fbpx

Wat is Potgrond?

Read in English

Tegnies gesproke is kommersiële potgrond glad nie grond nie, maar ʼn mengsel van materiale soos gekomposteerde bas, perliet, veenmos, vermikuliet, klapperhaar, riviersand of fyn gruis en kompos.

Die ideale potmedium is lig en los sodat plante maklik daarin kan wortelskiet, en lugtig genoeg om genoeg suurstof toe te laat om plantwortels te bereik. Dis reukloos, dreineer goed, maar behou ook vog. Dit moet ʼn bietjie voedingstofwaarde bevat, vry wees van siektes en onkruid, en moenie te vinnig afbreek, verdig raak of moeilik weer hidrateer nie.

Kan jy dit tuis maak?

Hoewel dit gerieflik is om net veeldoelige kommersiële potgrond te koop, kan dit duur raak as jy baie houers moet volmaak. Dis ook pret om jou eie “spesialiteitsmengsel” in die ou kruiwa saam te stel, en jy kan met jou resep eksperimenteer en dit algaande aanpas.

Basiese resepte

Potgrondresepte is volop en wissel van die swaar outydse mengsels met leemgrond as basis tot hedendaagse mengsels wat met organiese misstowwe, waterhoudende produkte en grondopknappers verryk word.

Potgrondbestanddeel notas:

Die palmveen is in ʼn blok te kry wat vooraf in sowat drie tot vier liter water uitgeswel word, dan word dit opgebreek, uitgepluis en die oortollige water uitgedruk. Veenmos is tevore gebruik, maar is nie volhoubaar nie, vandaar die ekonomieser palmveen wat net so goed werk.

Perliet lyk soos polistireenballetjies, maar bestaan eintlik uit gevuurde vulkaniese klip. Dit help met dreinering en maak die grond ligter.

Vermikuliet bestaan uit silwergrys gekleurde deeltjies. Dis ʼn natuurlike vulkaniese mineraal wat met hitte uitgedy is om sy waterhouvermoë te verbeter. Dit sal nie agteruitgaan of volume verloor nie en verleen kalsium en magnesium aan die grond.

Fyn kompos verskaf voedingstowwe en voordelige mikrobes. Jy kan óf goed verteerde tuisgemaakte kompos sif óf sakke kompos koop, wat goedkoper is as sakke kommersiële potgrond.

Gekomposteerde fyn bas stel voedingstowwe vry namate dit vergaan, en help ook met dreinering. Dit kan as alternatief vir kompos gebruik word.

Growwe riviersand help met vogterughouding en dreinering.

Verkorrelde misstowwe verleen voedingstowwe aan die grond en daarom mettertyd aan die plantwortels, en staan bekend as stadig vrystellende misstowwe. Gebruik Atlantic Bio Ocean-misstof wat seewier, vismeel, humussuur en gekomposteerde hoendermis bevat.

Wurmkompos is tien keer voedsamer as kompos wat in die handel gekoop word. As jy nog nie ʼn wurmplaas het om wurmkompos van te oes nie, gebruik Efekto Wonder Vita-boost wat wurmkompos bevat.

Lees meer oor wurmkompos hier.

Potgrond Resep 1

  • 1 emmer palmveen
  • ½ emmer perliet
  • ½ emmer fyn kompos of fyn gekomposteerde bas
  • ½ emmer vermikuliet
  • 2 koppies riviersand
  • 2 koppies stadig vrystellende misstof

Meng alles saam. As dit te droog voel, klam dit liggies aan met ʼn gieter. Oorblywende grondmedium kan in ʼn blik met ʼn deksel op ʼn koel droë plek gebêre word.

Potgrond Resep 2

  • 1 deel palmveen
  • 1 deel vermikuliet of growwe riviersand
  • 2 dele fyn kompos
  • ½ – 1 koppie erdwurmmis of -kompos

Meng alles saam. As dit te droog voel, klam dit liggies aan met ʼn gieter. Oorblywende grondmedium kan in ʼn blik met ʼn deksel op ʼn koel droë plek gebêre word.

Hoekom nie tuingrond gebruik nie?

Hoewel gesifte en gesteriliseerde bogrond deel van ʼn swaarder potmedium kan wees, is dit nie raadsaam om net ʼn bietjie tuingrond uit te grawe en in ʼn pot te gebruik nie. Dit kan vol onkruidsaad wees, patogene en siektes bevat en swak dreineer (wat maak dat wortels versuip) en sal verdig raak.

-->
The Gardener