Lamsblad in die Griekse Styl
Van al die lamsnitte hou ons die meeste van die blad. Dit het die regte vet-, sening- en vleisbalans. ʼn Ontbeende lamsblad wat in die Griekse styl gemarineer is, oor perfekte kole gebraai, gesny en direk op ʼn houtbord met platbrood en tzatziki voorgesit word: lipleklekker.
Jy Het Nodig:
- 1 lamsblad, ontbeen
Vir die Kruievryfmiddel:
- 1 hand vol gedroogde origanum
- ½ hand vol klipsout
- 1 hand vol gerasperde knoffel
- Sap van 5 suurlemoene
Vir die Bedruipsous:
- 1 L suurlemoensap
- 1 hand vol gedroogde origanum
- 1 hand vol growwe sout
- 1 hand vol fyngedrukte knoffel
Maak Só:
Meng die kruievryfmiddelbestanddele, vryf die hele lamsblad daarmee, sit dan die blad in ʼn groot braaipan, bedek, sit in die yskas en laat oornag marineer.
Sodra die kole die volgende dag matig warm is, sit die vleis in ʼn toeklaprooster, braai dit stadig (ongeveer 45 minute) en bedruip voortdurend met die bedruipmarinade.
Die lam moet aan die buitekant perfek gekaramelliseer en binne pienk (maar nie rou nie) wees. As jy joune gaarder verkies (heiligskennis!), braai dit langer.
Laat die vleis ongeveer 10 minute staan voor dit gesny word, strooi dan ʼn knypie of twee growwe sout oor en gooi ʼn laaste skeutjie suurlemoensap oor om die gereg op te fris en die vetterigheid van die vleis ʼn bietjie te temper.
Sit voor met platbrood en tzatziki.
Meng vir die tzatziki die jogurt, gerasperde en gedreineerde komkommer, knoffel, sout en peper saam na smaak.