fbpx

Lamsvleis met houtskoolroom

Read in English

Hierdie gereg het die lig gesien sodat ons warm kole in room kon sit om ʼn outentieke rokerige smaak te probeer kry. Ons het dit beproef en dit was regtig baie lekker. Trouens, dit was toe een van ons gunstelinggeregte van die jaar.

Die lamsvleis

Vir hierdie resep benodig jy 1½ kg lamlendetjops. Ons gunstelingslaghuis het heerlike Karoolamtjops wat ideaal vir dié resep is.

Marinade

  • 1 teelepel knoffel, fyngedruk
  • Sap van 2 suurlemoene
  • ʼn Handvol pietersielie, opgekap
  • 6 ansjovisfilette, gekap
  • ½ koppie goeie olyfolie

Meng die marinadebestanddele en sit die lamtjops in. Marineer oornag as dit moontlik is, anders minstens ʼn uur. Braai oor matige warm kole tot mooi bruin met die vet uitgebraai en die vleis binne steeds pienk en sappig.

Die Aartappels

ʼn Eenvoudige bykos by die lamsvleis, bros en krakerig, en sag en lig binne.

  • 700 g klein aartappeltjies, gehalveer
  • Olyfolie
  • ʼn Handvol roosmaryn, fyngekap
  • Soutvlokkies

Sit die aartappels op ʼn bakplaat met ʼn goeie skoot olyfolie by. Skud die aartappels heen en weer om met olie te bedek en strooi roosmaryn en sout oor. Bak 30 tot 40 minute in ʼn matige oond (180 °C) tot bros en bruin.

Die Houtskoolroom

Die opwindende deel van ons eksperiment was om ʼn bietjie hardekoolhout te brand om in ons room te gebruik om ʼn rokerige sous te maak. Ons het hardekool gebruik eerstens omdat dit baie warm brand, en tweedens omdat ons dit by ons room kon voeg sonder die moontlikheid dat dit iemand kon vergiftig.

Dit is moeilik om hardekool aan die brand te kry en dus is dit die beste om dit op die ou manier te doen met balle papier en baie fynhoutjies om die vuur aan te steek en aan die gang te hou totdat die groot, swaar stompe begin brand. Pak jou vuur vroeg aan omdat dit ʼn ruk duur vir die stompe om tot kole te verbrand. Die voordeel van die gebruik van dié hout is dat die vuur baie lank brand.

Voeg ʼn paar warm kole by 500 ml room vir die sous. Laat dit minstens 30 minute staan en giet dit dan deur ʼn fyn sif in ʼn kastrol in. Voeg twee teelepels asyn by en roer oor hitte tot dit verdik. Bedien met die lamsvleis en aartappels.

-->
The Gardener