
Bros Hoenderburgers Met Taai Brandrissiesous


Die kombinasie van die soutigheid van die hoender met die soetheid en dan die pikantheid van die brandrissiesous verhoog die smaak van die burger. Bros en klewerig, wat ʼn wenner!
Vir die hoenderburgers:
- 3-4 groot hoenderborsies, oorlangs in die helfte deurgesny vir dunner porsies.
- Groenteolie vir braai.
Marinade:
- 1 koppie karringmelk
- 1 knoffelhuisie, fyngedruk
- ½ teelepel sout
- ¼ teelepel witpeper
Meng al die bestanddele saam en sit die hoender in. Marineer minstens ʼn uur, verkieslik oornag.
Bedekking:
- 100 g bruismeel
- 1 teelepel sout
- 1 teelepel peper
- 1 teelepel gemengde gedroogde kruie
- 1 teelepel paprika
- 1 teelepel brandrissievlokkies
- 1 eier, geklits
Meng al die bestanddele behalwe die eier saam vir die bedekking. Doop die gemarineerde hoenderstukke in die eier en dan in die meelbedekking. Sit ʼn kastrol met groenteolie op ʼn warm vuur en laat die olie warm word. As dit lekker sissend warm is, sit die hoenderstukke in en braai tot goudbruin en deurgaar. Doop die stukke in klewerige brandrissiesous en stel die hoenderburgers saam.
Klewerige brandrissiesous:
- ½ teelepel vars gemmer, fyngerasper
- 2 eetlepels heuning
- 2 eetlepels bruinsuiker
- 2 eetlepels sojasous
- 1 eetlepel warm sous
Sit ʼn klein kastrolletjie op die warm rooster en sit al die bestanddele in. Laat kook, roer drie minute en hou eenkant om af te koel.
Om op te dien:
- Geroosterde rolletjies
- Gerasper cheddarkaas
- Blaarslaai
- Jalapeños vir ekstra byt