
Gekaramelliseerde primavarktjops met eiervrugte

Die Suid-Afrikaner Kobus Botha verower Parys stormenderhand. Hy het die braaikuns aan sy Franse landgenote bekend gestel by sy restaurant ‘My Food’, en vat dikwels die pad met sy doelgemaakte braaiers om die massas te voed. Kobus, ʼn voormalige rolprentregisseur, het sy eie braaitoerusting gemaak en sit vir die ingenome Parysenaars sy gunsteling Suid-Afrikaanse geregte voor soos boerewors, peri-peri-hoender, bobotie, chakalaka en malvapoeding saam met dranke soos rooibostee en tuisgemaakte gemmerbier. Sy nuwe boek, Le Braai, wat nie net ‘n verskeidenheid treffende resepte bevat nie, maar ook uitvoerige aanwysings oor hoe om ‘n behoorlike vuur te maak, die korrekte gaarmaaktye vir verskillende soorte vleis en inligting oor die kies van bestanddele, het onlangs verskyn. Le Braai is nie net ʼn versameling wonderlike resepte nie, maar vang die groter-as-lewensgroot-gees en unieke styl van Kobus vas.
Hier is ʼn uittreksel uit sy boek:
Gekaramelliseerde primavarktjops met eiervrugte
Ek hou daarvan om primavarktjops te braai omdat hulle lekker groot en vleiserig is.
Genoeg vir 4
Bestanddele
- 2 – 4 eiervrugte, na gelang van die grootte
- 4 eetlepels vars uitgedrukte suurlemoensap
- 4 eetlepels sojasous
- 4 eetlepels balsemieke asyn
- 4 varklendetjops
- Seesout en gemaalde swartpeper
- Olyfolie
- Suurlemoenwiggies
Metode
Sit die heel eiervrugte op die braairooster, maak ongeveer 30 minute gaar en draai gereeld. Meng die suurlemoensap, sojasous en balsemieke asyn in ʼn klein kastrolletjie. Sit op die hitte en kook af totdat die sous stroperig raak.
Vryf die varktjops met sout en peper en bestryk met die warm sous. Sit die tjops op die rooster oor matige kole (as die kole te warm is, kan die sous brand).
Braai die tjops ongeveer 10 minute en draai gereeld om. (As die sap helder uitloop as jy hulle met ʼn mespunt steek, is hulle perfek. Moenie die tjops te veel kook nie omdat die vleis kan uitdroog.)
Bedruip die tjops met die oorblywende sous. Sny die eiervrugte in die helfte deur, bedruip met olyfolie en ʼn paar druppels suurlemoensap en geur met sout en swartpeper na smaak.

Le Braai word uitgegee deur Penguin Random House en is aanlyn beskikbaar by www.penguinrandomhouse.co.za of by jou plaaslike boekwinkel.