
Maak Jou Eie Biltongkas

Suid-Afrika se gunstelingversnapering kan met die regte gereedskap, die regte resep en ʼn bietjie droogtyd maklik tuis gemaak word. Dis nie moeilik om jou eie biltongkas te timmer wat vleis binne minder as ʼn week in heerlike biltong verander nie.
LEES MEER: Leer hoe om die perfekte biltong te maak.
Jy Het Nodig:
- Denneplanke met die volgende afmetings:
- 2 x 600 mm x 450 mm x 20 mm (agterkant en deur)
- 2 x 560 mm x 300 mm x 20 mm (sykante)
- 2 x 300 mm x 450 mm x 20 mm (bo- en onderkant)
- Houtgom
- 220 V-PC-waaier
- Ligpasstuk (na keuse)
- Gloeilamp
- 2 x skarniere
- 1 x knip
- 3,5 mm x 40 mm-houtskroewe
- 3 mm x 20 mm-skroewe
- 4 x plastiekontlugters
- 3 x 475 mm x 15 mm-koperpype
- 6 x 15 mm-koperentdoppe
- 2 x 1,5 m elektriese tweekernkoorde
- 2 x kragproppe
- S-hake (of draad)
- Supergom
Gereedskap:
Skuurder, potlood, maatband, verfkwas, 2 mm-, 6 mm- en 16 mm-boorpunt, 50 mm-silindersaag (of figuursaag), 105 mm-silindersaag (of figuursaag), koordlose boor en aandrywerboorpunt.


Stappe:
1. Boor gate in die agterkant en sykante soos op die diagramme aangetoon word.
2. Gom en skroef die bokant aan die twee sykante vas nadat jy loodsgate geboor het.
3. Draai die struktuur om en heg die onderkant met gom en skroewe aan die sykante vas nadat jy loodsgate geboor het.
4. Skuur die biltongkas sowel as die agterkant en deur af.
5. Boor loodsgate, en gom en skroef dan die agterkant aan die struktuur vas.
6. Skroef die plastiekontlugters oor die luggate aan die sykante vas.
7. Skroef die waaier aan die agterkant oor die 105 mm-gat vas. (Maak seker die waaier suig lug uit die kas uit en blaas dit nie in nie.) Bedraad die waaier met die kragprop.
8. Druk een stuk elektriese koord deur die 6 mm-gat aan die agterkant en bedraad die ligpasstuk. Skroef dit op sy plek in die kas vas. Bedraad die ligpasstuk met die kragprop.
9. Gly die koperpype deur die 16 mm-gate in die twee sykante in. Gebruik supergom om die entdoppe daaraan vas te gom.
10. Heg die deur met die skarniere aan die biltongkas vas. (Onthou om 20 mm-skroewe deur die sykante en 40 mm-skroewe in die kant van die deur in te draai. Boor eers loodsgate.)
11. Bring die knip aan die deur en kis aan om die deur toe te hou.
12. Verseël die binnekant van die kas met ʼn maklik skoonmaakbare verseëlmiddel soos Woodoc Water-Borne Marine.
13. Bring ʼn gloeilamp in die ligpasstuk aan. Gebruik ʼn outydse gloeilamp, nie ʼn LED nie. LED’s raak nie warm genoeg om die lug uit te droog en lugbeweging te veroorsaak nie.)











