fbpx

Gebruike vir herfs blare

Read in English

Afgevalde blare kan ʼn bietjie meer werk meebring, maar is gratis en maak goeie kompos of molm. Hier volg wat om te doen:

Maak ʼn deklaag

Hark afgevalde blare op die grasperk op ʼn hoop en stoot die grassnyer bo-oor met die lemme op hoog gestel. Maak seker die gras is droog. Tel die gesnyde blare op en gebruik as deklaag in jou tuin.

Maak ʼn sak vol blare

Kry vier houtpale en ʼn paar vuilgoedsakke bymekaar. Steek die vier pale in die grond in en sit ʼn vuilgoedsak oor die pale om ʼn “vuilgoedblik” te maak. Skakel die blaser aan of gryp die hark, maak die afgevalde blare bymekaar en gooi in die sak.

As die sak vol is, bind dit toe en maak nog een vol tot al die blare opgebruik of al jou sakke vol is. Bêre die sakke blare gedurende die winter op ʼn donker plek. Die blare sal tot lieflike kompos afbreek en in die lente en somer gereed wees om in die tuin te gebruik.

LEES MEER: Leer oor herfs se mooiste rose

Maak blaarmolm

Blaarmolm is ‘n waardevolle grondversorger as dit deur swamaktiwiteit tot kompos afbreek. Dit voeg humus by die grond en kan gesif en in tuisgemaakte potgrond gebruik word.

Belê in ‘n blaarblaser om al die gevalle herfsblare van harde oppervlaktes soos plaveisel en opritte te versamel. Gebruik dit in dun lae as deklaag om plante soos asaleas en rododendrons, voeg dit in dun lae by jou komposhoop, of maak behoorlike blaarmolm deur dit in plastieksakke, of in ‘n houtkis, of ‘n draadhok te stapel om te verrot.

Jy kan herfsblare van grasperke opsuig deur jou grassnyer met sy grasbak gekoppel, en met sy lemme hoër as gewoonlik gestel, te gebruik. Dit sal die blare versnipper wat die komposproses versnel.

Voorbereiding van tuinbeddings vir die lente

Beddings wat nie gedurende die winter gebruik word nie, kan vir die lente voorberei word deur volop kompos, mis en organiese materiaal soos blaarmolm in te werk en dan met ʼn blaardeklaag te bedek. As dit lente word, sal die bedding gereed wees vir die lenteaanplanting.

LEES MEER: Leer oor inheemse plante vir jou herfs- en wintertuin.

-->
The Gardener