fbpx
strelitzias

Strelitzias – Paradysvoëls

Read in English

Van die herfs tot die lente as die pragtige bootvormige bloeiskedes verskyn wat met ʼn kam van helderoranje kelkblare en diepblou kroonblare herinner aan eksotiese voëls wat reg is om weg te vlieg, weet ons ons lewe tog in die paradys . . .

Toe in 1976 op ons nasionale blom besluit moes word, moes dit ʼn moeilike beslissing tussen Strelitzia reginae (kraanvoëlblom, paradysblom) en Protea cynaroides (koningsprotea) gewees het. Albei het unieke en treffende blomme, en kom net in ons land voor. Die protea het die stryd gewen, maar die kraanvoëlblom is darem agterop die 50c-munt vereer en is so geliefd in die res van die wêreld dat dit die stadsembleem van die stad Los Angeles geword het

Die genusnaam Strelitzia het glad ʼn koloniale konnotasie aangesien dit ontleen is aan die Huis van Mecklenburg-Strelitz, die geboorteplek van koningin Charlotte, vrou van koning George III van Engeland. Ons het vyf inheemse spesies waarvan S. reginae, S. juncea en S. nicolai maklik verkrygbaar is vir die huistuinier. Strelitzia alba en Strelitzia caudata wat twee piesangagtige boomstrelitzias is, word nie in die kwekeryhandel alom verbou nie.

Strelitzia reginae (kraanvoëlblom)

Hierdie stamlose meerjarige wat ongeveer 1,5 m by 2 m word, kom van Humansdorp in die Oos-Kaap tot Noord-KwaZulu-Natal voor in spikkelskadu in kusruigtes en bosrande, en in volson langs rivieroewers.

Dit dra ʼn dik pol uiters mooi grysgroen spiesagtige blare wat soos ʼn formele waaier gerangskik is. Jong blare het soms ʼn pienk tint op hul sentrale ribbe en voel glad. Die blare is net so gewild in die blommekunswêreld as die blomme.

Die bloeiwyse aan ʼn lang, dik silindriese steel hou ʼn horisontale wasagtige bootvormige bloeiskede in tinte van groen en roespers en het ʼn kam van regop oranje kelkblare en diepblou tot donkerpers kroonblare. Die bloeiskede dien as landingsplek vir suikerbekkies en die hele pakket stel ʼn klewerige vloeistof vry waaraan hulle graag smul terwyl hulle die plante bestuif. Hierdie uiters elegante en statige blomme hou besonder goed in die vaas.

Die wortelbal is groeikragtig en saamgestel uit vlesige vingeragtige wortels. Iets om in gedagte te hou is dat dit uiters moeilik is om hierdie plante uit te grawe en te verplant as hulle geplant is op ʼn plek wat nie groot genoeg vir hul volwasse grootte is nie. Dit kan in die herfs verdeel word as nog plante verlang word, maar dis rugbreekwerk. Ook, as die plante verdeel word, duur dit ʼn paar jaar voor hulle weer goed begin blom. Strelitzias kan ook gekweek word van die harde swart sade, elk met ʼn pluisie helderoranje arillus, en sal na drie tot vier jaar begin blom.

Strelitzia reginae ‘Mandela’s Gold’

Hierdie strelizia het goudgeel kelkblare en nie so ʼn sterk groeiwyse nie. Teen ongeveer 1970 is dit geselekteer en met die hand bestuif by die Kirstenbosch Botaniese Tuin waar dit eers ‘Kirstenbosch Gold’ genoem is. Dit het baie jare geduur om voorraad van hierdie vorm op te bou vir tuiniers om te plant. Dit is in 1996 ter ere van Nelson Mandela herbenoem.

Strelitzia juncea

Die biesiestrelitzia is ʼn gesogte spesie wat baie beperk in die natuur voorkom in droë en dorre gebiede naby Uitenhage (Kariega), Patensie en net noord van Port Elizabeth (Gqeberha). Dit het lang en taai dofgrysgroen silindries gepunte stele. Die blomme is soortgelyk maar effens kleiner as dié van S. reginae en word net onder die vlak van die hoogste blaarpunte gedra. Dit groei uiters stadig.

Strelitzia reginae var. parvifolia is vermoedelik ʼn natuurlike kruising tussen die twee polvormende spesies. Die rietagtige blaarstele eindig in lepelvormige klein blaartjies wat aan bottermesse herinner.

Strelitzia nicolai

Die Natalse wildepiesang is ʼn piesangagtige meerstammige boom wat aan ʼn tropiese palm herinner. Lang dik blaarstele met enorme bekoorlike blare van tot 2 m lank word aan houterige stele gedra.

Die blare skeur dikwels in linte in sterk wind wat maak dat hulle soos reusevere lyk. Die saamgestelde bloeiwyses (daar is meer as een blom wat soos ʼn dubbeldekker op mekaar sit) het donkergrys tot maroen bloeiskedes, wit kelkblare en mauve kroonblare. Die interessante maar uiters morsige, taai blomme verskyn van die lente tot laatsomer.

ʼn Groeikragtige wortelstelsel en monsteragtige grootte van 12 m by 4 m kan daartoe lei dat hierdie plant dikwels groot ontwrigting veroorsaak in ʼn tuin wat nie groot genoeg daarvoor is nie. Dit vreet fondamente op en breek maklik mure. Dit spruit ook aan die onderkant uit wat die pol in ʼn japtrap dik maak.

Aangesien dié strelitzia nie om sy snyblomme nie maar eerder om sy tropiese loof gewaardeer word, het dit ʼn uiters gewilde groot huisplant geraak wat ʼn mens in ʼn ruim houer in helder lig binnenshuis kan hou. Deur dit in ʼn houer te plant word sy grootte vir baie jare beperk sonder skade.

Strelitzias in houers

Al die spesies wat hier genoem word, is geskik om as fokusplante in mooi groot houers te kweek. Sit ʼn goeie dreineerlaag onderin om te keer dat die wortels vrot en goeie kwaliteitpotgrond kan voor plant met kompos en stadig vrystellende misstof gemeng word. Maak gepotte strelitzias gereelder nat (sonder om dit te oordoen!) en voed gereeld gedurende die warmer maande van die jaar met ʼn wateroplosbare misstof.

Algemene groeivereistes vir strelitzias

  • Plant dit in volson of ligte skadu.
  • Verskaf goed gedreineerde komposryke grond.
  • Maak jong plante gereeld nat gedurende die somer. As dit eers gevestig is, het hulle matige tot min waterbehoeftes en kan droogtetye baie goed oorleef.
  • ʼn Goed voorbereide plantgat met kompos en stadig vrystellende misstof is gewoonlik voldoende, maar jy kan onvolwasse eksemplare ʼn hupstoot gee deur in die lente en weer laatsomer misstof toe te dien.
  • Maak die plante netjies deur dooie blomme en stele af te sny. Sny ook toiingrige blare af.
-->
The Gardener