fbpx
plectranthus

Plectranthus – Meesters van die skadu

Read in English

Nie veel plante kan skadu in ʼn feetjielandskap van fyn blommetjies omskep op ʼn tyd wanneer die meeste ander al uitgeblom is nie. Plectranthus doen presies dit!

As ons die herfsprag in Suid-Afrika se gematigde en subtropiese klimaatstreke met net een woord kan toelig, sal dit Plectranthus (spoorsalie) wees.

Die sowat 44 inheemse spesies van hierdie kruidagtige meerjariges is deel van die geurige mentfamilie, en wissel van grondbedekkers tot groot struike wat in die diep of spikkelskadu van bosbome aan die oostekant van die land aangetref word. Dan is daar ander spesies wat van buite ons grense kom asook spoggerige hibriede wat in kweekhuise geteel is waaroor ons ook dol is!

Plectranthus-plante hou van warm, klam toestande, en blom word aan die gang gesit deur kort daglengtes. Dit bring mee dat hierdie bekende tuinplante ʼn lieflike kleurvertoning van laatsomer, deur die herfs tot in die winter lewer.

Algemene kenmerke van Plectranthus

  • Onwelriekende geurtjies (wat nie vir almal onaangenaam is nie) ontsnap as die blare van sommige spesies fyngedruk word.
  • Vlak wortels: Sommige grondbedekkerspesies skiet spontaan wortel waar die knope met die grond in aanraking kom.
  • Blomare bestaan uit gespikkelde blomgesiggies in ʼn kleurreeks wat wit, pienk, blou, mauve en dieppers insluit.
  • Hulle verkies humusryke grond en gereelde natmaak, hoewel hulle bestand is teen droogtetye.
  • Hulle oorleef koue, maar word deur ryp beskadig – in sulke toestande kan party as baie oulike huisplante gekweek word.
  • Snoei hulle na blom in die midwinter goed terug om nuwe groei in die lente aan te moedig, en gee hulle daarna ʼn dosis algemene veeldoelige misstof. Snaaks genoeg hou hulle nie daarvan om gevoed te word terwyl hulle blom nie.

LEES MEER: Leer oor maniere om jou herfsblare te gebruik

Plectranthus ecklonii (groot spoorsalie)

Dit is ʼn groot, regop en vinnig groeiende struik van tot 3 m hoog wat nuttig is vir skadu of spikkelskadu in ruim beddings. Die groot en elliptiese blare is in teenoorstaande pare aan vierkantige stingels gerangskik.

Die vol blomare word in massas gedra en kleure kan wissel van pienk, pers of wit. Soos alle ander Plectranthus-spesies bewortel dit maklik van steggies wat in laatwinter of vroeglente gemaak word wanneer die plante met ongeveer die helfte van hul grootte teruggesny moet word. Kweek hulle in koue tuine met ryp in groot houers op ʼn beskutte plek soos in ʼn binnehof.

Plectranthus ciliatus (wimperspoorsalie)

Hierdie een groei met die grond langs, word ongeveer 60 cm hoog en dra baie mooi gekwilte blare wat dikwels boergonje tot dieppers aan die onderkant is. Die blaarrande sowel as die stingels het pers hare wat tot die volksnaam “wimperspoorsalie” gelei het. Die blomskerms is fyn met wit tot ligpers alleenstaande blomme en kan van September tot Mei verskyn.

Dit is ʼn gasheerplant vir talle klein insekbestuiwertjies asook verskeie inheemse skoenlapperspesies. As daar skielik gate in die blare van tuinplante gevreet is, verdra dié tydelike skade en moenie die plante spuit nie omdat jy hul ruspes kan doodmaak.

Die wimperspoorsalie is ook ʼn mooi keuse vir patiopotte en hangmandjies omdat dit pragtig sal neerhang. Knyp af en toe die groeipunte van die stingels uit vir ʼn digte voorkoms.

Plectranthus ciliatus ‘Sasha’

Dit is ʼn goudkleurige niggie van die wimpersalie. Die hibried het delikate wit blomare, maar word hoër aangeslaan vir sy pers stingels en goudgeel loof met hier en daar smaraggroen en brons merke. Te diep skadu kan die pragtige blaarkleur laat verdof, laat dit dus ʼn bietjie oggendson kry om dit effens warm te maak. Dis ʼn uitstekende keuse vir hangmandjies en sal ook binnenshuis goed groei in helder lig. Grootte sowat 30 x 40 cm.

Plectranthus ‘Mona Lavender’

Aangesien ons bevoordeel is wat plectranthusse betref, was dit nie lank voor Suid-Afrikaanse tuinboukundiges een van die bestes ter wêreld gekruisteel het nie, wat is hoe Plectranthus ‘Mona Lavender’ in die Kirstenbosch Botaniese Tuin ontstaan het. Gesonde oordeel en goeie bemarking deur ʼn internasionale broederskap het hierdie plant ʼn stewige vastrapplek in die wêreld gegee.

‘Mona Lavender’ is ʼn vinnig groeiende meerjarige van ongeveer 70 x 60 cm met ʼn netjiese geronde vorm. Die groeiwyse is dig en kompak met pers stingels wat bedek is met blink donkergroen blare met dieppers onderkante. Die oorvloed blomare is die kleur van laventel met donkerpers merke aan dun stingels bo die loof. ‘Mona Lavender’ verdra meer son as ander spoorsaliesoorte en blom ook afwisselend deur die jaar.

Plectranthus ‘Magic Mona’ Purple

Om nie oortref te word nie, het De Wet Plant Breeders Plectranthus ‘Magic Mona’ Purple vrygestel met veel groter, helderpers blomme wat gewaarborg is om bymagnete te wees. Albei hierdie pragtige en lonende plante kan op groot skaal in klein tuintjies met wisselende skadupatrone of in houers gebruik word.

Plectranthus chimanimaniensis

Hierdie een met sy uiters moeilik uitspreekbare naam het ʼn natuurlike vermoë om te oorleef in moeilike toestande wat wissel van koud en nat tot uiters warm en droog. Dit is ʼn immergroen struik wat 80 cm tot 1 m hoog word.

Die oorvloed delikate klein groen blaartjies ondersteun ʼn massa blomskerms wat in die lente begin blom en hul topkleurvertoning gedurende die herfs en vroegwinter bereik.

Van ver af vertoon die plante ʼn pragtige en egalige pienk waas in die tuin! Die alleenstaande blomme is sagpienk van kleur met die donkerder knoppe wat ontvou in delikate sagpienk vlerkies met ʼn sagte wit lip.

Coleus neochilus (rotstuinsalie)

Die sinoniem vir C. neochilus is Plectranthus neochilus, en ʼn mens kan die verskil tussen hierdie een en die ander plectranthusse sien deur na die blomme te kyk, wat vet, blou laventelagtige blomme is wat al met hulle op klein lila blommetjies dra wat aan vlerkies herinner. Dit lyk of hierdie plant nooit sonder sy blomme is nie!

Die ander onderskeidende kenmerk is die gewilligheid om te groei waar niks anders wil groei nie. Dit word vrylik gebruik as ʼn geil grondbedekker in kommersiële landskappe waar dit nie vertroetel word nie.

Dit verdra volson sowel as droë, diep skadu. Die geskulpte sukkulente blare het ʼn skerp reuk, en ek het gevind dat honde nie daarvan hou om daarop of daarnaby te lê nie. Daar word geglo dat hierdie plant slange kan verwilder en dit is ook ʼn lugsuiweraar.

Die plant is so taai dat onbewortelde steggies op die plek geplant kan word. As die grond ʼn rukkie klam gehou word, sal dit gou wortelskiet. As daar openinge in keermure is wat vergroen moet word, is dit die plant om te plant!

ʼn Rariteit is die bont vorm genaamd ‘Peppermint Cream’ wat as ʼn interessante potplant gekweek kan word op plekke wat gedurende die dag ʼn bietjie son kry.

LEES MEER: Leer oor retroplante waarvan ons steeds hou

Coleus argentatus

Dit is nog ʼn gewese plectranthus wat in die genus Coleus heringedeel is. Dit is afkomstig uit Queensland en Nieu-Suid-Wallis, Australië, en is ʼn groeikragtige struik van tot 1 m hoog met ʼn verspreiding van ongeveer 1,5 m wyd. Die groot fluwelige blare het ʼn saliegroen tot silwer kleur wat sy beste kenmerk is aangesien die fyn mauve tot wit blommetjies ʼn bietjie bleek is. Dit groei goed in die skadu, maar sal ook ʼn bietjie son verdra.

-->
The Gardener