Toebas Resep
Die meisies het besluit hulle kan ook ʼn braaier brandmaak en sommer uitstekend braai. In haar boek Girls on Fire doen Camilla Comins net mooi dit met haar eie spesiale flair by die braai. Die resepte is anders, prettig, soms gesond, en daar is iets vir almal, ook vir die kinders. Hier is ʼn uittreksel uit Girls on Fire:
Dit is ʼn bietjie morsig om te maak, maar kinders is dol daaroor. Dit is nogal hoe die Amerikaners hul geroosterde kaastoebroodjies maak, en ek het die voorliefde aangeleer om dit op die vuur gaar te maak toe ek as privaat sjef in die Verenigde State van Amerika gewerk het.
Girls on Fire word uitgegee deur Jacana Media en is beskikbaar by boekwinkels landswyd.
Bestanddele
- 12 snye witbrood vir toebroodjies
- Botter
- 60 ml mayonnaise
- 12 snye toebroodjieham
- 12 snye agurkies
- 500 ml gerasperde cheddarkaas
Metode
Smeer botter op elke sny brood. Draai die snye om en werk op die ongebotterde kant. Sit 5 ml (1 teelepel) mayonnaise op al die snye. Sit ʼn sny ham, twee snye agurkies en ʼn klomp cheddarkaas op ses van die snye. Maak die toebroodjies toe met die ander snye. Die botter is dus nou aan die buitekant van elke toeba.
Gebruik ʼn eierspaan om die toebas op die rooster te sit. Sodra dit begin gaar word, sal die smeltende kaas dit bymekaarhou sodat jy hulle redelik maklik kan omdraai. Die rokerige smaak saam met die kaas en ham is ongelooflik en ons vriende se kinders is dol daaroor.
Opmerking: Die agurkies en mayonnaise is opsioneel. Trouens, jy kan omtrent enigiets gebruik mits daar kaas in is om alles bymekaar te hou.