fbpx

Vier Blomme Vir Winterkleur

Read in English

Vier jaarplante met mooi kroonblare wat in saailingbakkies te koop is, kan vir pragtige laatwinter- en vroeglentekleur geplant word. Deur nou tyd op jou knieë deur te bring om hulle uit te plant, sal jou ʼn paar uur besig hou, maar ʼn paar weke later groot plesier verskaf.

Papawerbetowering

Komvormige enkelblomme van syagtige kroonblare sal liggies dans op dun harige stingels bo diepgelobde, donsige grysgroen blare. Geen skielike koue of miserabele weer sal hul skitterprag bederf nie, en hoe meer blomme jy pluk, hoe meer moedig jy hulle aan om weer te verskyn.

Hoewel die Yslandse papawer (Papaver nudicaule) as meerjarige veldblom geklassifiseer word, word dit gewoonlik as ʼn winter- en lentejaarplant gekweek, perfek om helder kleur te gee tussen rustende roosbosse, lenteblommende bolplante, as randakkerplante of as deel van ʼn snyblomtuin.

Papawer Plantnotas

  • Kies die sonnigste kol moontlik.
  • Verskaf goed dreinerende, komposverrykte grond.
  • Koop jong saailinge wat nog nie kleur wys nie en wees uiters versigtig as jy hulle uit die saailingbakkies uitdruk en oorplant omdat hulle baie delikate wortelstelsels het.
  • Hou die grond klam, maar moenie hulle oorbenat nie. Die beste is om op die grond nat te maak om te keer dat water op die blare en blomme beland.
  • Voed die blommende plante voortdurend vir ʼn langer blomtyd.
  • Verwyder gereeld dooie blomme om meer aan te moedig.
  • Pluk blomme vir die vaas sodra jy ʼn blos kleur sien, verkieslik soggens vroeg. Laat bly hulle ʼn paar uur in ʼn emmer diep water op ʼn koel plek voor jy hulle rangskik.

Papawers om voor uit te kyk

ʼn Goeie reeks om te beproef is ‘Champagne Bubbles’, met sterk stingels en bosagtige plante. Afsonderlike kleure sluit in ‘Orange’, ‘Pink Shades’, ‘Scarlet’, ‘White’, ‘Yellow’ en ‘Citrus Mix’ (met wit en geel blomme) of ‘Mix’.

Petunias Oral

Petunias het nie ʼn bepaalde seisoen nie en kan eintlik heeljaar geplant word. Dis egter in die koue en droë laat wintermaande wanneer ons so desperaat vir vrolike kleur is dat hul opgewekte blomgesiggies troos gee en nie deur tye van swaar somerreën of strawwe hitte ontsier word nie.

Mense in die winterreënstreke sal ʼn rukkie moet wag voor hulle hul petunias in die grond sit omdat swaar reën die blomme sal beskadig. Orals anders is dit egter die topseisoen om tuinbeddings, potte, hangmandjies en vensterbakke met hulle vol te maak.

Hoe om petunias te versorg:

  • Aangesien petunias langblommende jaarplante is, laat hulle sterk begin met goed gekomposteerde grond wat met beenmeel verryk is vir goeie wortelontwikkeling.
  • Plant hulle waar hulle minstens vyf uur sonlig per dag sal kry.
  • Beskerm jong saailinge teen slakke en naakslakke, en gebruik rypdoek as bedekking oor hulle as ryp verwag word.
  • Maak aanvanklik gereeld nat, maar slegs een maal per week sodra jy aktiewe groei sien – petunias hou glad nie van deurnat grond nie. Maak op die grond nat, nie oorhoofs nie.
  • Verwyder blare wat geel word onderom die plant om siekte te voorkom.
  • Verwyder dooie blomme gereeld om meer aan te moedig.
  • Voed maandeliks met ʼn vloeibare misstof.

Petunias om voor uit te kyk

Die petuniawêreld staan nooit stil nie. Hier is ʼn paar nuwe vrystellings om na uit te sien:

‘Limbo GP Series’ – In hierdie verbeterde reeks sal jy al die ou gunstelinge herken: die beaarde blomme, blomme met ʼn ander kleur randjie, kakelbont kleure en pastelskakerings, maar met die bykomende voordeel van beter prestasie. Die reeks het ingeteelde groeibeheergene wat van hulle plante maak wat van nature nie rek nie en kompak is – perfek vir tuinbeddings – en vinnig van weerskade herstel. Die menigte blomme is groot (10 – 13 cm)! Hoogte: 13 – 20 cm. Verspreiding: 20 – 30 cm. Nuut in hierdie reeks is ‘Limbo Blue Picotee’ met donkerpers blomgesiggies met ʼn wit randjie.

‘Amore Queen of Hearts’ en ‘Fiesta’ het verlede jaar ons harte verower met blomme wat getooi is met sterk, kontrasterende strepe wat vyf perfekte harte op elke blom vorm. Bykomend by hierdie reeks treffende petunias vir hangmandjies en patiopotte is ‘Amore Heart and Soul’ met tweekleurige goudgeel-maroen blomme. Hoogte: 25 – 30 cm. Verspreiding: 40 – 45 cm.

‘Hippy Chick Violet’ dra uniek gevormde golwende blomme in helderviooltjieblou met spierwit omraam. Grootte: 30 cm x 30 cm met ʼn ontspanne halfrankende groeiwyse.

‘Splash Dance’ skree dit uit met groot pers blomme met veelkleurige spikkels. Dit het ʼn geronde groeiwyse en kompakte grootte van ongeveer 30 cm by 30 cm.

‘Shock Wave Purple Tie Die’, met ʼn hoogte van 30 cm en verspreiding van tot 1 m, sal jou verlei met sy dieppers-wit kleurpatrone. Die perfekte keuse vir potte en hangmandjies.

Wys jou mooi gesiggie!

Kan enige ander blom op aarde skeppende telers sterker boei as die gesiggie? Gesiggies simboliseer “liefdevolle gevoelens”, wat beslis is wat alle tuiniers ervaar as hierdie bekende koelseisoengunsteling met sy oorvleuelende hartvormige kroonblare verkrygbaar raak vir ons om te plant. Die kleurkombinasies en patrone wat in die talle geteelde reekse te kry is, is eenvoudig puik en jy kan feitlik nie aan ʼn kleur dink wat nie deur die gesiggies verteenwoordig word nie.

Hoe om gesiggies te versorg:

  • Kry ʼn sonkolletjie met minstens ses uur sonlig in die winter, maar hou in gedagte dat hulle maande lank blom en ʼn bietjie skadu moet kry as dit weer somer word.
  • Berei die grond goed voor met volop kompos en ʼn stuifsel meerdoelige misstof.
  • Spasieer hulle sowat 20 cm uitmekaar en oppas om hulle nie te diep te plant nie. Elke saailing se kroon moet net bo die grond wees.
  • Maak jou bakkies kwekerygekweekte saailinge goed nat ʼn paar uur voor en dan weer na hulle uitgeplant is.
  • Maak die nuutgeplante saailinge elke drie tot vier dae nat om hulle te laat vestig. Maak sodra jy nuwe groei sien soggens vroeg in die winter ongeveer weekliks nat sodat die plante teen sononder kan droog wees. Maak gereelder nat as die weer skielik warm word.
  • Bemes tweeweekliks met ʼn wateroplosbare misstof vir blomproduksie om hul krag vol te hou.

Gesiggies om voor uit te kyk

‘Cool Wave’ is ʼn reeks wat ‘Blue Skies’, ‘Blueberry Swirl’, ‘Golden Yellow’, ‘Red Wing’, ‘Violet Wing’ en ‘Pastel Mix’ insluit. Hierdie groeikragtige topverkoperhandelsmerk het ʼn rankende groeiwyse wat tot 75 cm versprei. Dit is die perfekte keuse as grondbedekker of vir hangmandjies, potte en vensterbakke.

‘Frizzle Sizzle’ bied jou kartelende kroonblare in warm herfsskakerings, waaronder boergonje en oranje, met party blomme wat spog met mooi strepies, so kenmerkend van gesiggies. Hoogte 20 cm. Verspreiding 25 cm.

‘Matrix’ – in hierdie reeks kry jy elke kleurkombinasie waarvan jy kan droom. Dit is die perfekte beddinggesiggie om jou tuinbeddings mee vol te maak. Groot blomme word aan kort, sterk stingels gedra. Grootte: 20 cm x 25 cm.

LEES MEER: Hierdie treffende plante blom almal in die lente en is gereed om plesier te gee in jou lentetuin.

Pragtige Primula

Feetjieprimulas (Primula malacoides) hou regtig van die koeligheid en sal selfs midwinter begin blom na gelang van wanneer hulle in die grond gesit is. Die blomtyd kan tot Oktober duur. Die beste manier om met hulle te spog, is om hulle in ʼn massa in blomrandakkers te plant, maar hulle gaan ook uiters goed saam met lenteblommende bolplante soos affodille en met ander jaarplante soos viooltjies, gesiggies, floksies en Yslandse papawers in ‘n bonte mengsel.

Feetjieprimulas het ʼn delikate voorkoms met hul wollerige en getekstureerde blaarrosette en skraal blomstingels wat lae blomme met hartvormige kroonblare in skakerings van wit, roos, pienk, laventel, pers en boergonje dra. Koop hulle nou in saailingbakkies as ʼn mengsel van alle kleure of in afsonderlike skakerings.

Feetjieprimulas Plantnotas:

  • Feetjieprimulas verkies halftot volskadu – oggendson en namiddagskadu is perfek.
  • Die grondsoort is nie belangrik nie, maar moet goed dreineer en met kompos verryk word.
  • Spasieer plante 20 cm uitmekaar.
  • Jy kan verwag dat hulle ongeveer 20 tot 25 cm hoog sal word en 25 tot 30 cm sal versprei.
  • Begin voed tuinplante met ʼn wateroplosbare misstof sodra die eerste blomare begin ontwikkel.

LEES MEER: Leer hoe om tuinfeetjies te saai.

-->
The Gardener