Pikante Geroosterde Visplatbrode
Pikante vis is doodmaklik om te maak en so lekker. Net ʼn paar minute op die rooster en alles anders kan ruim vooruit gemaak word.
Vir Die Platbrode
- 2 koppies bruismeel
- 1 koppie gewone jogurt
- Water as ʼn sagte deeg gemaak moet word
- Sout
- 2 eetlepels olyfolie
- Na keuse – ʼn bietjie van die visspeserymengsel
Sif die meel in ʼn bak, voeg die jogurt en sout by, meng tot ʼn sagte deeg en voeg nog water by indien nodig. Knie 2 minute en sit dan eenkant vir 30 minute. Verdeel dit in ses balle en rol op ʼn meelbesprinkelde oppervlak uit. Sit op ʼn matige warm rooster en braai ʼn paar minute aan elke kant. Bestryk elkeen met olyfolie of met ʼn bietjie van die visspeserymengsel vir ekstra geur.
Wenk: Maak dit vooraf. Sit elkeen in ʼn pan vir ʼn paar minute aan elke kant om net gaar te word en sit dan op die rooster wanneer jy die vis gaarmaak.
Vir Die Pikante Geroosterde Vis
- Vars visfilette (met of sonder die vel)
- 1 teelepel gemaalde komyn
- 1 teelepel rissiepoeier
- 1 teelepel gemaalde koljander
- 1 teelepel sout
- ½ teelepel witpeper
- 4 eetlepels olyfolie
Meng die speserye met die olyfolie, sout en peper. Kerf effens in die vel of vleis van die vis in en vryf die hele vis met die speserymengsel. Laat staan dit minstens 30 minute voor dit op ʼn geoliede rooster op ʼn matige warm braaier gesit word. Maak ʼn paar minute aan elke kant gaar en maak seker dis net deurgaar, nie oorgaar nie. Haal van die hitte af en sit voor met die platbrode en bygeregte.
Vir Die Slaai
- 1 koppie kool, baie dun gesny
- ½ koppie vars vinkel, fyngesny
- ʼn Hand vol vars koljander
- ½ koppie mayonnaise
- ½ koppie jogurt
- Sap van ½ lemmetjie of suurlemoen
- Sout en peper
- Meng al die bestanddele saam en hou eenkant tot dit tyd is vir voorsit.
Ekstras
Avokado gesny
Lemmetjieof suurlemoenwiggies