die onderkante ná terugsny met ʼn dik deklaag om die wortels te beskerm. Nuwe groei sal weer uitstoot en sterk begin groei wanneer die temperatuur styg.
Ryp sal die plantdele doodmaak wat aan die meeste koue blootgestel word. ʼn Bietjie groen groei bly dalk onder die skade behoue wat daarop dui dat die plant waarskynlik in die lente sal herstel.
Moenie jou rypbeskadigde plante dadelik snoei nie. Dit sal die oorblywende groen groei aan verdere skade blootstel wat die plant moontlik kan doodmaak. Wag met terugsny tot die lente as die temperatuur al styg.
Verskuif jou potte
Plante in houers het die voordeel van draagbaarheid wat jou toelaat om hulle bloot na ʼn kol te verskuif waar hulle nie beïnvloed sal word as ryp verwag word nie. Dis waarom dit nuttig is om veral gevoelige plante in houers te plant as jy in ʼn gebied met ryp woon wat jou sonder sukkel help voorberei vir die wintermaande. Verskuif jou houers na ʼn kweekhuis, of selfs binnenshuis, waar hulle beskut kan wees tot die gevaar van ryp afneem. Probeer toestande soos sonlig en natmaak so bestendig moontlik hou om die stres van veranderende omgewings te beperk. As jou groot potte swaar is, kry hulp, of hou hulle op wieletjies om verskuif maklik te maak.



Selfdoenklokskerms
Kleiner plante kan met selfgemaakte klokskerms van plastiekbottels teen gevare beskut word. Al is dié klokskerms kleinerig, is dit so maklik om hulle te maak dat jy verskeie voor hande kan hê vir afsonderlike plante in jou beddings. Sny die onderkant van ʼn groot plastiekbottel af en sit dit soos ʼn minikweekhuis oor jou plant. Die plastiek sal die plant teen ryp beskut terwyl die bottel se smal opening lugvloei sal toelaat.
Draai bome toe
Nuut geplante bome is veel kwesbaarder vir ryp as gevestigde bome. Dis noodsaaklik om skade tydens dié uiters belangrike groeistadium te voorkom, veral by vrugtebome wat jy plant om later van te oes. Draai goiing of ʼn ander isoleerstof om die takke van jong bome om hulle in die herfs en winter te beskut wanneer die gevaar van ryp groot is. Hoewel bome redelik goed van ligte rypskade kan herstel, is dit altyd veel beter om die skade heeltemal te voorkom om jou bome so gesond moontlik te hou.
Ten slotte, as jy dié bykomende onderhoud jaar na jaar wil voorkom, hou by plante wat die winter in jou klimaatstreek beter oorleef of plant hulle op ʼn beskutte plek. Op dié manier kan jy, selfs al is die ryp op pad, lekker warm aangetrek binne bly sonder om jou heelseisoen oor jou tuin te bekommer.