
Braaikos Vir Kinders



Kinders is dikwels heel onder op die braaibeplanningslys, maar talle eetgoed kan in ʼn kits aanmekaargeslaan word om hulle bly te maak, en dit hoef nie rooi Weense worsies in broodrolletjies te wees nie.
Ons het ʼn paar pretresepte saamgestel wat ons weet kinders van sal hou, maar braaidag is dalk nie die dag vir gesond eet nie . . . Beproef ʼn paar van hulle vir jou volgende braai.
Kaas-en-ham-quesadillas met tuisgemaakte tamatiesous
Kinders verkies dikwels eenvoudige bestanddele wat hulle maklik kan herken. Dié quesadillas kan vroeg gemaak en die sous tot drie dae vooruit gemaak word.
- Voupakkies
- Kaas, gerasper
- Ham, gesny
- Roomkaas
Sit kaas en ham tussen twee voupakkies wat albei met roomkaas gesmeer is om die vulsel binne te hou. Voeg by enige varsgekapte kruie waarvan jou kinders hou. Plaas dit op ʼn braairooster en maak gaar tot die kaas gesmelt en albei kante goudbruin gebraai is. Sny soos pizza en dien op met tamatiesous.
Vars tamatiesous
- 2 blikke Italiaanse styl Roma-tamaties
- 1 eetlepel (1 pakkie) tamatiepasta
- 1 ui, fyngekap
- 2 knoffelhuisies, geskil en gekap
- ʼn Hand vol vars basilie, gekap
- Olyfolie
Gooi sowat 3 eetlepels olyfolie in ʼn kastrol en sit die ui by. Soteer 5 minute by lae hitte tot sag. Voeg die knoffel, tamaties en basilie by. Bedek en kook 30 minute. Maak die mengsel met ʼn stokmenger fyn en prut nog sowat 20 minute tot dik.
Smores-horinkies
- Suikerhorinkies
- Malvalekkers
- Frambose of aarbeie
- Sjokoladebrokkies
- Aluminiumfoelie
Stop die horinkies vol malvalekkers, frambose en sjokoladebrokkies. Draai die horinkies in foelie toe tot hulle heeltemal bedek is. Sit dit op die rooster en braai ʼn paar minute aan elke kant om die malvalekkers op te warm en te smelt.
Monte Christo-braaibroodjie
Hierdie vereenvoudigde weergawe van die Croque Monsieur-toebroodjie wat in Franse kafees voorgesit word, is ʼn pikante soet kombinasie waarvan kinders (en volwassenes) sal hou. Sit dit by op die braaibroodjielys vir jou volgende braai.
- Gesnyde brood
- Gesnyde ham
- Gesnyde kaas (wat tradisioneel met gruyèrekaas gemaak is, is dalk ʼn bietjie te sterk vir jong kinders, gebruik dus liewer gouda of cheddar)
- Dijonmosterd
- Frambooskonfyt
- Versiersuiker
- Botter
Maak die braaibroodjies met die botter, ham, kaas en mosterd. Sit dit op die rooster en braai ʼn paar minute aan elke kant tot die kaas gesmelt is. Bestuif met versiersuiker en sit voor met frambooskonfyt. Anders kan jy nog ʼn stap verder gaan en die broodjies vóór gaarmaak in geklitste eier doop soos vir Franse roosterbrood en dit dan op die rooster sit.



Pynappel-en-hoendersosaties
- 4 ontbeende hoenderborsies, in stukke gesny
- 1 pynappel, geskil en in stukke gesny
- Sosatiestokkies, 30 minute in water geweek
Marinade
- ½ koppie pynappelsap
- 2 eetlepels sojasous
- 2 eetlepels tamatiesous
- 2 eetlepels suiker
- 2 eetlepels suurlemoensap of asyn
- 4 eetlepels olyfolie
- Peper
Meng die bestanddele vir die marinade. Ryg die hoender en pynappel afwisselend op die sosatiestokkies. Laat dit minstens ʼn uur, of oornag, in die marinade week. Maak die sosaties op ʼn matige warm rooster gaar en draai gereeld totdat die hoender deurgaar is. Verf voortdurend marinade oor die sosaties terwyl jy dit gaarmaak.
Opmerking: Voeg vir volwassenes ʼn bietjie brandrissievlokkies by die marinade.
Vrugteslaaisuigysies
Somersuigysies kan by die afsonderlike smake van kieskeurige kinders (of kieskeurige volwassenes) aangepas word en ook al jou gunstelingvrugte insluit.
- ʼn Keuse van somervrugte – ons het kiwivrugte, aarbeie en bloubessies gebruik.
- Vrugtesap
Sny bloot elke vrugtestukkie baie dun, pak lae in ʼn suigysievorm en druk die vrugte na die kante van die vorm toe sodat hulle sigbaar is. Vul die vorm deur vrugtesap soos lietsjie of appel, of selfs limonade in te gooi en sit in die vrieskas tot bevrore.
Sjokolade-Rice Krispyhappies
- 4 koppies Rice Krispies
- 1 koppie droë klapper
- 250 g botter, gesmelt
- ½ koppie kakaopoeier
- 1 koppie versiersuiker
- Papierbakkies
Meng die botter, kakaopoeier en versiersuiker saam. Meng die Rice Krispies en klapper by tot dit goed bedek is. Skep lepels vol in die papierbakkies wat in ʼn muffinpan gesit is om hul vorm te behou. Laat dit ʼn uur in die yskas styf word.