fbpx

Speserylamsburgers met raita en ui-bhajis

Read in English

Ons speserylamsburger is deur die Naga Delhi-dubbelspeserylamsburger met ui-bhajis van Baba G se Bhangra Burger by die Camden-mark geïnspireer. Hierdie geïnspireerde sjefs het die gewone burger na nuwe hoogtes gevoer met hul bygevoegde speserye en uiters smaaklike gebraaide uiehappies. Geniet dit!

Die burgerkoekies

  • 500 g lamsmaalvleis
  • 2 eetlepels vars gemmer, gerasper
  • 6 knoffelhuisies, gerasper
  • 1 groen brandrissie, fyngekap
  • 1 klein groen soetrissie, ontpit en fyngekap
  • 1 teelepel tamatiepasta
  • ¼ koppie panko-broodkrummels (of maak broodkrummels van 2 snye brood)
  • 1 klein uitjie, fyngekap
  • ʼn Hand vol vars koljander, fyngekap
  • 2 teelepels garam masala
  • 2 teelepels matige skerp kerriepoeier
  • 1 teelepel gemaalde komyn
  • 1 teelepel borrie
  • 1 teelepel sout

Meng al die bestanddele saam in ʼn bak en hou minstens een uur eenkant vir die speserye om te versmelt. In hierdie stadium kan jy dit bedek en oornag laat staan as dit geriefliker is. Verdeel die mengsel in ses en vorm burgerkoekies. Bedek elk met ʼn bietjie groenteolie en maak na jou smaak gaar oor ʼn matige warm vuur.

Vir die raita

  • ½ komkommer, gerasper
  • 1 teelepel sout
  • 200 g dik gewone jogurt
  • ¼ teelepel garam masala
  • ʼn Hand vol vars koljander, fyngekap

Sit die gerasperde komkommer in ʼn sif oor ʼn bak en strooi die sout oor. Laat dit 10 minute staan sodat die sout die vloeistof uit die komkommer uittrek en druk dan soveel vloeistof moontlik uit. Voeg die jogurt, garam masala en vars koljander by en meng goed. Sit in ʼn klein bakkie, bedek en laat bly in die yskas tot opdientyd. Net soos die burgervleiskoekies kan dit die vorige dag al gemaak word.

Vir die ui-bhajis

  • 1 groot ui, geskil, gehalveer en gesny
  • 100 g bruismeel
  • 1 teelepel garam masala
  • ʼn Knypie sout
  • ±200 ml koue water
  • Groenteolie vir gaarmaak

Meng die meel, garam masala en sout met genoeg water in ʼn bak om ʼn dik beslag te vorm. Meng die ui by. Verhit groenteolie in ʼn pan op die vuur tot rokerig. Sit lepelsvol van die uiebeslag in die warm olie, braai aan die een kant tot goudbruin en keer om om die ander kant kleur te gee. Dreineer op kombuispapier.

Om die burgers af te rond

  • 6 burgerbolletjies
  • Gekapte blaarslaai (na keuse)

Sny die bolletjies in die helfte deur en sit op die rooster om ʼn paar minute te skroei. Sit ʼn bietjie raita op die onderkant van die bolletjie, dan blaarslaai, die burgerkoekie en die ui-bhajis, sit nog raita bo-op en dan die bokant van die bolletjie. Sit onmiddellik voor.

Advertisements
The Gardener