fbpx
stokkies

Kos Op Stokkies

Om kos so in te ryg, is ‘n goeie manier om al die geure te vermeng.

Dit is waar dat die braai van vleis op ʼn stok al baie lank met ons is. Trouens, bewyse van die gebruik van stokke in prehistoriese tye, so ver terug as ongeveer 300 000 jaar gelede, is op argeologiese terreine gevind. ʼn Mens kan jou voorstel dat dit in ʼn nomadiese leefstyl ʼn natuurlike keuse sou wees om vleis in stukke te sny, vir preservering en geur te marineer, op stokke te steek en oor ʼn oop vuur gaar te maak.

Nou vinnig vorentoe na Middeleeuse tye. Daar word aangeneem dat Turkse soldate aanleiding gegee het tot die term “Shish Kebab” (“shish” wat “swaard” en “kebab” “om te braai” beteken) toe hulle vleis op hul swaarde gesteek en gebraai het.

Of dit nou ʼn sosatie, kebab of eenvoudig kos op ʼn stokkie is, word die gebruik van skerpgemaakte gereedskap vir kook in amper elke denkbare kultuur aangetref. In die Ooste is daar satay, in Frankryk brochettes, in Portugal espetadas en in Suid-Afrika sosaties, wat die Kaapse Maleiers ons gegee het. Wat jy dit ook al wil noem, gee die gaarmaak op stokkies op ʼn vuur ʼn heerlike brandgeur aan kos en help keer dat klein stukkies kos op die kole val.

Topwenke vir kos op ʼn stokkie

  • Marineer vleissosaties minstens 30 minute, maar verkieslike oornag.
  • Week bamboesstokkies minstens 30 minute in water voor gebruik om te keer dat dit op die vuur brand.
  • Hou stukkies vleis of seekos ewe groot as dit moontlik is sodat dit eweredig gaar word.
  • Moenie jou sosatiestokkies te dig pak nie.
  • Olie die rooster of spuit met silikoonsproei om vassit te voorkom.
  • As ʼn marinade gebruik word, bedruip die sosaties gereeld om dit klam en smaaklik te hou.

Stokbrood

  • 2 koppies meel
  • 2 teelepels bakpoeier
  • 2 teelepels suiker
  • ½ teelepel sout
  • 2 eetlepels botter
  • 1 eier
  • 75 ml melk
  • 5 eetlepels water

Meng die meel, bakpoeier, suiker en sout saam. Vryf die botter in. Meng die eier, melk en water en voeg by die mengsel om die deeg te maak. Laat dit 30 minute rus. Rol die deeg uit en sny in stroke van 20 mm x 300 mm. Draai dit om ʼn vleispen, maak die punte nat met ʼn bietjie water en druk vas. Braai tot gaar op ʼn matige warm vuur.

Garnaal en-wors-kebabs

  • 18 garnale, ontderm met nog hul sterte aan
  • 2 frankfurters, in 2 cm-stukkies gesny
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • Sap en skil van 2 suurlemoene
  • 1 teelepel brandrissie, gekap
  • 4 eetlepels olyfolie
  • ʼn Handvol pietersielie, gekap

Meng die knoffel, suurlemoensap en- skil, rissie en olyfolie vir die marinade. Ryg drie garnale per sosatiestokkie afwisselend met stukkies wors aan die stokkie. Marineer 20 minute. Braai alkante totdat die garnale gaar is. Genoeg vir 6 mense.

Lamsfrikkadelle en tamaties met witboontjiepuree

  • 500 g lamsmaalvleis
  • ʼn Handvol pietersielie, gekap
  • ʼn Handvol ment, gekap
  • ʼn Handvol grasuie, gekap
  • 1 teelepel rissiepoeier ½ koppie broodkrummels
  • 1 eier Sout en peper
  • 1 bakkie kersietamaties
  • 1 blik borlotti-bone, gedreineer en afgespoel
  • ʼn Titsie olyfolie
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • ʼn Skeutjie suurlemoensap
  • ½ teelepel rissiepoeier

Meng die maalvleis, kruie, rissiepoeier, sout, peper, broodkrummels en eier vir die frikkadelle en maak balletjies. Ryg dit afwisselend met kersietamaties aan stokkies. Meng die bone, olyfolie, knoffel, suurlemoen en rissiepoeier tot glad. Braai die kebabs by matige hitte tot gaar. Sit voor saam met die puree.

Eiervrugkebabs met balsemieke glanssous

  • 2 eiervrugte, oorlangs dun gesny
  • ½ koppie olyfolie
  • 2 eetlepels bruinsuiker
  • 2 eetlepels balsemieke asyn

Sit die gesnyde eiervrug in die olyfolie en bedek alkante goed. Steek die snye onsertinagewys op die sosatiestokkies en hou eenkant. Verhit die suiker en asyn en roer tot dik. Braai die sosaties ʼn paar minute aan elke kant. Bestryk met die glanssous terwyl dit nog baie warm is en dien op. Genoeg vir 6 mense.

Gedraaide spek met kersiesous

  • 2 pakkies streepspek
  • Vir die marinade
  • 1 blikkie kersies in stroop
  • 4 eetlepels worcestersous
  • 4 eetlepels sojasous
  • 2 brandrissies, gekap
  • 4 eetlepels suurlemoensap
  • Sosatiestokkies
  • Maak ongeveer 14

Sit twee stukke spek opmekaar en draai om ʼn sosatiestokkie. Verhit die kersies met die stroop in ʼn kastrol en voeg al die ander bestanddele by vir die marinade. Kook 5 minute en meng tot glad. Laat afkoel, gooi oor die gedraaide spek en laat dit marineer. Sit op die braaier en maak gaar terwyl met die sous bedruip word.

Asiatiese bief-en-lemoenkebabs

  • 500 g riboogbiefstuk, in blokkies gesny (of gebruik jou gunstelingvleissnit in plaas van riboog)
  • Sap en skil van 2 lemoene
  • 2 lemoene, elk in 8 wiggies gesny
  • 125 ml hoisin-sous ½ teelepel rissievlokkies
  • 2 eetlepels olyfolie
  • ʼn Knippie sout en peper

Meng die lemoensap en- skil, hoisin-sous, rissievlokkies, olyfolie, sout en peper vir die vleismarinade. Marineer die vleisblokkies minstens ʼn uur.

Ryg die vleis afwisselend met lemoenwiggies op die sosatiestokkies. Braai die kebabs alkante tot gaar en bestryk met marinade terwyl dit gaar word. Genoeg vir 6 mense

Franseroosterbrood en aarbei-kebabs

  • 1 middelslag Franse brood
  • 1 bakkie aarbeie
  • 3 eiers
  • ½ koppie melk
  • ʼn Titsie vanielje-ekstrak
  • ʼn Strooisel kaneel Versiersuiker om op te dien

Sny die Franse brood in 2 cm-snye. Meng die eiers, melk, vanielje en kaneel en doop die brood in die mengsel. Ryg die brood en aarbeie afwisselend aan die sosatiestokkies. Braai op die braaier tot goudbruin en bros. Bestuif met versiersuiker en dien op. Genoeg vir 6 mense

Aartappelslaai op ʼn stokkie

  • 500 g klein aartappeltjies
  • 1 pakkie streepspek
  • 1 rooi ui
  • ½ koppie mayonnaise
  • ʼn Titsie worcestersous
  • Sout en peper
  • ʼn Handvol grasuie, gekap

Sny die rooi ui in kwarte en sit op ʼn bakplaat. Bak 30 minute tot deurgaar. Kook die aartappeltjies in die skil in soutwater tot gaar. Laat afkoel en ryg deurvleg met spek en gebraaide uieskywe op sosatiestokkies. Braai op die rooster totdat die spek gaar en bros is. Meng die mayonnaise, worcestersous, sout en peper en grasuie en dien op met die aartappels.

Vye en-heuning-kebabs met jogurt

  • 8 vye, gehalveer
  • 2 eetlepels heuning
  • 2 eetlepels bruinsuiker
  • 2 eetlepels water
  • ʼn Titsie vanielje-ekstrak
  • ½ koppie jogurt Ekstra heuning en vanielje na smaak

Ryg die vyehalwes aan die stokkies. Verhit die suiker, heuning water en vanielje saam. Bestryk die vye hiermee en braai tot goudbruin, wat sowat 3 tot 5 minute behoort te duur. Geur die jogurt met heuning en vanielje en dien op.

-->
The Gardener