Braaiskons met aarbeikonfyt en room
Verander jou braaier in ʼn oond en bak hierdie maklike skons.
Ons namiddagtee verskil ʼn bietjie van die teemaaltydkos wat op ʼn braaier gaargemaak is, maar dis steeds ewe lekker.
Teemaaltyd
Hierdie maaltyd wat in die middel van die 1700’s ontstaan het, was oorspronklik vir werkende mans bedoel en is staande of op hoë stoele bedien, vanwaar die woord “high” wat by “tea” gevoeg is. (Dit wil voorkom of die teemaaltyd die oorsprong van straatkos was.) Dit bedoeling is om die lang tyd tussen middag- en aandete te onderbreek en word tradisioneel teen drie- of vieruur voorgesit. Hierdie tradisionele maaltyd was tee wat saam met gebak, skons of selfs kaas-op-roosterbrood voorgesit is. Dit het later die genoeglike “High Tea” geraak wat bevoorregte dames en here in die laat 1800’s geniet het, en vandag is dit ʼn onthaal van mooi koeke en klein happies asook die gebruiklike komkommertoebroodjies.
Bestanddele:
- 2 koppies bruismeel
- 3 eetlepels strooisuiker
- ʼn Knypie sout
- 1 eier
- ½ koppie room
- ½ koppie melk
Metode:
Sif die meel, suiker en sout in ʼn bak. Verhit die melk en room in ʼn klein kastrolletjie tot net warm (nie kokend nie). Gooi die eier in ʼn bak, klits, en klits dan die warm roommelkmengsel by. Gooi die meeste in die bak met die meel in, maar hou ʼn paar eetlepels uit om oor die skons te borsel. Sny die vloeistof met ʼn bottermes in die meel in.
Sodra dit ingemeng is, druk die mengsel liggies met jou vingers aanmekaar – moenie te veel meng nie. Sit dit op ʼn meelbestrooide oppervlak en druk dit plat tot ongeveer 2 cm dik. Druk deegsirkels uit met ʼn koekiedrukker of ʼn glas wat in meel gedoop is. Sit dit op ʼn vel bakpapier in ʼn metaalbord. Laat die skons 10 minute effens rys en borsel dan met die oorblywende roommengsel.
Maak op die braaier gaar met die deksel op en maak seker die kole is onder die metaalbord verwyder. Bedek en bak 12 tot 15 minute tot deurgaar. Breek oop en sit voor met konfyt en room.
Genoeg vir 6.