Treffende Mediterreense Groente
Jy kan altyd op ʼn goeie aartappelgebak staatmaak. As jy egter op soek is na iets wat ʼn bietjie anders (en effens gesonder) is, sal hierdie rokerige Mediterreense groente werk.
Bestanddele:
- 1 groot vingerskorsie
- 2 middelslag wortels
- 3 middelslag aartappels
- 1 groot rooiui
- 12 knoffelhuisies
- 8 takkies vars tiemie
- 1 teelepel paprika
- 2 eetlepels vars origanum
- Sout en peper
Metode
Sny die groente in stukke – sny die harde groente soos die wortels en aartappels kleiner as die sagte groente sodat die kooktyd dieselfde is. Sit in ʼn bak en bedruip met olyfolie. Meng die paprika, origanum, sout en peper apart in ʼn klein bakkie en strooi oor die groente. Skud tot dit egalig bedek is. Versprei die groente oor vier stukke aluminiumfoelie en sit drie stukke knoffel en twee takkies tiemie eweredig op elk. Draai die foelie dig toe en laat dit 25 tot 30 minute op die braaier gaar word tot die groente sag is.
Genoeg vir 4.
Advertisements