Jogurtplatbrood
Dit is Justin Bonello se vertroude platbroodresep vir op die vuur. Of jy nou asbrood (platbrood wat in die as van die vuur gebak word), op ʼn rooster of in ʼn gietysterpan bak, is dit so maklik dat enigiemand dit kan maak . . .
Bestanddele:
1 koppie Griekse jogurt
1½ koppie bruismeel + meer as dit nodig is
of
1 koppie Griekse jogurt
1½ koppie broodmeel + meer as dit nodig is
1½ teelepel bakpoeier
Metode:
As jy bruismeel gebruik, meng bloot die bestanddele saam tot jy ʼn lekker bal deeg het (moenie bekommerd wees as dit klewerig is nie). As jy broodmeel en bakpoeier gebruik, meng dit eers en voeg dan die jogurt by.
Knie die deeg ʼn minuut of twee op ʼn meelbestrooide oppervlak. As die deeg steeds te klewerig is, voeg nog meel by en hou aan met knie. Die deeg is reg as dit sy vorm behou en nie aan jou hande of die oppervlak vassit nie.
Verdeel die deeg in ses balle. Strooi ʼn bietjie meel op ʼn oppervlak en rol die platbrode in sirkels van ongeveer 0,5 cm dik uit.
Bak die platbrode in ʼn gietysterpan of op ʼn rooster oor matige kole tot dit gerys het, alkante met bruin kolle bedek is en deurgaar is.
Sit warm voor.