fbpx

Prego-rolletjies met gerookte borsstuk

Read in English

Dit is amper ʼn bedrieër se manier om borsstuk te berook omdat dit ʼn hele paar uur duur om ʼn hele borsstuk te berook en gaar te maak. Deur dun gesnyde stukke borsstuk te gebruik, kry jy steeds die lieflike rokerige geur, maar binne ʼn breukdeel van die tyd.

Bestanddele

  • 3 snye borsstuk (ongeveer 600 g)
  • 1 teelepel knoffelpoeier
  • 1 teelepel paprika
  • 1 teelepel sumak
  • ¼ teelepel peri-peri
  • Portugese rolletjies
  • Kool, dun gesny om op te dien

Prego-sous

  • 200 g kersietamaties (laat die stingeltjies aan vir ʼn intenser tamatiegeur)
  • 4 suurlemoenskyfies
  • 1 ui, afgeskil en in kwarte gesny
  • 2 warm brandrissies
  • ʼn Strooisel paprika
  • 4 knoffelhuisies
  • ʼn Handvol pietersielie
  • Sout en peper
  • ʼn Bedruipsel olyfolie

Metode

Sit die tamaties, suurlemoen, ui, rissies en knoffel op ʼn bakplaat en bedruip met ʼn bietjie olyfolie. Bestuif met paprika, sout en peper en steek in ʼn warm oond (200 °C) vir ongeveer 25 minute. Haal die suurlemoen en tamatiestingels uit en sit die res in ʼn voedselverwerker. Verwerk tot gemeng. Gooi in ʼn braaipan en kook die sous af tot dit lekker dik is. Roer die vars pietersielie by.

Meng die speserye vir die borsstuk en vryf dit in die vleis in. Gooi ʼn laag saagsels onderin die roker en sit die borsstuk op die rakkie. Sit op die rooster en wag dat dit begin rook. Maak die deksel dig toe en rook 25 minute op lae hitte. Haal die borsstuk uit die roker en seël op die braaier vir ekstra geur. Sny en stel die rolletjies saam en skep die prego-sous op die borsstuk.  

-->
The Gardener