Laventel-en-sitroengraskaaskoek
Jou gesaaide saad en geplante plante het mooi gegroei en nou het jy ʼn heerlike verskeidenheid kruie en blomme tot jou beskikking. Nou is dit tyd om dit te gebruik! Wat van hierdie dekadente ongebakte kaaskoek maak wat maklik is om te maak en oe’s en aa’s sal uitlok as jy dit tafel toe bring om jou volgende braai of patiopiekniek af te rond?
Soet en suurlemoengeurig met ʼn sweempie laventelblomnote en ʼn pragtige kleur.
Bestanddele:
300 g brosbroodkoekies
120 g botter, gesmelt
750 g roomkaas
1 blikkie (385 g) versoete kondensmelk
Sap van 1 suurlemoen
Pers en blou voedselkleursel
2 eetlepels laventelblomme
2 stingels sitroengras, baie fyn gekap
ʼn Knippie sout
Metode:
Druk die brosbroodkoekies fyn tot klein krummeltjies, maar nie poeier nie. Voeg die gesmelte botter by en roer tot goed gemeng. Voer ʼn losboomkoekpan met bakpapier uit en versprei die koekies oor die boom. Druk dit met die agterkant van ʼn lepel vas om ʼn gladde, gelyk kors te vorm. Verkoel tot die vulsel gereed is.
Gooi vir die vulsel die roomkaas in ʼn mengbak en klits tot glad. Voeg die kondensmelk by, meng dit stadig in en voeg dan die suurlemoensap en sout by. Gooi die voedselkleursel bietjie vir bietjie by tot dit ʼn sagte pers is. Roer die laventelblomme en sitroengras by vir stukkies geur terwyl die kaaskoek geëet word. Gooi uit op die kors, bedek en verkoel tot styf. Haal uit die losboomkoekpan uit en dien op.