fbpx
sea bass

Seebaars met knoffelbotter

Read in English

sea bass

Die Suid-Afrikaner Kobus Botha verower Parys stormenderhand. Hy het die braaikuns aan sy Franse landgenote bekend gestel by sy restaurant My Food, en vat dikwels die pad met sy doelgemaakte braaiers om die massas te voed. Kobus, ʼn voormalige rolprentregisseur, het sy eie braaitoerusting gemaak en sit vir die ingenome Parysenaars sy gunsteling Suid-Afrikaanse geregte voor soos boerewors, peri-peri-hoender, bobotie, chakalaka en malvapoeding saam met dranke soos rooibostee en tuisgemaakte gemmerbier. Sy nuwe boek, Le Braai, wat nie net ‘n verskeidenheid treffende resepte bevat nie, maar ook uitvoerige aanwysings oor hoe om ‘n behoorlike vuur te maak, die korrekte gaarmaaktye vir verskillende soorte vleis en inligting oor die kies van bestanddele, het onlangs verskyn. Le Braai is nie net ʼn versameling wonderlike resepte nie, maar vang die groter-as-lewensgroot-gees en unieke styl van Kobus vas.

Hier is ʼn uittreksel uit sy boek:

Seebaars met knoffelbotter

Seebaars is die Franse vis wat die meeste soos die Suid-Afrikaanse geelstert is wat ek gewoonlik gevang het terwyl ek by Agulhas gevryduik het. As daar vis oor is, is dit heerlik koud, weer opgewarm of in viskoekies.

Genoeg vir 4 tot 6

Bestanddele

  • 1 hele knoffelknol
  • 1 suurlemoen
  • 6 eetlepels botter
  • Seesout en gemaalde swartpeper
  • 1 heel seebaars, geelstert of geelbek (± 2 kg)

Metode

Sny die knoffelknol deur die middel in die helfte deur en sny die suurlemoen in dik skywe. Braai die knoffel en suurlemoen ʼn kort rukkie om die geure uit te bring. Sit dit in ʼn vuurvaste pan met die botter, sout en swartpeper, en laat die botter stadig smelt.

Om die vis te skoenlapper, sny met ʼn skerp mes van kop tot stert langs die ruggraat af, vlek dit oop en hou albei kante aan mekaar vas. Verwyder die binnegoed en kiewe. Spoel dit dan af en maak droog met papierhanddoeke. Lê die vis plat op ʼn toeklaprooster en sit dit met die vleiskant na onder op baie warm kole. Maak ongeveer 5 minute gaar totdat die vleis mooi bruin is. Versprei die kole om die hitte te verlaag. Draai die rooster om, maak die vis ongeveer 10 tot 15 minute op die velkant gaar en bestryk die vleis ʼn paar keer met die gegeurde botter.

Dien op met tamatieslaai en die ekstra knoffelbotter langsaan.

Le Braai word uitgegee deur Penguin Random House en is aanlyn beskikbaar by www.penguinrandomhouse.co.za of by jou plaaslike boekwinkel.

Volg Kobus Botha op Instagram en Facebook.

www.kobusbraai.com

-->
The Gardener