Kook Met ‘n Soutblok
Die nuutste gier wat die fynproewerswêreld getref het, is kook met ʼn soutblok. ʼn Himalaja-kristalsoutblok verleen ʼn wonderlike geur aan die kos en hou ook gesondheidsvoordele in.
Die blok behou sy temperatuur ʼn tydjie as dit verhit is, en die hitteverspreiding is uitstekend. Soutblokke kan gebruik word by temperature wat wissel van -18 °C tot 370 °C, wat beslis warm genoeg is om ʼn goeie stuk biefstuk perfek te seël!
ʼn Mens sou dalk kon dink dat die kos te sout sal wees, maar die blokke is nie baie poreus nie en het baie min vog, dus gee die sout baie matige southeid. Die ekstra geur is afkomstig van minstens 80 spoorelemente wat in pienk Himalaja-sout aangetref word.
Dit is dié minerale wat ook dié soort sout gesonder as gewone sout maak en vir die pienk kleur verantwoordelik is. Himalajasout is onverfyn en word met die hand gemyn in grotte in die noorde van Pakistan.
Daar is ʼn paar kunsies aan die gebruik van die soutblok verbonde, lees dus verder voor jy dit sommer gebruik.
Opwarming
- Die soutblok moet nes ʼn potjiekospot of gietysterpan voorberei word. Wees veral versigtig die eerste paar keer dat jy die blok gebruik. Barse en krake kan aanvanklik verskyn en die kleur kan witter raak.
- Maak seker die blok is heeltemal droog.
- Begin by lae hitte. Die gulde reël is:.
- 20 minute op lae hitte;
- 20 minute op medium hitte;
- 20 minute op hoë hitte.
- As ʼn gasrooster gebruik word, sit jou blok bo-op en draai dit so laag as wat jy kan. Is dit ʼn houtskoolrooster, verskuif die kole na die een kant en sit die blok op die ander kant sodat daar minder direkte hitte is. Skuif na die eerste 20 minute ʼn paar kole terug en na nog 20 minute nog meer kole terug totdat die blok warm genoeg is om te gebruik.
- Toets of die blok reg is vir kook deur ʼn paar waterdruppels bo-op te sprinkel. As die water dadelik sissend verdamp, is die blok reg vir kook.
Versorging
- Laat rus die soutblok 24 uur voor dit weer gebruik word.
- Gebruik elke keer dieselfde kant vir kook.
- Wanneer klaar gekook is, laat die blok heeltemal afkoel.
- Gebruik so min water moontlik vir skoonmaak. Trouens, party mense beweer dat water hoegenaamd nie gebruik moet word nie. Hoe minder water gebruik word, hoe langer sal die blok hou. Sout het ook antimikrobiese eienskappe, dus is dit onnodig om skoon te maak. As jy met water wil skoonmaak, gebruik ʼn bietjie en skuur met ʼn sagte borsel om kos te verwyder. Maak onmiddellik droog met ʼn papierhanddoek of ʼn skoon droë vadoek.
- Bêre jou blok op ʼn droë plek. As jy in ʼn vogtige gebied woon, bêre dit toegedraai in ʼn handdoek in ʼn kas.
Wat om op ʼn soutblok te gaar te maak
Baie kosse kan op jou blok gaargemaak word, van seekos en groente tot vleise en eiers. Die sleutel is om iets gaar te maak wat nie lank gekook hoef te word nie. Hier is ʼn paar van ons gunstelingresepte:
Spek en eiers
Voer ʼn eenvoudige ontbyt van spek en eiers na ʼn nuwe vlak en maak dit op ʼn soutblok gaar.
Verhit die soutblok, sit die spek op en braai tot bros. Sny groot uie of brandrissieringe om die eiers in te sit. Gooi ʼn paar oopgebreekte eiers in die ringe op die blok, kook tot hulle gaar genoeg na jou smaak is en dien op.
Miso-salm met aspersies en geroosterde suurlemoen
2 stukke vars salm in mootjies van ongeveer
4 cm gesny
1 teelepel miso-smeer
8 vars aspersiespruite, die houterige stingels afgeknip
1 suurlemoen, in skywe gesny
ʼn Handvol koljander
½ rooi ui, dun gesny Olyfolie
½ klein kooltjie, in repies gesny
Dien op met 1 teelepel miso wat saam met 1 eetlepel botter gesmelt is.
Smeer die miso-smeer op die vellose kant van die salm en sit eenkant om in te trek. Maak slaai met die rooi ui wat in ʼn bietjie olyfolie gedoop is, die kool en koljanderblare. Verhit die soutblok tot sissend warm en sit die salm met die velkant na onder. Draai die salm om sodra die onderste helfte verkleur het en maak gaar aan die ander kant. Moenie te lank kook nie. Sit die aspersies by die salm op die blok en braai tot die buitekant swart maar dit steeds bros is. Sit die suurlemoenskywe langs die blok op ʼn warm rooster en braai tot die buitekant swart is. Gooi die miso-smeer oor die vis en sit voor saam met die slaai.
Genoeg vir 2 mense
Lendestuk met tamatie, mozzarella en basilie
Kies twee stukke 200 g lende of riboogbiefstuk met baie marmering vir geur
Olyfolie
Sap van 1 suurlemoen
2 tamaties, in 1 cm-skywe gesny
100 g mozzarella, in 1 cm-skywe gesny
Basilieblare
Vars gemaalde peper
Marineer die biefstuk in ʼn bietjie olyfolie, die sap van een suurlemoen en vars gemaalde swartpeper. Verhit die soutblok tot sissend warm en sit die biefstuk op. Sit die tamatieskywe langsaan, met ʼn skyf mozzarella en basilieblare bo-op. Braai die biefstuk na jou smaak en draai een maal om op die blok. Laat die vleis rus en sit voor met die tamatie en mozzarella-skywe.